Volkswagen se kunswerk
Na sy bekendstelling in 2018 het die splinternuwe Volkswagen Arteon die voertuigmark met ambisie aangegryp. Nie net lyk dit heeltemal anders as ander Volkswagens in die huidige lyn nie, maar is dit ook veel meer eksklusief, met etlike herinneringe aan die Passat, CC en selfs die Volkswagen Phaeton.
Die naam ‘Arteon’ is ‘n samestelling van die eksklusiewe “eon” of “an” klanke wat by ander modelle soos die Phaeton en selfs Touran of Tiguan gehoor word. Die ‘Art’ gedeelte is ‘n redelik voor-die-hand-liggende verwysing na kuns of ‘n meestersstuk.
Die Arteon is beslis ‘n meesterstuk. Nie net groter as die Passat en CC nie, maar ook met skerp, dog kunstige lyne om die voertuig te laat uitstaan. Meng dit met die R-line pakket, ‘n goue paneelkleur, 19-duim allooi wiele en die nuwe LED (streel) flikkerligte, en die Arteon het die krag om ander voertuie tot stilstand te bring en mense te laat staar.
Vele het gevra of die Arteon nie maar net die nuwe Jetta is nie. Hoewel dit goed geprys is vir die huidige mark, is die Arteon egter veel meer eksklusief aanmekaar gesit.
Tweedens het hierdie 2.0 (turbodiesel) Arteon toetsmotor geland met ‘n vol tenk diesel, wat ons 880km ver sou kon neem. Gedurende die week het ons presies besef waarom dit die geval is. Op ons 44km ekonomiese roete (stedelike en semi-hoofweg verkeer) het ons ‘n verbruik van 5.6 liter per 100km gekry. In die huidige ekonomie is dit uiters welkom.
Dié resultaat is te danke aan die turbodiesel enjin, wat 130kW (teen 4,000opm) en 350Nm (tussen 1,600 en 3,500opm) uitskop. Hoewel dit minder sportief is as die 206kW petrol weergawe, het die diesel ‘n veel sagter, gemakliker en brandstof-vriendeliker voorkoms. Op die oop pad loop Arteon baie sag teen 1,800opm (120km/h), te danke aan die ses-spoed DSG ratkas.
Genoeg van die enjin vir eers. Die aantrekkingspunt van hierdie voertuig is beslis die voorkoms. Nie net is die enjin kap gesak nie, maar het dit ook baie mooi aerodinamiese lyne. Loop rondom die voertuig en jy sal sien daardie lyne gaan reg rondom die paneel. Die enjinkap se paneel strek ook ietwat tot by die wielpanele. Hierdie was ook voorheen ‘n ontwerpstyl om voertuie meer eksklusief te laat voorkom en dit pas perfek by die Arteon se algehele ontwerp. Elk van die deure is ook raamloos.
Teen 4,862mm lengte, 1,871mm wyd en 1,427mm hoogte, is die Arteon ‘n redelike groot voertuig, hoewel dit glad nie so voel nie.
Binne is die Arteon geweldig gemaklik, met ons toetseenheid wat redelik goed toegerus was met die aktiewe informasiesisteem (agter die stuurwiel), verhitte sitplekke, ‘n panoramiese sondak, leer sitplekke, drie-sone klimaatbeheer en ‘n 9.2 duim streelpaneel (met gebarebeheer). In terme van veiligheid was dit ook toegerus met ‘n 360-grade trurat kamera, omringende beligting en draaiende voorligte (soos die stuur gedraai word).
Bykomend is natuurlik ook spoedbeheer en ‘n aktiewe enjin kap (wat lig as ‘n voorwerp getref word om die insittendes en die voorwerp te beskerm).
Hoewel die “Elegance” model ook aangekoop kan word vir R599,900, is ons “R-Line” as standaard toegerus met ‘n verhitte venster, chroom afwerking rondom die voertuig, ‘n subtiele swart drukvlek, elektriese (asook vouende) sy-spieeltjies en aluminium pedale. Elk van hierdie is standaard met die Arteon R-Line.
Ter afsluiting kan ons nie help om te noem dat Volkswagen een sentrale probleem vantevore met die Passat ook gehad het nie. Hoewel die Arteon ‘n uitstekende voertuig is, met die beste beenspasie in die segment, het baie kopers die motief om eerder na die Volkswagen-groep se meer eksklusiewe vervaardiger, of selfs die ander Duitse kompetisie te gaan.
Die Passat se verkope was nog nooit voorheen ‘n ware refleksie van hoe goed die voertuig was nie. Nou, met die Arteon, is ons hoop ook dat dieselfde spel nie die nuwe voertuig se verkope sal beinvloed nie.
Sou jy in die mark wees vir ‘n eksklusiewe sedan sal ons aanraai dat jy eers by die Volkswagen skoukamer ‘n draai gaan maak. Die Arteon het beslis ons voete onder ons uitgeslaan.
Nog meer merkwaardig is die prys. Teen R649,900 kan die Arteon TDI (met R-line stylering) aangeskaf word. Dit sal ook met ‘n vyf-jaar / 90,000km diensplan, drie-jaar / 120,000km waarborg en ‘n 12-jaar anti-roes waarborg kom.
*Laaste gedagte: Die Arteon moet beslis nie misgekyk word in die eksklusiewe sedan mark nie. Nie net het dit eersteklas beenspasie nie, maar het dit ook ‘n ongelooflike bagasievolume. Die Arteon is beslis ‘n voorloper!
Teks: Franco Theron
Foto’s: Galimoto Media
Performance:
0-10km/h: 0,44 seconds
0-20km/h: 1,04 seconds
0-30km/h: 1,75 seconds
0-40km/h: 2,38 seconds
0-50km/h: 3,02 seconds
0-60km/h: 3,81 seconds
0-70km/h: 4,81 seconds
0-80km/h: 5,90 seconds
0-90km/h: 7,04 seconds
0-100km/h: 8,40 seconds
0-110km/h: 10,05 seconds
0-120km/h: 11,81 seconds
0-130km/h: 13,67 seconds
0-140km/h: 15,82 seconds
0-150km/h: 18,52 seconds
0-160km/h: 21,67 seconds
0-100m: 6,96 seconds @ 89,31km/h
0-200m: 10,49 seconds @ 112,61km/h
0-300m: 13,47 seconds @ 129,01km/h
0-400m: 16,13 seconds @ 141,37km/h
100-0km/h: 2,85 seconds @ 37,40 metres (once-off)
Maximum deceleration G-force: 1,11G
——————————-
0-10mph: 0,81 seconds
0-20mph: 1,88 seconds
0-30mph: 2,89 seconds
0-40mph: 4,25 seconds
0-50mph: 5,95 seconds
0-60mph: 7,88 seconds
0-70mph: 10,50 seconds
0-80mph: 13,43 seconds
0-90mph: 17,03 seconds
0-100mph: 21,99 seconds
1/4 mile: 16,19 seconds @ 87,99 mph
Maximum acceleration G-force: 0,56G
Altitude: 60m
All data captured by Racelogic® Performance Box