Padtoets: 2018 Nissan Navara 2.3 Dubbel kajuit LE outomaties

‘n Moeilike keuse

Dubbel kajuit bakkies is besig om die Suider-Afrikaanse mark ietwat op sy kop te draai. Nie net vermeerder die aankope van nuwe Sports nut voertuie nie, maar ook die aankope van bakkies vir private gebruik. Nie meer word die bakkie gesien as net ‘n werks voertuig nie, maar eerder ‘n “twee-vliee-met-een-klap” voertuig, wat ook as ‘n familie voertuig kan dien. Maar wil almal noodwendig 4×4 ry?



Dit is vir hierdie rede dat die aankope van 4×2 dubbelkajuit bakkies ook tans vermeerder en Nissan het dalk net die antwoord vir die aanvraag.

Vir ‘n week is ons toegerus met die 2.3 Turbodiesel (agterwiel aangedrewe) Nissan Navara. Hierdie was die LE spesifikasie, met die SE, wat intree as die meer bekostigbare model. Soos ‘n mede joernalis genoem het, is die Navara 2.3 LE 4×2 die perfekte voertuig om eksklusief te lyk, dog nie skaam te wees om in die veld deur die modder te stoot nie. Dit is presies waarvoor Nissan mik met hierdie Navara.

Met die LE model kom ‘n dakrak, 18 duim allooi wiele, elektriese sy spieeltjies, leer sitplekke, verhitte voor sitplekke, blindekol en trurat sensors, dubbel klimaat beheer, sleutellose toegang en elektroniese sitplekke. Die LE model word ook toegerus met ‘n streelpaneel, navigasie, spoedbeheer, sewe lugsakke, en outomatiese ligte.

Hoewel die binneruim van die Navara goed toegerus is en op sekere plekke, is daar ‘n tekort aan finale afwerking. Hierdie word veral aan die deure gevoel, waar die plastiek effe hol voel. Ons het ook baie gesukkel met bloutand en USB konnektiwiteit en die informasie stelsel kort ook tegnologie soos Apple CarPlay en Android Auto, iets wat selfs die nuwe Nissan Micra in het.

Ons het wel baie van die agterste beenruimte gehou.

Die vier silinder diesel enjin is ook een van die Navara LE 4×2 se voordele. Met 140kW en 450Nm (1500 – 2500 opm) verskaf die voertuig met oorgenoeg krag. Gepaard met die sewe spoed outomatiese ratkas sal die Navara gemaklik teen 120km/h teen 2000opm die pad aandurf. Pad- en wind geraas is ook heel stil vir so ‘n groot voertuig.

In terme van brandstof verbruik, doen die Navara uitstekend goed met ‘n gemiddeld van 8.2 liter /100km op ons roete. In vergelyking met die kompetisie is hierdie uitstekend goed.

‘n Nadeel met die 4×2 is dat dit egter nie noodwendig sulke harde werk as die 4×4 sal kan verrig nie. Dit sal instaat wees om 3.5 ton te sleep en sal 1030kg kan dra. Dit is steeds ‘n baie goeie syfer in vergelyking met die ander kompetisie.

Teen R556 900 (ses jaar /150 000km waarborg en drie jaar / 90 000km diensplan) is die Navara 4×2 2.3 LE wel nie oorweldigend duur nie.



Met klein verbeteringe in terme van die algehele kajuit afwerking, sowel as die informasie sisteem kan die Navara ‘n baie goeie uitstaander in die mark wees. Dit is die perfekte voertuig vir naweek familie ekskursies, sowel as om nog ‘n bietjie werk te kan handhaaf!

Teks: Franco Theron / Norman Nieder-Heitmann 
Foto’s: Galimoto Media 

Leave a Comment