Spoedige Luuksheid
BMW noem hul nuwe 5-reeks die “Besigheids atleet”, iets waaroor ons effens gewonder toe ons enkele weke gelede die 520d getoets het. BMW kan vergelyk word met die ikoniese Apple iPhone.
Met elke modelreeks vergroot die motor en alhoewel dit die nuutste “retina display” en nuutste toestelle kan bevat, raak dit ietwat ongemaklik om in enige broeksak te dra (met die inagneming natuurlik dat mode ons broeke al stywer laat sit). So waarom sou BMW dan hierdie verwysing maak as die 5-reeks net al hoe groter raak? Wel, ons vraag is die afgelope week beantwoord toe ons die nuwe 540i (met N$300 000 se ekstra tegnologie) bestuur het.
Die 520d, waarmee ons ongeveer 800km gereis het, het ons baie verras, maar dan weer, dis ‘n BMW. Sag op die pad, genoeg krag om enigiets gemaklik verby te neem en ‘n wiegende skip wat enige passasier sal help om rustig te slaap. Om nie eens te praat van die uitmuntende 5.1 l /100km brandstof verbruik nie. Met 195 kW en 620 Nm teen baie lae revolusies (2000 – 2500 opm), was hierdie voertuig een van die beste vennote op die langpad.
Ons 540i was natuurlik toegerus met die volle tegnologiese pakket. Dit sluit in afstandbeheerde parkering, – verhitting, – inligting, 2 LED skerms vir die agterste passasiers, ‘n M-sport pakket met 20” wiele en ‘n Harman/Kardon klankstelsel, panoramiese sonpaneel, snelheidbeheer, baanhulp tot en met 210 km/h, LED hoof- en dagligte, rem- en baan wisselings hulp, sekerlik die beste gebarebeheer wat ons tot nog teëgekom het, 3D- en lugfoto kamera’s, sowel as talle ander veiligheidskomponente. ‘n Artikel op sy eie sal toegewy moet word vir aan al die opsionele ekstra’s wat wel op hierdie M-Sport pakket was.
Met al hierdie ekstra’s het dit ons wel laat wonder of die BMW 740i, teen N$500 000 duurder, wel nodig is. Die 740i is baie goed uiteengesit, maar is ook geneig om te groot te wees. Vir soveel minder kan mens dieselfde kry in ‘n baie meer praktiese voertuig.
Die 540i, met sy 3.0 liter, reguit 6 enjin, skop 250 kW (teen 5500 -6500 opm) en 450 Nm (teen 1380-5200 opm) uit. Gee die regtervoet oor aan gravitasie en daardie reguit 6-sylinder sal natuurlik prominent wees, maar nie oorverdowend nie. Soortgelyk was ons verbasing in terme van knap bergpas-draaie. Die 540i sukkel geensins om knap draaie teen spoed te neem nie en sal dit ook nie probeer om die mediese fonds uit te put soos ons vele ander agterwiel dryf BMW’s ken nie. Dit is hier waar BMW se 100kg detox goeie resultate lewer. Ons 0-100km/h het ook ‘n resultaat van 5.38 sekondes gelewer, ‘n indrukwekkende spoed. (Die 520d het die 100km/h merk gehaal in 7.83 sekondes).
Kyk gerus na ons Youtube videos:
BMW 540i:
BMW 520d:
Een van die struwelinge was wel om ‘n nuwe ‘foon’ of iPad deur midddel van Bluetooth aan die kar te koppel. Die eerste keer mag dit dalk ‘n tydjie neem om uit te vind. Die geheim: ‘n selfoon of iPad word nie gesien as ‘n “Bluetooth device” nie, maar eerder ‘n telefoon.
In terme van beenspasie mag die agterste ry dalk ook beperk wees indien ‘n lang person voor sou sit. Hierdie mag dalk die rede wees waarom die 7-reeks die beste opsie sal wees, maar teen N$500 000 is dit dalk bietjie duur. Die agterste ry LED-skerms kan ook nie maklik verstel word nie en mag dalk ‘n effense kopseer wees wanneer die son daarop reflekteer.
Nietemin, die digitale ring struktuur rondom die spoed en revolusie meters, behou die geskiedkundige ontwerp van BMW en bring nostalgie, dog moderniteit in.
Die 5-reeks se tegnologiese ekstra’s is merkwaardig om die minste te sê. Nie meer is die 5-reeks ontwerp vir die agterste passasier nie, maar dien dit ook nou as ‘n volwaardige bestuursvoertuig. Die uitstekende “gebaar beheer”, digitale spoed- en waarskuwings monitor, wat in die voorruit verskyn, sowel as die trurat/parkeer kamera’s, plaas die 5-reeks in ‘n klas van sy eie.
Na afloop van ons week in die 540i, het ons tot die besef gekom dat hierdie kar wel ‘n besigheids atleet is. Alhoewel die 540i ‘n-hou-in-die-rug’ vinniger is en die sensasie skep van skielike versnelling is die 520d egter die verkose ‘besigheids atleet’.
Nie net is die 520d ‘n vinnige voertuig in eie reg nie, maar is dit ook stiller, net so uitmuntend om skerp draaie, sowat N$200 000 goedkoper en meer brandstof ekonomies . Die 5-reeks, alhoewel dit groter is en ook vir die bestuurder plesier verskaf, bly uitermaat die voorloper van die eksklusiewe 7-reeks. Dus sal die 5-reeks teen N$990 000 hoofsaaklik aangekoop word om in rond gery te word, eerder as om self te bestuur.
BMW het dit egter baie goed reg gekry om ‘n uitmuntende tussenganger te skep, met uitstekende tegnolgie, wat gebruik kan word om stil en gemaklik rondbestuur te word, of om self bietjie sportief te wees agter die stuur.
Elk van die 5 reeks BMW’s kom uit met ‘n 5-jaar/100 000km diensplan.
Teks: Franco Theron
Foto’s: Galimoto Media