Padtoets: 2018 Mercedes-AMG C63S

‘n Dag vol adrenalien

Is jy dalk opsoek na adrenalien, ‘n permanente glimlag op jou gesig, of dalk net ‘n afskrikmiddel om die buurman se hond stil te maak? Wel, jy hoef beslis nie veel verder te kyk nie. Vir net bykans N$1.5 miljoen kan al hierdie wense vervul word.

Ek is onlangs toevertrou met Mercedes se splinternuwe AMG C63S. Alhoewel dit net vir ‘n skrale 24 uur was, was dit genoeg om my hele week op te helder en ‘n permanente glimlag op my gesig te plaas, soos ek die opwindende oomblikke herleef.



Gewoond aan die sagte ‘purr’ en ietwat rustiger geaardheid van die AMG E43 se V6, het hierdie geharde V8 4.0 liter bi-turbo my geweldig laat skrik met eerste druk van die enjinknop. Trap die regter pedaal liggies en die voertuig gee ‘n effense ruk, oorgehaal vir die aksie wat wag. Skakel die enjin verstellings oor na Sport + of Race en kanonskote laat die aarde onder jou effens vibreer.

Asof 350kW en 600Nm nie genoeg is vir die normale AMG C63 nie, kom die “S” weergawe uit met 375kW en 650Nm. O ja, dit is ook nodig om by te voeg dat al hierdie krag net deur die agterwiele gaan.

Moet dus nie verbaas wees as die ESP jou op die vingers tik sodra “swaartekrag” op die regter pedaal uitgeoefen word nie. In ‘Sport’ is hierdie egter beheersd en hou die elektroniese hulpmiddels jou nuwe speelding goed in toom.

In ‘comfort’ en met die uitlaatkleppe toe, kan die voertuig sag wees en gemaklik deur die sewe- spoedratkas op die oop pad hardloop, maar moet nie ‘n gemaklike c200 rit verwag nie. Die 19 duim wiele gee ‘n redelike harde rit. Nóg ‘n nadeel is die is brandstofverbruik. Met so ‘n aard-verskeurende brul moet verwag word dat die AMG C63S se brandstofverbruik nie gelyk sal breek met dié van ‘n 1.0 liter Smart nie.

In ‘n reguit lyn is dit ook ‘n gesukkel om ‘n goeie tyd op te stel, weens die voertuig se onvermoë om voldoende traksie op die pad te kry. Met ons 0-100 km/h toetse het ons ‘n tyd van 4.48 sekondes gekry.

Jou apteker sal wel goeie besigheid uit jou maak indien die voertuig om die baan geneem word. Met die regtervoet vol op die pedaal, sal die nekspiere aan die begin redelik vining moet aanpas om permanent 90-grade te draai.

Elk van hierdie punte opsy geskuif, is die Mercedes AMG C63S die mees brutale voertuig wat ek nog self bestuur het. Jou bure sal verseker klagtes indien en daar sal gesukkel word om op daardie belangrike besigheids vergaderings te fokus, maar die AMG C63S is verseker die een om na te kyk in die sportiewe sedan mark.

Daar is huidiglik min voertuie op die mark wat nog só baie pret verskaf.

Teks: Franco Theron 
Foto’s: Galimoto Media 



Leave a Comment