Padtoets: 2009 Chery Tiggo 1.6TX

‘n ernstige veeldoelwa uit China

My kollega Chris het ‘n jaar of twee gelede ‘n Chinese bakkie onder hande gehad en was baie beïndruk met die oorvloed van moderne “luukses” en ekstras wat by die prys ingesluit was. Nou was dit my beurt om my eerste Chinees te ervaar.

Laat ons nou maar eerlik wees; die Chinese is maar kort in Suid-Afrika en Namibië. Dieselfde het gegeld vir die Koreane en voor hulle die Japannese wat omtrent 1960 op die plaaslike toneel verskyn het. Sedertdien het die Oosterlinge hulle merk behoorlik gemaak.

Die klein Chery sedan met sy 800 cc enjin het plaaslik reeds sy staal getoon met ‘n uithouren in Gauteng toe hy sommer ‘n hele paar rekords opgestel het. Intussen het Chery se sjarmante veeldoelvoertuig, die Tiggo ook hier aangeland. Eers net met ‘n 2-liter enjin-weergawe wat in Mei 2008 bekendgestel is en nou ook ‘n goedkoper moedel met ‘n 1,6 liter enjin. En dis hom wat ons getoets het.

Die Tiggo 1.6-enjin is ‘n gemeenskaplike ontwikkeling van Chery in China en die Oostenrykse maatskappy AVL; Oos en Wes het toe uiteindelik bymekaar uitgekom. Vir die wat nog twyfel aan die Chinese se vermoë om enjins te bou, is die Europese betrokkenheid goeie nuus om die vrese te besweer. Boonop word die Chery deur die betroubare en lewenskragtige McCarthy-Groep ingevoer en ondersteun.

Die Tiggo het die regte voorkoms en die toetsmodel Chery Tiggo was toevallig ook ‘n diep “Cherry Rooi” kleur wat onmiddelik die indruk wek van styl en visueel goed vertoon. Verder wek die voorkoms, en die grondvryhoogte, die indruk dat die Tiggo ‘n vierwieltrek voertuig is; wat hy natuurlik nie is nie. Verder kom ‘n dakrak as standaardtoerusing op die Tiggo.

Die vraag was egter wat onder die byderwetse bakvorm aangaan.

Die afwerking van die Tiggo is op die oog af heel goed en daar is behalwe die radio/cd, die elektries-beheerde vensters rondom, lugreëling en die normale luukse eienskappe wat ons ‘n dekade of twee gelede as uitsonderlik beskou het. Niks fout wat al hierdie eienskappe betref nie. En dan natuurlik baie belangrik, die aanwesigheid van lugsakke vir ekstra veiligheid.

Die 1.6-liter enjin ontwikkel 80 kW teen  5 800 rpm en stel ‘n heel bruikbare 147 Nm beskikbaar teen 4 300 rpm. Dit beteken natuurlik dat die ratkas vryelik gebruik moet word omdat die wringkrag is regtig los kom kom teen relatief hoë enjintoere. Ouer of lui bestuurders mag nie heeltemal gelukkig wees hiermee nie. Maar daar is geen tekort aan krag by hierdie model nie. Onlangs op ‘n vinnige rit uit die Noordkaap uit, het ‘n Tiggo met ‘n stink spoed by my verby gekom en het almal in die motor vrolik gelyk in hierdie sjarmante veeldoeler. Ongelukkig het Chery Suid-Afrika nie verrigtingsyfers vir die 1,6 liter beskikbaar gestel nie. Soos Rolls Royce vroeër wat die voornemende koper op sy vraag meegedeel het. “voldoende”!

Op die pad het die Tiggo hom goed gedra; die vering is ferm maar soepel genoeg om nie stamperig te wees nie en om draaie het hy hom uitstekend gedra. McPherson stutte word voor gebruik en agter is daar spiraalvere wat op geleistawe rus. Die remme is rondom skywe en beskik oor ABS wat natuurlike verhoed dat die remme vasslaan in ‘n noodsituasie. Verder beskik hy ook oor elektroniese remverspreiding wat hom in lyn bring met die jongste Europese standaarde. Dit geld ook vir die uitlaatgas-norm wat in Europa geld.

Die Tiggo wat hier beskikbaar is, is oënskynlik dieselfde wat vir die Europese mark bestem is, behalwe vir die regterhandstuur. Maar iewers het daar met die omskakeling iets kleins by die manne met die witjasse verbygegaan: Die smukspieëltjie is aan die bestuurder se kant en die verstellingsmeganisme vir warm lug, draai verkeerd om. Maar dit is kinderspeletjies teenoor die omskakelingfoute wat van die voorste Duitse vervaardigers al gemaak het met motors wat hulle hier bemark het! (Iewers moet ‘n mens fout vind met ‘n voertuig anders word jy beskuldig van partydingheid).

Ons sou graag langer en verder, en veral grondpad, met die Tiggo wou ry maar die toetstydperk was te kort. Maar dit lyk of hy van daardie voertuie kan wees wat op Karoo grondpaaie in sy element gaan wees.

Die beste van alles is seker die prys van die 1.6 Tiggo; N$164 900. Met die hoë spesifikasie van toersuting, maak hom dit seker die mees beskostibare veeldoeler met ‘n byderwetse voorkoms. En dan is daar die gemoedsrus van ‘n 3-jaar of 100 000 km waarborg wat deur McCarthy onderskryf word. Nou sien ons net daarna uit om ook die top-van-die-reeks 2 liter-outomaties te toets.

Leave a Comment