Die stilte van die nag word versteur
Ons het onlangs weer die Mercedes-Benz AMG E43 4 Matic getoets. Dié keer met 18 000 km op die spoedmeter. Aansienlik meer as toe ons die eerste toets gedoen het. Die vraag is dan: “Hoe het die AMG E43 verouder en is dit ‘n voertuig om elke dag mee te leef?”
Om die eerste vraag vinnig te beantwoord moet net genoem word dat 18 000km op die enjin dalk nie die maklikste afstand vir hierdie voertuig was nie. Sommige motorjoernaliste is ‘n interressante spesie en mag dalk sekere motors tot die uiterste toets. Die antwoord lê dalk in die “AMG” gedeelte in die voertuig se naam. Die AMG is nie sommer ‘n voertuig om net in die motorhuis te laat staan en elke Sondag vir ‘n 50km/h kusrit te neem nie.
Tóg laat hierdie spesifieke AMG dit wel toe. Die ‘normale’ AMG, soos een van my goeie spoedvraat- vriende genoem het, is een wat jou maklik kan bang maak en intimideer. AMG’s is gewoontlik bekend as rowwe en ombeskofte wesens, wat nie maklik kan afskakel en kalmeer nie.
Die E43 AMG is egter anders. In Eco, Comfort en Individual is hierdie v6 (twinturbo) enjin stil en hardloop dit baie laag (teen 1 800 opm) teen 120km/h. Hierdie is te danke aan die 9-spoed outomatiese ratkas. Die rit is steeds effens hard, maar dis te verwagte met sulke reuse 20-duim wiele. Tweedens is die brandstofverbruik dalk nie so goed soos die nuutste hibriede voertuig op die mark nie (10 l / 100km), maar wie sal besorgd wees oor brandstofverbruik as hulle ‘n AMG koop?
Soos ons egter deur die Kaapse stormwinde en reën gery het, het ons egter gevind dat hierdie kar geweldig kalmerend kan wees op die langpad. Neem egter iemand verby in Eco en jy sal bitter vining moet begin rem om nie die spoedgrens te oorskry nie.
Dit bring my by die volgende punt. Skakel die voertuig oor na “Sport” of “Sport +” en die hele houding van die voertuig verander. Steeds baie sagter as die skreeuende C43 AMG, het hierdie E43 ‘n redelik intimiderende klank met geweldige spoed. Van stilstand tot 100km/h (en met “flappy paddle” ratverwisseling) neem net ‘n skrale 4.43 sekondes! Dit is redelik verassend vir hierdie grootte voertuig. Die omgekeerde neem ook net 37.8 meter tot stilstand!
Verwarrend soos die “43” gedeelte van die voertuig se naam mag wees, is hierdie Mercedes eintlik ‘n 3-liter (2996cc) bi-turbo V6 met 295kW en 520Nm. Gepaard met AWD (4-Motion) is die voertuig ook baie rats op die pad en klou dit redelik vas aan die teer.
Om die aanvanklike vraag te beantwoord is daar ‘n paar opmerkings rakende die voertuig se veroudering. Oor die sentrale paneel is daar effense kraak geluide en die remme mag met tye klink of dit gekoppel is aan ‘n Metrorail treinwa (alhoewel dit steeds baie goed rem), maar hierdie is te verstane vir ‘n voertuig wat elke week baie hard gery is.
Teen R 1 170 000 is die E43 AMG ‘n eksklusiewe koop, maar bied dit gemak, sportvernuf en hope spasie. Dit kan gemaklik dien as ‘n familievoertuig sowel as die “nou-en-dan” se bevrediging van die regtervoet-sindroom.
Hoewel die binneruim baie goed toegerus is met ‘n kombinasie van “alcantara”- en leersitplekke (verhit), het die sentrale paneel ‘n sportiewe, dog ook gesofistikeerde ontwerp. Die panoramiese wye skerm, wat tot agter die stuurwiel in beweeg, Media, Navigasie en normale voertuigverstellings kan maklik langs die bestuurder se sitplek verander word. Ons moet byvoeg dat die voertuig ‘n redelike ingewikkelde informasiesisteem het. Tydens ons paar dae met die kar kon ons nie mooi die bloutand verstellings regkry nie, maar kry dit één keer reg en jy behooort beslis nie weer daarná te sukkel nie.
Ten slotte kan gesê word dat die AMG E43 eintlik ‘n goeie kombinasie is van sport en plesier, met oorgenoeg beenspasie en pakplek, sowel as stil en gemaklike ryvernuf (vir daardie Sondagritte) -behalwe vir die 20-duim wiele. As hierdie jou pla, sal ‘n C200 model dalk beter pas.
Terselfdertyd is die AMG 43 (alhoewel met ‘n kleiner enjin) ook ‘n stille monster met oorgenoeg krag en atletiese aard.
Teen ‘n prys van R1 170 000 (sonder opsies) is die Mercedes dalk effens duur, maar ‘n 2-jaar/onbeperkte afstand en 6-jaar/100 000km diensplan maak dit egter ietwat beter. Die AMG E43 is wel baie kompeterend in hierdie prys segment en bied redelike waarde.
Indien jy belangstel in ‘n V6 en subtiele eksklusiewe sports-sedan, mag hierdie dalk nét die een wees!
Teks: Franco Theron
Foto’s: Galimoto Media
Performance:
0-10km/h: 0,24 seconds
0-20km/h: 0,57 seconds
0-30km/h: 0,98 seconds
0-40km/h: 1,39 seconds
0-50km/h: 1,81 seconds
0-60km/h: 2,22 seconds
0-70km/h: 2,76 seconds
0-80km/h: 3,34 seconds
0-90km/h: 3,98 seconds
0-100km/h: 4,71 seconds
0-110km/h: 5,53 seconds
0-120km/h: 6,39 seconds
0-130km/h: 7,40 seconds
0-140km/h: 8,52 seconds
0-150km/h: 9,68 seconds
0-160km/h: 10,96 seconds
0-100m: 5,52 seconds @ 109,87km/h
0-200m: 8,39 seconds @ 139,14km/h
0-300m: 10,80 seconds @ 158,89km/h
0-400m: 12,97 seconds @ 172,57km/h
100-0km/h: 2,83 seconds @ 37,80 meters (once-off)
——————————-
0-10mph: 0,43 seconds
0-20mph: 1,07 seconds
0-30mph: 1,75 seconds
0-40mph: 2,46 seconds
0-50mph: 3,36 seconds
0-60mph: 4,46 seconds
0-70mph: 5,73 seconds
0-80mph: 7,27 seconds
0-90mph: 9,06 seconds
0-100mph: 11,12 seconds
1/4 mile: 13,02 seconds @ 107,39 mph
Maximum acceleration G-force: 0,90G
Altitude: 60m
All data captured by Racelogic® Performance Box