Padtoets: 2010 Suzuki SX4 4×4

Die prettige alternatief

Sodra mense uitvind dat jy ‘n motorjoernalis is, sal jy onmiddelik die volgende twee vrae moet beantwoord: Wat is die motor wat die grootste indruk op jou gemaak het en watter klein, bekostigbare motor kan jy aanbeveel?

Die eerste antwoord is ‘n 1934 Rolls-Royce 20/25 met Hooper bakwerk, en die tweede antwoord maak nie saak nie, omdat hulle in elk geval ‘n Yaris of Polo sal koop. As ek ‘n Rand gehad het vir elke keer dat ek die uitstekende Honda Jazz of fantastiese Suzuki Swift bó die betroubare maar alledaagse VW of Toyota genoem het, sou ek nou ten minste N$10 ryker wees.

Die Jazz word dikwels vir sy voorkoms gestraf (wat?!?) en die Suzuki met opmerkings soos “bou hulle motors?” Ja, baie goeies. Ek’s oortuig dat dié twee vervaardigers se ondervinding met motorfietse ook in hul klein en slim motors gesien kan word.

Dus het ek my tyd met die Suzuki Swift se vier-by-vier niggie SX4 baie geniet. Hy lyk soos ‘n groter en hoër weergawe van die oulike Swift, met swart plastiek en groot wiele wat hom doelgerig laat lyk. Ons toetsmotor se donkerblou metaalverf het dié elemente nie baie goed beklemtoon nie, dus sou ek persoonlik ‘n meer opwindinde kleur aanbeveel.

Die SX4 besit ‘n sleutellose sluitstelsel met knoppies op die voorste en agterdeur, wat die sleutel in jou sak herken en die deure outomaties sal oopsleut. Of toesluit, as hulle weer gedruk word. Die motor het ook ‘n voorgee sleutel op die stuurkolom wat slegs reageer as die regte sleutel naby is.

Die binnekant van die oulike Suzuki bevat materiaal en plastiek van bevredigende gehalte, asook toerusting wat sy 200-plus prys regverdig Die stuurwiel wys knoppies vir klank en spoedbeheer, terwyl die RDS radio / mp3 CD klankstelsel meer as genoeg klank kan produseer.

Die eenvoudige klimaatbeheer is maklik om te bedien en die SX4 se wit en blou instrumente lyk skoon en verstaanbaar met ‘n sentrale multi-funksie inligtingskerm. Alle vensters en spieëls word elektries bedien en die stuurwiel is verstelbaar vir lengte en hoogte.

Albei voorste sitplekke gedra hulself op ‘n soortgelyke manier en bied goeie ondersteuning en voubare armleunings. Die motor se kattebak is effens klein met 253 liter, maar die agterste bank vou in die gewone 60/40 skikking om 992 liter beskikbaar te stel. Daar’s ook ‘n groot geheime stoorplek en ‘n “Marie biskuitjie” spaarwiel.

Die SX4 lewer hope bestuurspret maar ek het een of twee klagtes. Die versneller se terugvoering is ongelukkig aan of af (100% of niks) wat parkeer en/of stadige ry ongemaklik maak. Die 40 liter brandstoftenk bied onaanvaarbare lae vul-afstande en die ratkas het soms geweier om vyfde rat maklik te vind.
Aan die blink kant was daar die 112kW (152pk) 16-klep-enjin wat die SX4 se 1 245 kg goeie en prettige verrigting gee. 190Nm se wringkrag laat gemaklike versnelling en verbysteek toe, net nie by snelweg-snelhede in die effens hoë sesde rat nie.

‘n Laer rat sal dadelik enige versnellings-probleme oplos, omdat die wakker 2-liter graag tot 6 500/min draai; wees net versigtig as jy ratte wissel omdat die versneller graag 300-of-so toere tot enige ratwisselinge byvoeg. Woep, woep, toerebeperker.

As mens meer soos ‘n volwassene bestuur sal die SX4 vir ‘n gemiddeld van 7.6 l/100km loodvry vra; ‘n syfer wat beslis moontlik is as die daaglikse roete ‘n snelweg bevat. Ons kon geen 0-100km/h metings vind nie, maar die vervaardiger se beweerde topsnelheid van 184km/h klink baie konserwatief; vermy net sesde rat.

Die SX4 se stuur is nie die skerpste gereedskap in die kissie nie, maar sy padvermoë en hantering is baie aanvaarbaar as mens die hoër swaartepunt en groter wiele oorweeg. Net soos sy ABS remme met EBD remverdeling; in alledaagse stadsverkeer sal mens nooit die SX4 se limiete of elektroniese veiligheidsstelsel kan kul nie.

Die 4WD model bied ook ‘n knoppie om tussen 2WD, Auto en 4WD te kies. Mens sal nie lae ratte of ‘n sluitbare ewenaar vind nie, maar die voertuig se ESP kloubeheer sal sy bes doen om traksie op sy 205/60R16 wiele te hou. Stofpaaie en veldry sal nie ‘n probleem vir die klein Suzi wees nie.

Kopers kan tussen drie modelle kies; ‘n 2-liter handrat 2WD vir N$209 500, ‘n 2-liter 2WD CVT outomatiese model vir N$224 500, en hierdie week se toets-slagoffer in die vorm van ‘n 2-liter 4WD handrat vir N$229 500.

SX4’s word verkoop met ‘n 3-jaar waarborg en ‘n 6-jaar / 90 000km diensplan met 15 000km diensintervalle. Hy is beskikbaar in agt kleure wat ongelukkig nie geel bevat nie; want dit is Suzuki se tradisionele motorfiets kleur. Nogal jammer.

Leave a Comment