Padtoets: 2018 Haval H6 C Luxury

Met ‘n Haval deur Trawal na Wallekraal!

Soos die Amerikaners se invloed in Afrika afneem, neem die Chinese s’n by die dag toe. Kyk maar na die nuwe treine, paaie en brûe in ons buurlande en nou ook motors op ons eie land se paaie. Dan praat ek nie eens van televisies en ander elektroniese toerusting nie.



Met die mooi blomme hierdie lente in Namakwaland was dit die ideale geleentheid om een van die beproefde Chinese op ons motormark onder die loep te neem; die Haval H6.

Met die eerste kyk is dit moeilik om hom te eien want op die oog af lyk hy soos een van die jongste ontwerpe uit Brittanje of Wes-Europa: Gladde lyne van voor, langs die kant en ook die agterkant. Verder word die prentjie afgerond met hoogs-in-die-mode allooiwiele wat die wielboë mooi vul. Met die hoë grondvryhoogte is hy nie te onderskei van ‘n 4X4 wat dubbeld sy prys kos nie. Behalwe dat die Haval natuurlik ‘n 4X2 is wat deur sy voorwiele aangedryf word.

Die toetsvoertuig het net op die regte tyd gekom. Met die Noorweegse weervoorspellers wat vir Kamieskroon ten minste een dag sonskyn voorspel het, het vyf afgetredenes na Blommeland vertrek om weer hulle jeugprentjies van gousblomme te verfris. Dit is hier waar die Haval se pluspunt lê; hy is ruim genoeg vir drie vrouens se bagasie sonder dat hulle vooraf planne gemaak het om af te spreek wat moet saamgaan en wat moet nie. Mans het natuurlik nie sulke probleme nie. Al vyf se (ruim) bagasie het gepas! Pluspunt!

Die Haval-reeks is natuurlik die passasiersreeks voertuie van die bakkie-makers, GWM. Dit verteenwoordig ook ‘n effens hoër marksektor as die meer gewone bakkie en handelsvoertuie en wat toerusting betref speel hy saam met die Europese en Japannese/Koreaanse maters. Alle  elektronika wat kan aan- en afgeskakel kan word is daar; vanaf USB-poorte tot Bloutandverbinding en sleutelvrye toegang en wegtrekbeheer teen opdraendes.

Met die groot wiele/bande van die H6 is die rit gemaklik en stabiel op beide grond en teerpad, selfs op erge sinkplaat en sandpaaie. Hoë spoed stabiliteit, met ‘n vol vrag mense en bagasie, is uitstekend en staan nie terug vir die Europeërs nie.

Die hart van die Haval is ‘n tweeliterenjin van 1 967 cc wat 140 kW ontwikkel en ‘n baie nuttige 310 Nm tussen 2 000 en 3 600 omwentelinge per minuut beskikbaar stel. Die enjin hoef dus nooit hard te werk nie wat op die lange duur ‘n groot pluspunt is. Die enjin het half ‘n ongeduldigheid in hom; as jy die versneller effens trap voel dit of hy wil wegvlieg! Gewone, afgetrede passasiers hou nie hiervan nie; jongeres wel.

Volgens Haval is die H6 in staat tot ‘n maksimum snelheid van 190 km/h en is die verbruik 9,8 l/100 km. Volgens ons berekening is dit miskien tussen 10 en 11 l/100 km met volle vrag en teen ‘n gemiddelde togsnelheid van 120 km/h. Vir ‘n model met ‘n outmatiese ratkas is die verbruik heel skaflik.

Daar is nog pluspunte soos die spaarwiel wat ‘n volgrootte band is en nie die plekspaar-Mariebeskuitjies wat tot eindelose probleme lei. Of sommige Duitse modelle wat glad geen spaarwiel saamgee nie. Of die LED-dagry ligte om jou meer sigbaar op die pad te maak. En dan al die lugsakke wat in ‘n ongeluk ‘n kwessie van lewe of dood kan beteken. Ook is daar ‘n handige tru-kamera as daar die slag “getru” moet word.

Wat ontbreek in hierdie gemaklike, bekostigbare en moderne toerwa? Satellietnavigasie sal ‘n handige toevoeging wees en kan gerus plek maak vir die snaakse nagliggies wat in rooi die motor se naam langs die voordeure op die grond uitstraal. So wat het ek nog nooit beleef nie; liewers dan net ‘n sagte rooi liggie – as dit dan rooi moet wees.

Hoewel die H6 oor ‘n 5-jaar/100 000 km waarborg beskik is daar nie ‘n diensplan by die prys ingesluit nie en sal die koper maar hieroor met die verkoopsman moet kibbel. Die prys is R369 900.

Naskrif: Iewers tussen die Namakwaland daisies het ‘n vrou uitgevra oor die Haval. Hulle het ‘n GWM bakkie op hul plaas en wou my mening oor hom hoor, die Haval H6 is op hulle kooplys!



Leave a Comment