Daar is geen twyfel dat nuwe voertuie by die dag duurder word… teen ’n astronomiese koers. Gepaard met dit, is dit bykans onmoontlik om ’n kompakte SUV vir onder R500 000 te koop, om nie eers te praat van die hibriede weergawes nie. Net Toyota het dit tot dusver reg gekry om hul Corolla Cross 1.8XS HEV (Hibried) teen minder te verkoop, te danke aan plaaslike vervaardiging.
Bygesê moet ons egter bieg dat hoewel die Corolla HEV uitmuntend is, die Corolla Cross HEV ietwat van ’n klein brandstof tenk het, en steeds swaar is op brandstof. Dus sal ons veel eerder vir die XR 1.8 CVT model gaan, wat veel meer in het, ’n soortgelyke brandstof-verbruik lewer, en R 3000 goedkoper is.
Hierdie artikel kyk egter nie na die Toyota nie, maar eerder na ’n vervaardiger net wes van Japan. Natuurlik weet ons dat die Chinese onlangs met mening na Suider-Afrika gekom het (en ons praat nie net hier van die voertuig mark nie…). Haval, nes Chery en BAIC, het die top verkopers in die land ietwat bekommer, en met goeie rede.
Sien, Haval het die appel-kar omgegooi met die bekendstelling van die onlangse H6 model, en toe die Jolion. So erg was die bespiegelinge en waglys, dat ons gesukkel het om beide hierdie toetsmodelle in die hande te kry.
Vroeg in 2023 het Haval nog verder amok veroorsaak, deur om die HEV (hibried) weergawe in die mark bekend te stel. Ietwat duurder as die Corolla Cross, word twee Jolion HEV modelle verkoop teen R549 950 (Jolion 1.5 HEV Luxury), en R579 950 (Jolion 1.5 HEV Super Luxury).
Vir hierdie prys kry kopers ’n turbo 1.5-liter 4-silinder enjin wat 70kW (algeheel 140kW met die hibriede stelsel) en 375Nm uitskop. Dit beteken dat die Jolion ’n redelike sterk elektriese komponent het, in teenstelling met ander SUV HEVs in die mark. Waar ander SUV HEVs se elektriese komponent basies dien as ’n hulpmiddel om die voertuig aan die gang te kry, bly die Jolion HEV se battery redelik lank aktief.
Dus is die Jolion HEV se elektriese motor redelik aktief in die dorp, met die “ICE” enjin wat eers inskop sodra die brandstof pedaal redelik getrap word. Hoewel die verwisseling tussen ICE en die elektriese motor egalig is, kan die “Dedicated Hybrid Transmission (DHT)” outomatiese ratkas effe steurend wees.
Die Haval Jolion HEV is dus uiters gemaklik teen ’n konstante spoed, met min wind- en padgeraas wat die kajuit binnedring.
Haval noem dat die Jolion HEV ’n brandstof verbruik van 5.0 liter per 100km kry. Hoewel ons egter net bo 6 liter / 100km gekry het, is dit steeds uitmuntend en, volgens ons, die beste in die SUV HEV segment. Dit gebeur min dat ons ’n voertuig teruggee na ’n week met ’n drie-kwart tenk brandstof.
Die Jolion HEV word verkoop as ‘n “Luxury” of “Super Luxury” weergawe. Ons het die laasgenoemde model bestuur, wat (onderandere) draadlose foon-laai funksionaliteit het, sowel as oorgenoeg USB punte, en draadlose foon konneksie. Daar is selfs USB punte vir agterste insittendes.
Verder het die Jolion HEV Super Luxury ook ’n panoramiese sondak, sleutellose hantering, ‘n 10.25 duim raakskerm en ‘n 7-duim instrumente-paneel agter die stuurwiel.
Meer verbasend is egter die gemak en beenspasie vir insittendes. Verder is daar 337 liter se kattebak spasie, wat na 1133 liter kan vermeerder sodra die agterste sitplekke platgeslaan word.
Daar is ook nie terug gehou met veiligheid nie met die Jolion HEV, wat standaard kom met ses lugsakke, EBD, stabiliteits- en traksie-beheer, bult-stilstaan bystand, banddruk monitors, trurat sensors, trurat kamera, en ’n alarmstelsel.
Teen net oor die R500 000 merk (met ‘n 4-jaar / 60 000km diensplan, 5-jaar / 100 000km waarborg, en ‘n 8-jaar / 150 000km battery waarborg) is die Haval Jolion HEV een van die beste hibriede SUVs in die segment.