Padtoets: 2019 Suzuki Swift GL 1.2 handrat

Suzuki Swift slaag laaste toets met vlieënde kleure

Oral in Suid Afrika se groot stede raak Suzuki’s gewilder, met die Japannese vervaardiger wat bykans elke nuwe maand hul eie rekord breek. Natuurlik is die klein Swift een van die hoofredes vir hierdie suksesverhaal en met ons onlangse besoek aan Johannesburg is dit weereens bewys waarom hierdie klein voertuig (met ‘n enorme persoonlikheid) so suksesvol is.

Met die nuwe Swift wat reeds meeste van die regmerkies behaal het met ons toetse langs die Oos- en Weskus, het ons beplan om die 1.2 Swift op die plato te toets om te sien of die natuurlike aangedrewe enjin uitasem sal raak.

Oppad vanaf die lughawe, na waar ons bloedrooi Swift GL opgelaai sou word, is my vraag reeds beantwoord. Hoewel die Swift gewild is in die Wes-Kaap, is my verwagtinge oortref met die hoeveelheid nuwe Swifts wat op die M1 gesien kon word.

Vanaf beduidende nuwe jong bestuurders, jong volwassenes (wat besluit om op ‘n Sondag op die Emmarentia dam te gaan roei), of selfs die bejaarde persoon, wat hul weeklikse inkopies gaan doen; het dit onmiddelik geblyk dat die nuwe Swift nie net bedoel is vir een spesifieke generasie nie.

Teen R177 900 (insluitend ‘n vyf-jaar / 200 000km waarborg en twee-jaar/ 30 000km diensplan) is dit te verstane waarom die handrat GL model so ‘n goeie opsie is vir vele nuwe voertuigkopers. Met ‘n uitstekende stoorspasie van 268 liter en 953 liter as die tweede ry platgeslaan word (vir twee volwassenes se naweek bagasie), ‘n brandstof verbruik net oor die 5.2 liter / 100km merk, en ‘n algeheel gemaklike rit, is die Swift GL dalk die voorstaander vir ekonomiese en praktiese luikrugte, tans onder die R200 000 merk.

Die K12M enjin (1.s liter petrol, 4 silinder) skop 81kW (teen 6000 opm) en 113Nm (teen 4200 opm) uit. Sonder ‘n turbo, is data verwag dat hierdie enjin sal hunker na krag in die dunner lug. Dit was egter glad nie die geval nie, en die klein enjin kon maklik teen 120km/h (in vyfde rat en teen 3000 opm) ry.

Natuurlik is daar ietwat enjin geraas wat deurkom na die kajuit, maar is dit ter verwagte en nie so erg soos wat ons verwag het nie. Padgeraas oor die algemeen is baie minder as verwag met die Swift.

Hoewel die Swift GL nie uitkom met outomatiese sentrale sluiting nie, kom die voertuig wel met twee voorste lugsakke, twee ISOFIX punte, kajuit versterking, ABS met EBD, remhulp en ‘n sekuriteits alarm.

Suzuki SA kan hiervoor op die skouer geklop word. Hoewel die GL spesifikasie nie ‘n groot streelpaneel en moderne informasiestelsel het nie, het die vervaardiger meer fokus geplaas op die veiligheid en praktiese aspekte van die voertuig. Vir ‘n nuwe voertuig om in ons huidige ekonomie onder R200 000 verkoop te word, moet daar ‘n kompromie aangegaan word. Om veiligheid bó aan die lys te plaas is beslis die regte keuse.

Bygesê het die GL spesifikasie darem ‘n USB gleuf, asook ‘n AUX punt en ‘n 12V gleuf. Die GL kom ook met Bloutand (Bluetooth), sowel as ‘n multi-funksionele stuurwiel.

Die rygerief is ook gemaklik, te danke aan sagte, maar steeds ferm materiaalsitplekke. Natuurlik kan die agterste sitplekke ook in ‘n 60/40 verhouding afgeslaan word.

In die tweede ry word daar ook nou meer beenspasie vir insittendes toegelaat, weens die wyer (4cm meer as die uittredende model) en effe langer bakwerk as die uitgaande Swift modelle.

Elk van die nuwe Swift modelle kom ook met lugversorging, voor- en agterste elektriese vensters en kragstuur.

Met ons finale Swift toets nou agter die rug, is dit in werklikheid al eintlik te laat om ons opinie te gee. Suzuki se huidige verkope en Johannesburg se besliste liefde vir Swifts, spreek boekdele! Suzuki het dit beslis reggekry om die Swift naam suksesvol voort te bou en meer sukses hiermee te bereik.

Leave a Comment