Padtoets: 2017 Land Rover Discovery TD6

Die beste 4×4 /SUV kombinasie nog?

Die naam ‘Discovery’ het ‘n sterk persoonlike konnotasie vir my. Nie te lank terug nie het ek as student die TD1 model deur die nat en modderige Cederberge geneem. Tot vandag bly dit een van my gunsteling herinneringe. ‘n Land Rover Discovery, met meer as 350 000km op die enjin, gemaklik op die pad, maar selfs meer op die rowwe grondpad van die Tankwa Karoo. 

Net so staan ek voor die splinternuwe TD6 model. Veel anders en baie meer modern as die boks model, wat ons 6 jaar gelede vol modder by my vriendin se ma afgelewer het.

Sal hierdie TD6 die trofee kan oorvat, of is hierdie maar eintlik net ‘n groot pad 4×4?

Van die oog af lyk die TD6 model baie meer gerond, die binne kajuit is uiters modern, en die grondhoogte lyk taamlik laag. Elk van hierdie skep ‘n verkeerdelike illusie. In terme van ryvlak, kan die kar se suspensiehoogte vanuit die kajuit beheer word, suspensie- en enjin funksies kan gekies word om die gemak en torque-distrubisie te verander, sowel as die hulp van 360 grade kamera’s wat kan help om in rowwe terein die bestuurder by te staan met die knap bewegings.

“Het hierdie kar ‘n USB-punt?”

Wel, ja. Nege om meer presies te wees…

Hierdie was een van die vrae, wat ons amper met elke voertuig kry, en die keer was dit beslis dieselfde.

Die nuwe Discovery huisves 9 USB punte regoor die kajuit, ‘n 10” LED streel paneel, 12 Volt laai geriewe, HDMI punte in die 1st en 2nd rye, sowel as klimaatbeheer in die voorste twee rye. Omtrent alles is gemeganiseerd en kan selfs vanaf die Android / IOS sisteme werk. Selfs om al die stoele plat te slaan. Vyf Isofix punte is ook beskikbaar en verhitte sitplekke vir elk van die 3 rye (‘n Eerste vir Suid Afrika en Namibië).

Indien die navigasiesisteem optel dat die bestuurder dalk laat kan wees vir ‘n vergadering, sal dit die nodige personeel automaties in kennis kan stel. Vlugte kan vanaf die Discovery gesoek word en die wêreld wye web kan ook besoek word (indien die voertuig nabye wifi lyne kan optel).

Gemak en prakties is die woorde, wat dadelik opgetel word met die TD6. Van masseer- sitplekke, tot 3 individuele LED skerms, het die Discovery ‘n ongelooflike klem hierop geplaas. ‘n Diep yskas in die middel van die twee voorste sitplekke sal ook help om 4X 500ml bottels koeldrank koud te hou.

Vanuit die kajuit kan die sleepwa-haak ook laat sak word, 2 sondakke oopgemaak word en na fantastiese kwaliteit musiek geluister word oor die Meridian klankstelsel.

Die tegnologiese innovasie in die nuwe Discovery is dalk te veel om oor te gesels in een kort artikel.

Spasie

Met dimensies van 2.2 meter breed, 1.8 meter hoog en bykans 5 meter lank, het persone in die tweede ry ongeveer 954mm se beenspasie. Die derde ry bied ongeveer 867mm se beenspasie. Met 7 volwassenses, wat gemaklik in elk van die drie rye kan sit, is ‘n kattebakruim van 1137 liter (agter die tweede ry sitplekke) nie verbasend nie. Slaan die tweede ry plat en ‘n kollosale 2406 liter sal beskikbaar wees.

Wat behels hierdie grootte in terme van kraglewering en brandstof effektiwiteit?

Ons het die Discovery in beide die stad en op die langpad/grondpaaie getoets. Met ‘n getal van 8.8 liter per 100km, is die syfer eintlik baie billik en bied dit beter resultate as baie ander SUV’s in die segment.

Met ‘n agt spoed (outomatiese ratkas), 190 kW (@ 1500 opm) en 600Nm (@ 4000 opm), versnel die Discovery baie gemaklik. Plaas dit oor na die Sport verstelling, en dit sal gemaklik enige vragmotor kan verbysteek sonder om noodwendig dieselfde skophou te gee as die veel vinniger Jaquar F-Pace. 0-100km/h word (met dieselfde enjin) in 8.1 sekondes afgehandel. Hierdie is sowat 1.7 sekondes stadiger as die 3.0L Turbo Diesel F-Pace.

Dit is wel hier belangrik om te besef dat die Discovery en F-Pace heeltemal teenoorgestelde funksies verrig.

Met 3500kg se trekkrag, kan die Discovery ook baie gemaklik die gewig sleep van ‘n nuwe “double cab” bakkie. Hier het Land Rover net nog meer van hul tyd en energie belê om hulpmiddels in te bring vir die vervoer van enige swaar gewigte.

Hoe is die 4×4?

Soos reeds genoem kan die grondvlakhoogte van binne die kajuit verander word. Met die draai van een enkele knop kan die suspensie en krag distribusie ook aangepas word vir gewone teerpad gemak, gras/grondpad/sneeu, modder, sand en laastens, klipperige terrein met “low-range”.

Verander die suspensie en rygemak na grondpad, en die Discovery beheer selfs beter as op gewone pad. Met traksiebeheer sal die voertuig ook veilig in een lyn bly en uitstekend help deur “torque-distribution”. Dit behels dat versnel en remkrag toegepas sal word op elke individuele wiel, soos dit op enige gegewe oomblik nodig is.

Ons het die voorspoed gehad van ‘n Wes-Kaapse reënbui en kon dus ook die “modder” funksie uittoets. Hoe verder die sentrale ‘knop’ draai vanaf die gewone pad funksie, hoe meer verbeter die gemak en kragverspreiding oor die onderstel.

‘n Hoë rygemak, 360 grade kameras, agterste differensiële en gemaklike en sagte lugsuspensie help dan natuurlik om enige rowwe terrein maklik uit te klim.

Alhoewel pryse teen R 989 918 begin en eindig by R 1,473,802 (R1,323,918 vir ons HSE Luukse Diesel model), is die Discovery entlik heel op dreef met die huidige mark.

Ons was in die afgelope tyd redelik bevoorreg om verskeie SUV’s te kon toets. Die Discovery kom op die oomblik as die duurste variant in, maar bied eintlik soveel meer. Die TD6 dien as ‘n klasleier in tegnologiese en veiligheid innovering, sowel as algehele gemak.

*Die Discovery word nuut verkoop met ‘n 3-jaar/100 000km waarborg en 5-jaar/100 000km diensplan.

Teks: Franco Theron
Foto’s: Galimoto Media

Leave a Comment