Nuwe kar, minder kopsere
Die motor industrie is tans by ‘n geweldige keerpunt. Nie net raak enjins kleiner nie, maar verkies vele vervaardigers om ander alternatiewe tot brandstof te vind. Hierdie innoverende tegnologiese ontwikkelinge het geweldige voordele, dog ook nadele. So waar staan die nuwe Mazda 3 in hierdie opsig?
Nuwe, kleiner enjins is deesdae baie beter vir die omgewing, ligter op brandstof, en meer kragtig as destydse groter enjins. Die industrie kry dit reg om vinniger voertuie te ontwerp, sonder om die vulstasies noodwendig ryk te maak.

Hierdie kan egter steeds nadelig wees en jou as verbruiker baie geld uit die sak jaag. Hoewel minder aan petrol spandeer word, mag die aankoop van ‘n voertuig dalk duurder wees omdat die enjin produksie (met nuwe tegnologie) meer kos. Tweedens kan betroubaarheid ‘n rol speel met hierdie enjins.

Mazda het dus verkies om met hul nuwe voertuig dit veilig te speel. Ons toetsmodel, met ‘n 2.0 liter enjin, het verbasende goeie syfers op papier getoon. Nie net skop dit 121 kW en 210 Nm uit nie, maar word daar beloof dat net 5.9 liter per 100km (petrol) gebruik word.

Die prentjie draai egter sodra daar in diepte na hierdie syfers gekyk word. Die ses-spoed outomatiese voertuig lewer maksimum krag (kW) teen 6 000 opm en 4 000 opm vir die volle 210 Nm. Met ratwisseling, wat ook redelik traag is teen die steiltes, gebruik die nuwe Mazda 3 2.0 Astina Plus veel meer as die 5.9 liter per 100km (ons syfer het getrek rondom 8 liter per 100km).

Vanaf stilstand bereik die luikrug 100km/h in ‘n eeue lange 9.18 sekondes.
So nie ‘n ideale begin vir die Mazda 3 nie. Is dit die moeite werd om wel een te oorweeg?
Wel, ja. Ten spyte van die Mazda se sub-ideale kraglewering en trae ratwisseling, is dit nie ‘n slegte voertuig nie. Hoewel ons toetseenheid teen ‘n stywe R432 800 (drie jaar / onbepaalde afstand diensplan, ‘n drie jaar / onbepaalde afstand waarborg; en ‘n drie jaar/ onbepaalde afstand pad bystand) aangekoop kan word, is dit groot, goed tegerus, gemaklik en ‘n plesier op die langpad.

Die kajuit is ruim en stil, met baie min enjingeluide wat binnedring. Vir ‘n voertuig wat 1860 kg weeg, kan die stuurwiel maklik en lig hanteer word.

Die Astina Plus model kom ook standaard met LED hoofligte, dagligte, ‘n sondak, klimaatbeheer, spoedbeheer, ‘n digitale spoedmeter (glas paneel), ‘n streelpaneel (met bloutand, navigasie en foon konneksie), sowel as konnektiwiteit vir ‘n USB.

Tweedens het die voertuig ook sensors om te help met baanwisseling, sowel as blindekol waarskuwing. ‘n Handige trurat kamera is ook nie ‘n slegte standaard funksie nie.

Die Mazda 3 is ruim en gemaklik, met oorgenoeg beenspasie vir die voorste- en agterste passasiers. Die bagasieplek is ook goed met genoeg pakplek vir vier persone om die langpad aan te durf.

In die geheel gesien, is die Mazda 3 nie ‘n slegte voertuig nie en ‘n rustige keuse vir die langpad. Dit kan egter problematies word sodra die enjin minder lug kry op die hoëveld. Die voertuig se algehele gewig tel ook teen brandstofverbruik en knap draaie.

Met ‘n stywe aankoopprys is die Mazda 3 ook nie goedkoper as die turbo-aangedrewe kompetisie nie. Sou die vervaardiger ‘n verandering hier kon aanbring, sou die Mazda 3 ‘n uitmuntende voertuig wees vir alle omstandighede.