Padtoets: 2017 Renault Duster dCi (Outomaties)

Renault Duster vir stof en sand ……… en dan outomaties daarby!

Hoe méér ons Namibiers verstedelik, hoe groter word die behoefte om plekke te besoek waar daar stilte en rus is. Dit is dan ook so dat sulke rusplekke vir die gees juis die afgeleë plekke is wat nie met gewone motors bereik kan word nie; ‘n volwaardige 4×4 is hiervoor noodsaaklik.

Dan is daar ook die ander groep, gewoonlik jonger mense, wat glo dat hulle hul kinders by die skool met ‘n 4×4 moet aflaai omdat hulle dan gemaklik op die sypaadjie kan stilhou. En hoe groter, en hoe duurder hierdie skoolbussie kos, hoe beter.

Die Renault Duster, wat nou met ‘n sesgang-outomatiese ratkas toegerus is, is dié perd wat by die afgeleë plekke kan uitkom sonder dat die eienaar by die reserwebank moet inbreek om hom te bekostig.

Hoe kry Renault dit reg om so ‘n veelsydige voertuig so billik hier te bemark? Die antwoord is natuurlik dat die Duster sy oorsprong in Roemenië het waar die Dacia maatskappy vir jare lank al Renaults onder lisensie produseer het. Sommige van ons mag onthou hoe die Dacia sedan en stasiewa, wat soos die Renault 12 van toeka se dae gelyk het, hier bemark was. Om die minste daar oor te sê, dit was ‘n mislukking.

Sedertdien het sake drasties verander en is Dacia/Renault nou ‘n huishoudelike naam met ‘n goeie reputasie. Die kieskeurige Duitsers praat met groot lof van die twee produkte uit hierdie stal; die Duster en Sandero. Volgens die swaargewig motortydskrif Auto Motor und Sport vaar beide modelle onder die populêre keuses in Duitsland.

Ons kan met die Duitsers saamstem. Na heelwat ervaring met die Sandero, wat vir ‘n tyd lank ook hier gebou was, en nou met die Duster 4×4 turbodiesel outomatiese model wat ons getoets het, is Renault reg in die kol met hierdie modelle.

Renault maak daarop aanspraak dat die Duster ‘n taai voertuig is wat tuis voel op werklik rowwe terrein. Maar dit is nie die Spartaanse weergawe van ‘n outydse Army Jeep wat ons ouer geslag mee groot geword het nie. Die jongste elektroniese hulpmiddels wat die lewe soveel makliker maak is daar; die belangrikste is seker die 7-duim navigasiestelsel wat ook ‘n handige tru-kamera insluit om parkering te vergemaklik.

Ons het tydens die toetsperiode met die spitsmodel, die 1.5 dCi Dynamique 4×4  nie die kans gehad om berge te gaan klim of donga’s te deurkruis nie maar met die 210 mm grondvryhoogte, en sluitbare sentrale ewenaar, is die tegniese spesifikasies in die kol. Die rit op goeie en minder goeie teerpaaie was uitstekend met net genoeg fermheid van die suspensie om ten alle tye in beheer te voel, ook teen hoë snelheid. Dieselfde geld ook vir die grondpad gedeeltes.

Anders as die algemene neiging van vervaardigers van nutsvoertuie wat die bakvorm elke jaar of drie meer en meer vaartbelyn maak bly die Duster nog hoekig en kantig en het die vookoms van hoe ‘n regte veldvoertuig behoort te lyk. (Onthou u nog hoe die eerste generasie Freelander en Honda CR-V gelyk het? Talle vriende het al gesê dat hulle bitter graag een met lae kilometers sal wil koop want hulle hou van die vorm en die groter pakruimte van die “vierkantige” modelle).

‘n Nuwe toevoeging is die 16-duim swart allooi vellings, nuwe hoof- en agterligte en aluminiumkleur dakrame vir die montering van ‘n dakrak.

Ten spyte van sy, sê maar “ouer” voorkoms, het die Duster al die veiligheidstoerusting wat deesdae noodsaaklike bykomstighede is: ABS, EBA, vastrapbeheer, lugsakke voor en langs die kant en die belangrike ESP-stelsel wat die bestuurder se swak oordeelvermoë vanself regmaak!

Nog oulike hulpmiddels is die remhulp as daar teen ‘n opdraand weggetrek moet word en ook spoedbeheer om hoë boetes vry te spring!

Die Duster is verkrygbaar in twee weergawes wat toerusting betref; die Expression en Dynamique. Verder is daar natuurlik ook die keuse tussen 4×2 en 4×4 weergawes en die keuse tussen ‘n petrol of turbodiesel enjin.

Dit is veral die dieselenjin wat indruk maak. Renault beweer dat ‘n verbruik van so laag as 4,8 liter/100 km binne die bereik van die bestuurder moontlik is. Hierdie enjin, gekoppel aan die outomatiese ratkas, is die keuse wat ek self sal maak. Die 1.5 dCi Dynamique 4×4 80kW diesel, om sy volledige beskrywing te gee, sal u net oor N$ 300 000 uit die sak jaag.

Indien u wel van die bakvorm hou maar die prys is effens te hoog, is daar die Duster 1.6 petrolmodel Expression 4×2 wat 77kW ontwikkel en teen ongeveer N$ 250 000 beskikbaar is.

Om ‘n keuse uit die vyf modelle te maak moet die leser maar ‘n besoek by die naaste Renault handelaar aflê.

Die Duster geniet Renault se standaard waarborg van 5 jaar of 150 000 km en ‘n driejaar of 45 000 km diensplan. Diensintervalle is elke 15 000 km.

Lus vir ‘n naweek in die stilte van Ezelsbank? Die Duster is die een om jou daar te bring – en nogal outomaties!

1 thought on “Padtoets: 2017 Renault Duster dCi (Outomaties)”

Leave a Comment