Die huiskat met die brul van ‘n leeu
Dit is deesdae geen geheim dat Ford aanhoudend probeer om kleiner en ligter enjins te produseer, wat meer kragtig en ekonomies is. Dit is dan juis om hierdie rede dat Ford sy Everest reeks skielik uitgebrei het van 2 na 8 modelle. Waar die Everest nou spog met drie 3.2 liter weergawe, bring dit ook terselfdertyd vyf 2.2 liter weergawes uit. Nie net is die Everest nou goedkoper nie, maar bied dit ook ‘n meer ekonomiese alternatief tot die dorser 3.2 liter.
So, ‘n kleiner enjin beteken outomaties ‘n afname in krag?
Wel ja, maar nie noodwendig ‘n reuse getal nie. Die 3.2 liter (outomaties) lewer 140 kW en 470 Nm. Die 2.2 XLS (handrat) lewer nie veel minder in terme van krag self nie. Met 115 kW (teen 3700 opm) en 382 Nm (tussen 1500 -2500 opm) is die nie die wakkerste enjin nie, maar is dit genoeg om die 6-spoed reus gemaklik aan te dryf. Van stilstand tot by 100 km /h sal 13.65 sekondes neem.
Belangriker is die vraag rondom die sleep van swaar gewigte soos sleepwaens en karavane. Dit is hier waar die verskil in krag die meeste gevoel sal word. Meeste van die voertuig se wringkrag word ontsluit in hoër revolusies en sal dus nie ‘n vinnige en gemaklike rit verskaf nie. ‘n Groter bekommernis mag dalk die brandstof rekening wees. Om hierdie rede word die 3.2 liter steeds verkies.
Tweedens blyk dit dat die 6-spoed ratkas ook effens sukkel. Gepas vir sport-luikrug voertuie, is ‘n harde ratkas wel gepas soos die bestuurder die ratte met mening deur die passe stoot. Dit is egter nie dieselfde behoefte in ‘n luukse sportnutsvoertuig soos die Everest nie. Hierdie is eintlik ironies, siende dat die ‘geharde’ Ranger bakkie, ‘n baie sagter en plesierige ratkas het.
Nie ‘n baie goeie begin vir die 2.2 Everest nie, maar wag, daar is meer…
Minder stoppe by die brandstof stasie…
Ons vorige toets met die 3.2 model het ‘n brandstofverbruik van net so oor die 10 l / 100 km gelewer. Alhoewel Ford aandui dat die 2.2 ‘n gemiddelde getal van 7.1 l / 100 km sal haal, het ons egter ‘n veel hoër 8.4 l / 100 km behaal (Gemengde stedelike paaie).
Hierdie mag dalk klink na ‘n hoë figuur, en ja, dit is veel meer as die gemiddelde klein luikrug, maar dit is steeds ‘n merkwaardige stap vorentoe vir so ‘n groot voertuig. Om die 80-liter tenk leeg te maak mag dalk die afstand vanaf Kaapstad na Kuruman behels.
‘n Langafstand Sportnutsvoertuig vir die hele gesin (en dalk familie)
Die bogenoemde stelling mag dalk net die sentrale fokus wees van die Everest 2.2 XLS. Een van die grootste verbeteringe op die vorige Everest model is die been-spasie in die derde ry (Ja, dis reg, die derde ry). In die vorige Everest, sou die derde ry net twee kinderstoeltjies of dalk vir Game of Thrones se Tyrion Lannister kon huisves.
Met die verdieping van die vloer bakwerk, sal kinders (onder 14) gemaklik kan sit. Met die derde ry platgevou sal die 2.2 XLS ‘n massiewe 2010 liter en 700 kg se bagasie kan neem (met nog 5 sitplekke in die voertuig beskikbaar).
Die Everest behou steeds die stylvolle Everest binneruim en alhoewel hierdie nie ‘n top-spesifikasie model is nie, het die 2.2 XLS steeds ‘n handige trurat kamera op die klein 4-duim skerm. Hierdie spesifieke model dra ook Ford se ikoniese SYNC sisteem, wat Radio /CD/ MP3, USB, Aux konneksie, Bluetooth en stem beheer.
Windlawaai mag dalk herkenbaar raak teen 120 km/h, maar hierdie is verstaanbaar siende dat die so ‘n reuse voertuig is. Suspensie is sag en gemaklik genoeg vir die lang teerpaaie op na Kuruman.
‘n Meer effektiewe opsie
Al het die 2.2 XLS sy probleme in terme van trekkrag en ‘n “ongemaklike” ratkas, neem die XLS wel die voortou met betrekking tot ‘n 7-sitplek, gemaklike en tegnologies gevorderde pakket vir ‘n “nie top-klas spesifikasie” voertuig. Ford het uitmuntende werk gedoen om so ‘n groot voertuig te kombineer met ‘n praktiese, dog kleiner en meer effektiewe enjin.
Indien die sleutels van die 2.2 XLS 4×4 in besit geneem wil word, sal dit omtrent 550,000 kos. Ongelukkig is daar ook nie ‘n 9de Everest opsie om ‘n 2.2 liter outomatiese 4×4 te kry nie, maar dit is ook nie noodwendig ‘n slegte ding nie.
Die 2.2 XLS en XLT het outomatiese weergawes, maar net in 2WD. Meeste van hierdie modelle kan vir onder die half-miljoen merk aangekoop word met net die XLT outomaties (2WD), wat effens meer kos. Dit bied egter ‘n goedkoper opsie as die 2.2 XLS 4×4.
Die 2.2 XLS 4×4 outomaties mag dalk ‘n nuwe moontlikheid vir Ford wees in die nabye toekoms, maar mag dalk ‘n onnodige ontwerp wees, afhangende van aanvraag. Vir ekstreme 4×4 sal die groter 3.2 liter steeds die beste opsie wees.
Die rede waarom ons die XLT outomaties 2WD (N$509,900) verkies, is heel eenvoudig. Geen ander vervaardiger verkoop tans so ‘n effektiewe (in terme van enjin kapasiteit en fisiese spasie) kombinasie teen so ‘n goeie prys nie. Die 2.2 XLT is ook die duurste (maar steeds relatief bekostigbare) 2.2, 2WD opsie en sal dus baie meer tegnologiese gerief inhou.
Laastens, die 2.2 liter reeks sal nie noodwendig as die beste beskou word vir die funksie om swaar gewigte te sleep of uiterste 4×4 roetes aan te pak nie. Vir hierdie doel word die 2WD 2.2 XLT (outomaties) gesien as die beste langpad opsie vir stedelike en plattelandse paaie.
Elk van die Everest modelle kom standaard met ‘n 4-jaar /120 000 km waarborg en 5-jaar / 100 000 km diens plan.