Padtoets: 2020 Renault Triber

‘n Kwid met 7 sitplekke?

Om hierdie vraag in kort te beantwoord: Nie heeltemal nie.



Nou vir die langer weergawe: Die Triber is Renault se nuwe poging tot ‘n familie motor in die bekostigbare voertuig segment. Baie mag dit dalk reguit met die Kwid vergelyk. Terwyl die Kwid “oulik” vir sommige lyk; en die laagtepunt van Renault se produksie lyn vir ander mag wees, is die Triber nie heeltemal dieselfde voertuig nie.

Die Triber bied egter ‘n veel goedkoper opsie tot die familie voertuig mark. Teen R189,900 (5-jaar / 150,000km waarborg en 2-jaar / 30,000km diensplan), kos die Triber selfs goedkoper as vele ander intree-vlak klein luikrug modelle tans op die mark. Hierdie is veral asemrowend wanneer in ag geneem word dat die Kwid se vlagskip model (met ‘n AMT ratkas) teen R174,900 verkoop word.

Kom ons kyk na die eerste verskil tussen die Kwid en die Triber. Met drie rye sitplekke, moet die Triber natuurlik groter wees as die Kwid? Natuurlik; die Triber word gemeet met ‘n lengte van 3,990mm (259 mm langer as die Kwid), 1,739mm breed (160mm meer as die Kwid), en 1,662mm hoog (149mm meer as die Kwid. Verder staan di took 2mm hoër vanaf die grond, teen 182mm.

‘n Groter onderstel verg natuurlik meer krag vanaf die enjin, en Renault het ook hieraan gedink. Terwyl die Kwid hoes en proes met ‘n 1 liter, 3-silinder enjin, wat net ‘n skamele 50kW en 91Nm uitskop, het die Triber ‘n merkwaardige 52kW en 96Nm.

Terwyl Renault se bemarkings pamphlet hierdie prys as die perfekte balans tussen kraglewering en brandstof ekonomie, moet ons egter hier die rem trap. Die enjin is beslis ekonomies (nes die Kwid), maar is dit beslis nie die ideal vir kraglewering nie. Met dieselfde enjin het die Kwid ons van 0-100km/h geneem in 12.95 sekondes. Natuurlik is hierdie net ‘n 1 liter enjin, maar baie van die kompetisie, met dieselfde enjin grootte, lewer baie beter resultate.

Om hierdie te regverdig, is die Triber nie gebou om elke week by die Robot-Robot Racing op Killarney te gaan jaag nie. Dan weer, is die Triber gebou om ses of self sewe persone te vervoer. Natuurlik verg meer gewig, meer aanvraag vir krag. Gedurende ons toets tydperk was daar meestal net een persoon in die voertuig (die bestuurder – 62 kg). Met meer persone in die Triber, sal die enjin redelik sweet; metafories gesproke.

Terwyl ons bitter bly was dat Renault nie weer vir ons ‘n AMT model gestuur het nie, was ons nie veel meer in ons noppies met die vyf-spoed handrat weergawe nie. Sterk nekspiere of ‘n nekstut word aangeraai met die aankoop van die Triber. Met ‘n bitter kort eerste- en tweede rat, het die Triber ‘n gewoonte om vorentoe te spring met elke rat wisseling.

Kom ons verskuif egter na die positiewe. Nes die Kwid, dra die Triber die karakter-eienskappe van ‘n intreevlak SUV met ‘n dakrak, wat in totaal 50kg kan dra. SUV beteken egter hier nie dat die Triber elke 4×4 roete sal kan gaan aanpak nie.

Verder sluit die Triber Prestige LED dagligte en 15 duim allooi wiele in. Binne lyk die Prestige model ook baie aantreklik met gemaklike sitplekke met oorgenoeg been- en kop-spasie in die eerste twee rye. Die derde ry sal egter net jong mensies kan huisves.

Met al drie rye opgeslaan, is die kattebak spasie beperk. Slaan die derde ry plat (of haal die ry heeltemal uit) en 625 liter kattebak spasie sal beskikbaar wees.

Nog ‘n pluspunt is dat die tweede- en derde rye ‘n individuele verkoelings-stelsel het.

Baie slim van Renault!

Meer belangrik is dat die Prestige model ‘n streel-paneel met Android Auto en Apple CarPlay, sowel as een USB poort en ‘n 12V punt insluit.

Veral in die binneruim, lyk die Triber na ‘n goeie “waarde vir geld” pakket. Dit is egter nodig om hier versigtig te wees. Wind-geraas is die minste van die insittendes se kommer, met padbeheer en veiligheid, wat ernstige kommer bring. Die Triber voel relatief ‘los’ om draaie en is ook nie baie stabiel in die wind nie. Met veiligheid, wat nog nooit die Kwid se sterkpunt was nie, wil ons ook nie graag weet wat die eind-resultaat van die Triber se tekort aan padhouvermoë mag behels nie.

Soos ons voorheen genoem het, sit ons met ‘n redelike kopkrapper as dit by Renault kom. Die vervaardiger het ‘n baie goeie reputasie opgebou met die Duster, Clio en selfs die Sandero. Renault het dit egter weereens reg gekry om geboorte te gee aan nog ‘n lelike en vet eendjie. Die mark se verkope dui egter aan dat hierdie lelike eendjies die verkose modelle is.

Bekostigbaarheid en groot streel-panele (“Infotainment screens”) is twee van die bepalende faktore in die huidige Suider-Afrikaanse mark. Natuurlik kom enigiets wat goedkoper is, teen ‘n latere duur prys. In hierdie geval sal dit dié van veiligheid wees.

Meng dit met ‘n aantreklike bakwerk en ‘n goeie waarborg en die koël is deur die kerk.

Leave a Comment