Padtoets: 2015 KIA Soul

Nuwe Sielsaligheid!

Lesers gaan dink dat dit is godslasterlik om ‘n motor en ‘n siel in dieselfe asem te noem, motors kan immers nie siele hê nie. Maar daar is egter wel so-iets soos ‘n emosie wat ‘n mens kan ervaar, iets soos welsaligheid wat gepaard gaan met positiewe ervarings. Volgens ons roep die KIA Soul van hierdie emosies en gevoelens op! En dan die ander lewensles; moet nooit iemand op sy baadjie takseer nie!

Met die bekendstelling van die KIA Soul ‘n hele klompie jare gelede in 2008 was ons, volgens ons mening van estetika, verstom dat iemand so ‘n lelike motor kon ontwerp. En kon dink dat mense hom ooit sou koop. Die Chrysler PT Cruiser het presies dieselfde emosie uitgelok. Maar gelukkig verander ons estetiese waardes met tyd en kan selfs radikaal verander wanneer ‘n mens eers self agter die stuur sit en dinge rustig kan deurkyk. Ook as jy  suiwer na praktiese dinge kyk. Ook as jy dink dat námaak van die grootste komplimente is; daar is immers ‘n ander Oosterling by ons op die mark wat op ‘n haar soos die Soul lyk.

Die nuwe Soul op sy nuwe (groter) platform en nuwe bakpanele lyk baie soos die eerste model behalwe dat hy nou beter is met ‘n wye reeks van uitvoerings, onder andere ‘n turbodiesel – die model wat ons getoets het – wat vir baie plesierigheid gesorg het.

Hoekom plesiergheid? Dit is die voorkoms wat tel en hy word raakgesien! Hierdie aspek is belangrik vir byderwetse, alternatiewe  jongmense wat ‘n groeiende gesin het en vir wie spasie van eerste belang is want die stasiewa-agtige voorkoms maak nou meer ruimte beskikbaar (354 liter wat tot 994 liter groei met die sitplekke plat. En dan ook wat KIA beskryf as die eienaar se “vurige individualisme”.

Hierop kan ons net sê: Sela!

Aan die binnekant is alles nuut, van die instrumentasie tot die sleutellose aansit-afsit van die enjin en elektriese sitplekverstelling op die toetsmodel, ‘n hoë-gehalte klankstelsel met al die bykomstighede daarby en parkeersensors voor en agter, om enkeles te noem. Kontroles vir die klankstelsel kan vanaf die stuurwielkontroles beheer word. Klank, geraas en vibrasie vlakke is verder verlaag en die nuwe KIA laat ‘n gevoel van deeglike ingenieurswese en nuwe standaarde in die kleiner-motor groep. Saamgevat, die Soul gee die indruk van kwaliteit.

Die hart van “ons” Soul was die 1,6 liter turbodieselenjin wat 94 kW teen 4 000 rpm ontwikkel en 260 Nm teen 1 900 rpm beskikbaar stel. Hierdie enjin is aan ‘n sesgang outomatiese ratkas gekoppel wat soomloos versnel tot 177 km/h en die 0-100 km/h toets kan doen in 12,2 sekondes. Die ratkas het ook twee verstellings, een vir “sport” en ook die moontlikheid om self die ratte te verwissel. Die Soul was ook met 18’ wiele toegerus wat die wielnisse mooi volmaak en bydra tot ‘n meer sportiewe gevoel en verrigting.

Die bestuurder kan teen matige snelheid ‘n verbruik van tussen 6,5 en 7,5 liter/100 km as die krane nie te erg oopgedraai word nie.

Die suspensie is konvensioneel met McPherson-stutte voor en wringstawe agter. Laasgenoemde neem baie min spasie in beslag en vergroot die laairuimte. Kragstuur is elektries aangedrewe en bied goeie “gevoel” met die padoppervlakte. Hantering op die Gordonsbaai-Rooielspad bring die jeugdigheid en sportiwiteit in bestuurders van enige ouderdom na vore!

Die toetsmodel was vir behalwe die standaard ABS met skyfremme rondom, ook toegerus met elektroniese stabiliteitsbeheer en die baie handige wegtrekhulp teen skuinstes. Lugsakke voor en langs die kante is vanselfsprekend.

Wat kos hierdie sielsaligheid met sy tweekleur afwerking in harde Dollar? N$340 995. Iets goedkoper  met dieselfde voorkoms? Die diesel sonder die “ekstra’s” en handratkas gaan jou N$299 995 uit die sak jaag, maar hou moed, die petrolenjin weergawe is teen N$239 995 ‘n goeie kopie vir dié met ‘n minder rojale inkomste – en nog steeds ‘n hoogs individualistieste beeld wil uitstaal!

Laate nota: Die Soul kom met ‘n 4-jaar of 90 000 km plan om vooruit somme vir onderhoud te maak.

Leave a Comment