Junie 2018 was ‘n uitstekende maand vir Toyota, met dié vervaardiger wat kop-en-skouers uitstaan bo enige ander vervaardiger in terme van verkope. Hierdie is wel te danke aan die Fortuner en Hilux se goeie verkoopsyfers, maar ook die van die veel luukser Prado reeks.
Die Land Cruiser Prado is nog altyd gesien as ‘n staatmaker in die mark met ‘n ontwerp wat goed verkoop, al volg dit meestal dieselfde ontwerp. Met relatiewe luukshede en drie rye sitplekke, word die Prado as die luukse, praktiese en veeldoenige voertuig gesien, wat goed vaar op die oop paaie, sowel as die meer growwer ekskursies.
Toyota het nou die reeks uitgebrei met hierdie vlagskip VX-L model, wat meer tegnologie behou en die luukshede van die voertuig uitbou. Hierdie sluit in uitstekende gemak binne die kajuit self, verhitte sitplekke, trippel klimaat beheer, elektries beheerde vensters (selfs in die derde ry), bloutand en USB konnektiwiteit en ‘n streelpaneel. Die VX-L sluit ook ‘n panoramiese sondak in.
In terme van veiligheid, sluit die VX-L ook ABS, EBD, remhulp, stabiliteits beheer, sleepwahulp, potensiële ongeluksvoorkoming, voetganger opmerking, spoedbeheer, baanwisseling-waarskuwings en outomatiese hoofligverstellings in.
Die 3.0 liter diesel skop ‘n skrale 120kW en 400Nm uit. Iets wat dadelik opgelet word met die stadige versnelling van die voertuig, maar ook te verstane is in terme van ‘n algehele gewig van 2.5 ton. Die nadeel hieraan verbonde is egter die swaar brandstofverbruik van 10 liter / 100km.
Hoewel die VX-L baie gemaklik is om te bestuur en ook min padgeraas deurlaat, is dit moeilik om die algehele ‘liggaamsrol’ van die voertuig mis te kyk. Hierdie verbeter egter sodra die voertuig op die grondpad geneem word, met die “Cruiser” wat sy reputasie goed gestand doen en seil oor die rowwer grondpaaie. Die ‘kruip’ funksie help ook selfs die nuutste 4×4 entoesias oor die klipperige en steil hoogtes.
Tweedens kom dit ook met vyf funksies, wat modder en sand, los klippe, “Mogul”, grondpad en klipperige terrein insluit. Met 215mm grondhoogte en genoeg suspensievoer, is die Prado natuurlik meer as gemaklik van die pad af.
Ter gevolgtrekking moet genoem word dat, alhoewel die Prado VX-L baie goed geprys is in die luukse groter-SUV mark en uiters gemaklik is vir die langpad, kan ons nie help om die tekortkoming aan bestuursinteraksie te noem nie.
Hoewel die sentrale streelpaneel opgegradeer is, is dit steeds moeilik beheerbaar, met die bestuurder se oog, wat redelik baie van die pad af geneem sal moet word. Die tekort aan effektiewe kraglewering maak dit ook moeilik om enige voertuie op die oop pad verby te steek en die brandstof ekonomie maak dit ook nie veel beter nie.
Ons kan nie help om na die realiteit van die Fortuner 2.8 D4D te kyk nie. Daar is ‘n baie goeie rede waarom hierdie voertuig so goed verkoop. Nie net kan die drie rye sitplekke passasiers huisves soos in die Prado nie, maar het dit ook dieselfde gemak en binneruim kwaliteit as die Prado. Dit alles, vir ongeveer R300 000 minder as die Prado VX-L.
Die Prado VX-L sal ‘n uitstekende voertuig kan wees, mits daar verbeteringe aangebring word aan die binneruim en verbruikersinteraksie. Daar moet onthou word dat die Toyota se verkoops punt die enjin is en die Prado se diensplan dui Toyota se selfvertroue in dié verband goed aan.
Die VX-L model kan teen R979 600 met ‘n drie-jaar / 100 000km waarborg en vyf-jaar / 90 000km diensplan aangekoop word.
Teks: Franco Theron
Foto’s: Galimoto Media
Greetings… Thanks a ⅼot for sharing!