My bekoring vir die Suzuki Swift het sowat 14 jaar gelede begin. Toe Per-Gunnar Anderson in ‘n helder-geel Swift Super 1600 die FIA Junior Wêreld Tydren kampioenskap gewen het. Met drie seges het Anderson die seisoen domineer. In soortgelyke styl het Aaron Burkart die laaste S1600 jaar in 2010 verower. Hierna sou die Junior Wêreld Tydren kampioenskap na R2 masjiene beweeg.
Die oorwinnings is egter meer merkwaardig sodra dit in aanmerking geneem word dat Burkart wêreld bekende bestuurders soos Thierry Neuville en Kevin Abbring oorwin het, met Andersson, wat bestuurders soos Martin Prokop, Patrik Sandell en Conrad Rautenbach laat les opsê het.
Reeds in 2018 en 2019 het ons die geleentheid gehad om die nuwe intree-vlak Swifts in Durban, Johannesburg en Kaapstad te kon toets. Met ‘n 1.2 liter petrol enjin, het die nuwe Swift reeks ons geweldig beïndruk. Nie net was / is dit uitstekend geprys nie, maar bied dit ook een van die beste waarde-vir-geld pakette tans op die voertuig mark.
Teen R315,900 (R335,900 vir ons automatiese toets-model) het die Swift Sport nou die mark betree. Hierdie is sowat R56,000 duurder as die 2016 model, maar behou dit steeds dieselfde 3-jaar / 100,000km waarborg en 4-jaar / 60,000km diensplan.
Hierdie prysverskil is eerstens as gevolg van die nuwe 1.4 turbo petrol enjin, in plaas van die normale geaspireerde 1.6 enjin.
Hoewel die automatiese weergawe sowat R20,000 duurder is, kan ek vining noem dat ek persoonlik die handrat weergawe sou verkies. Ja, die nuwe Swift Sport is veel meer gemaklik as die uittredende model, maar is bedoel om in erns ‘n klein sportsbuks te wees. Persoonlik pas die idee van ‘n sewe-spoed automatiese ratkas (selfs met agter-stuur flappe) nie in die prentjie nie, maar eerder dié van die 6-spoed handrat.
Die nuwe Swift het dalk ‘n kleiner enjin, maar het 3kW (103kW) en 70Nm (230Nm) meer as die 2016 model. Gesamentlik is die algehele brandstof-verbruik ook afgebring na 7.0 liter per 100km.
In terme van reguit-lyn-spoed, was die Swift Sport nog nooit ‘n rekord breker nie en met die nuwe model is dit beslis nie anders nie: 0-100km/h neem 8 sekondes. Waar die Swift egter meer pret is, is in die draaie. Met ‘n gewig van 970kg is die Swift Sport hope pret om rondom draaie te sit.
Op die oop pad maak die SSS ook baie sin. Sag, gemaklik, ‘n goeie brandstof verbruik en met 242 / 918 liter se stoor-spasie, is die Swift Sport meer as net ‘n warm buks.
Met ‘n groot binneruim (genoeg been- en kop-spasie in die voorste en agterste rye), kom die nuwe Swift Sport met ‘n 7-duim informasie-sisteem met Apple CarPlay en Android Auto, USB funksies, auxiliary slot, spoed-beheer en klimaat-beheer.
In terme van veiligheid is die Sport met ses lugsakke, ABS (met EBD) rem-bystand en elektroniese stabiliteits-beheer toegerus.
Hoewel dit ‘n uitstekende warm buks vir die stad is, moet ons bieg dat die goedkoper handrat weergawe veel meer gepas is. Vanuit ‘n sportiewe oogpunt, bied die Swift Sport die beste waarde vir geld tans op die mark, maar indien die praktiese weegskaal ingereken word, sou ons egter ‘n groter (en dalk rustiger) luikrug voorstel.
Die Swift Sport het steeds ‘n sagte plek in ons harte en bied dalk die meeste pret binne ons Nasionale spoed limiete.
BAIE DANKIE vir hierdie puik berig oor een van my gunsteling voertuie, ek waardeer dit baie dat Namweels nog Afrikaans praat !!! :-)))