Padtoets: 2010 Citroen C3

Vorentoe in die verlede!

Oor baie dekades het die meeste seuns/mans seker gedroom dat hulle ‘n vliegtuig of helikopter kon vlieg. Om daar onder die glaskoepel van die Alouette, Impala of Mirage die wêreld deur te kyk en die gevoel te kry dat die hemel net bokant jou kop is. 

Die naaste wat die meeste van ons in die vyftiger en sestigerjare daaraan gekom het, was in die klein Messerschmitt tweesitplek motortjies met wiele net groter as ‘n kruiwawiel s’n. Maar die Messerschmitt Tiger het destyds soos ‘n haas gehardloop en op Killarney heelwat van die vername manne en make in die skande gesteek.

Dit is die oupa’s (en ouma’s) van vandag wat die gevoel van vryheid onder ‘n Messerschmitt se glaskoepel ervaar het. Goeie nuus is dat hulle dit nou weer kan ervaar in ‘n motor wat honderd keer veiliger is en as ‘n aftree motor beskou kan word; of een vir die avontuurlike jong-generasie wat ook sprankel en vryheid soek. Die motor is die Citroën C3 wat oor ‘n glaskoepel beskik wat strek van die voorruit tot agter die bestuurder en ongehinderde uitsig gee.

Citroën kom al lang pad in Suid-Afrika en was seker dié een handelsmerk wat Franse kultuur op sy beste verteenwoordig het. Maar daar was oppe en affe vir die maatskappy totdat Peugeot tot sy redding gekom het. Dit is nou al ‘n hele klompie jare wat die Citroën onderstelle en enjins met sy moedermaatskappy deel.

Met die onlangse toetsmotor, die C3 met ‘n 1,6 liter enjin met wisselende tydverstelling wat 88 kW teen 6 000 rpm ontwikkel en 160 Nm teen 4 250 rpm beskikbaar stel, was dit of ek weer terug was by my 305 Peugeot. Die klank van die enjin was amper dieselfde maar dit was veral die kenmerkende geluid van die ratkas wat weer aangename herinneringe terug gebring het as ‘n man hom op die oop pad looi.

Verder is die suspensie ook tipies die van die Peugeot-Citroën groep; effens aan die sagte kant wat ons eerder as “soepel” sal beskou. Maar dit beteken nie dat hy om draaie gaan teleurstel nie; met die regte kombinasie van petrol gee en regte ratkeuse kan hy sy ding orentlik doen. Die koppelaaraksie is ook tipies van die voorwielaangedrewe Peugeots van ‘n vroeër tydperk omdat hy besonder hoog vat – hoewel die aksie baie lig is. Maar dit neem ‘n tydjie om weer in die regte modus te kom met die Fransman om hom na behore te waardeer. En dan het tyd mos ook geleer dat die Franse altyd dinge effens ander doen as die ander.

Die Citroën C3 maak ‘n sterk standpunt met sy stilering en laat ‘n mens dink aan ‘n klein hardekwas bulletjie. Maar die uitstaande kenmerk bly die glaskoepel en die gevoel van ruimte en vryheid wat alleen in heelwat groter en duurder motors gekry word. Maar vir diegene wat nie van al die glas hou in ‘n reënstorm nie, is dit goeie nuus dat die dakpaneel wel vorentoe geskuif kan word om soos ‘n gewone gesinsedan te lyk.

Binnekant is daar al die luukses wat ons as vanselfsprekend aanvaar in Europese motors; nie minder nie as ses lugsakke nie; klimaatbeheer en ‘n plasmaskerm wat ‘n waarskuwing gee dat dit tyd is om oor te skakel na ‘n hoër rat. Ook die radio-cd eenheid maak voorsieing vir die jongklomp se I-Pod en ander musiekmedia. Die kattebak neem ‘n volle 300 liter bagasie.

Tipies Frans is die gebruik van beide digitale en analoog instrumente in dieselfde konsole. Persoonlik is ek nie gek oor hierdie gedagte nie en sou ‘n verdeling in verskillende aparte panele beter gelyk het. En dan ook, soos alle Franse motors, is die “130”  op die snelheidsmeter beklemtoon omdat dit die snelheid is wat wettiglik op die Franse Autoroute gery mag word.

Die C3 1,6 kan volgens die vervaardigers 190 km/h op die oop pad behaal en van 0-100 km/h in 8,9 sekondes versnel. Die gemiddelde brandstofverbruik in die stad en langpad behoort net minder as 6 liter/ 100 km te wees.

Algehele indruk? Byderwets en vrolik met baie karakter! Die 1,6 liter model verkoop vir N$202 000 en kom volledig met ‘n 4-jaar 100 000 km dienslplan wat uitgawes tot brandstof en bande beperk. ‘n Goedkoper alternatief is die 1,4 C3 Vti model teen N$159 900. Die een wat ons nie bestuur het nie, maar my keuse sal wees, is die 1,4 liter turbodiesel teen N$199 900!

Leave a Comment