Die bakkie-gebaseerde SUV segment is geweldig mededingend en een vervaardiger se aksies kan ’n sneeubal-effek veroorsaak. Ford het natuurlik hul Everest (en Ranger) reeks heeltemal verander, terwyl Toyota ook die Fortuner ietwat opgetower het. Isuzu, wat in 2019 met die eerste generasie MU-X ingetree het, het net laasjaar ’n nuwe, tweede generasie model uitgebring. Ons het onlangs die nuutste weergawe van hierdie tweede generasie in die hande gekry.
Die huidige tempo van inflasie is skrikwekkend en natuurlik word die verkoops-pryse van voertuie eerste aangeraak. Die duurste Ford Everest (Platinum) model verkoop nou vir meer as R1 miljoen (hoewel dit egter meer met die Toyota Prado meeding), terwyl die top Fortuner net onder die R1 miljoen merk verkoop word.
Dus is dit geen verrassing dat die top MU-X model, genaamd Onyx (3-liter) 4×4 Outomaties ook teen R960 600 verkoop word. Hoewel hierdie ietwat duurder is as die Fortuner, weet ons egter teen nou al dat die 3.0 liter enjin redelik betroubaar is, nes dié van Toyota.
Die prysgradering begin egter net onder R800 000 vir die 3.0 modelle. Isuzu bied die MU-X 1.9 LS 4×2, later in 2023 bekend gestel, teen ’n geweldige goeie prys van R708 000 aan, siende dat hierdie kleiner enjin sowat 110kW en 350Nm uitskop en geweldig ekonomies is. ’n Mede motorjoernalis het juis van Johannesburg na die Kaap gery in ’n enkel-kajuit 1.9 Isuzu bakkie, met net een tenk se brandstof.
Vir nou sal ons egter op die 3.0-liter Onyx 4×4 model fokus, wat 140kW en 450Nm uitskop, gepaard met die 6-spoed outomatiese ratkas, wat met elk van die ses MU-X modelle verkoop word. Bykomend met die ratkas, kan die sisteem ook elektronies verskuif word vanaf 2-wiel trek (2H), na 4-wiel trek (4H), sowel as kruiprat (4L), vir diegene wat ’n bietjie meer 4×4 wil doen.
Ons gevoel is egter dat die massiewe 20-duim lae-profiel bande dalk nie gepas is vir die veld nie, en dus sal ons eerder die 18-duim wiele verkies, soos met die LS modelle verkoop word.
Die nuwe, opgedateerde (MY23) MU-X is egter veel mooier, met nuwe hoof- en agterligte, sowel as ’n nuwe voor paneel.
Die nuwe MU-X het ook ’n elektroniese, sleutel-beheerde kattebak deur, parkering bystand, en ’n elektroniese-verstelbare bestuurders sitplek. Die enjin kan selfs aangeskakel word deur die druk van ’n knoppie op die sleutel.
Maar genoeg van die “fancy” eienskappe. Groot, bakkie-gebasseerde SUVs kan redelik hard geveer wees, siende dat dit op ’n sterk leer onderstel gebou is. Ons moet egter bieg, dat die MU-X baie meer gemaklik is oor hobbels en knikke in die pad. Verder is die stuur ook ligter as baie van sy mededingers, terwyl die sterk Kaapse Suidooster nie veel aan die MU-X se padhouvermoë gedoen het nie.
Verder is die 6-spoed ratkas ook baie meer stil, terwyl agter-stuur rat verstellings ook kan help om enige verkeer verby te steek. Die 3.0-liter is ietwat luier as die mededingers se kleiner turbo enjins, dog het dit genoeg momentum om hoë spoed te behou. Die 450Nm se krag help ook om 3.5 ton se gewig te kan sleep.
Voorheen sou die MU-X redelik moes terugstaan vir die kompetisie, maar met die nuwe opgraderings, sowel as ’n keuse tussen ‘n 3.0l en 1.9l enjin, het Isuzu groot stappe geneem om die MU-X reg in die middel van die geveg in te bring.
Dit is ‘n uitstekende motor maar die prys maak eina !!
Vir seker ‘n lekker ryding maar dis ‘n snaakse naam – Onyx LOL