Padtoets: 2023 Mercedes-Benz V300d Spesiale Weergawe

Mercedes-Benz dra die kroon in suider-Afrika wanneer dit kom by die duurste drie-ry bus. Hierdie is te danke aan hul V300d (Spesiale weergawe), wat teen R2 206 698 verkoop word. Hierdie aardige bedrag sluit natuurlik vele moderne luukshede in.

Hierdie spesiale weergawe, anders as die normale V300d, is bekleë met ’n donker blou afwerking, sowel as swart 19-duim AMG allooi wiele. Natuurlik, soos die mode dit deesdae het, is die normale “chroom” afwerkings van die bus nou vervang met swart.

Onder die enjin kap word ‘n 2.0-liter (4-silinder) turbodiesel gevind, wat sagkuns 174kW en 550Nm uitskop. Hoewel dit bykans dieselfde syfer is as wat meeste nuwe top-profiel bakkies verrig, loop die V300d seepglad op die pad, met die enjin noot wat skaars hoorbaar is (te danke aan die 9-spoed outomatiese ratkas).

Dit is ook nie asof die bus stadig is nie. Die spoednaald tref 100km/h in minder as 8 sekondes (volgens die Duitsers).

Nog meer verstommend is die feit dat die V300d sy 550Nm verkry teen slegs 1600 opm, wat dit uiters maklik en egalig maak om enige verkeer op die hoofweg verby te steek, of selfs in die dorp rond te ry.

Hoewel die V300D ’n massiewe voertuig is en net langer is as 5 meter, voel dit uiters gemaklik om te bestuur, meestal te danke aan die ligte stuur-aksie en algehele sagte rit gehalte. Dit sou ook verwag word dat hierdie bus swaar is op brandstof, maar verrassend genoeg, ligter is as meeste nuwe SUVs en bakkies (teen minder as 10l per 100km).

Met ‘n 70l tenk, en ’n relatiewe ligte regtervoet, sal daar net halfpad gestop moet word tussen Windhoek en die Kaap.

Dit is egter binne waar van hierdie spesiale V300d ietwat meer luuks word. Die hele kajuit is belee met leer afwerking en uiterse gemaklike sitplekke. Beide die tweede en derde rye kan geskuif word om beenspasie te vergroot. Die tweede ry het twee sitplekke met ’n tafel / stoor spasie wat die twee skei. Die derde ry kan drie insittendes gemaklik langs mekaar laat sit.

Verder kan die twee rye selfs heeltemal verwyder word, of na mekaar gedraai word.

Ons moet egter bieg, dat vir R2.2 miljoen daar meer verwag word van die voorste kajuit, sowel as konnektiwiteit. Die voorste instrumentpaneel, hoewel maklik om te hanteer, is relatief klein (teen moderne standaarde). Soortgelyk sou daar ook verwag word dat die agterste insittendes meer konneksie geriewe (vir beide fone en skoot-rekenaars), óf draadlose foon laaistasies (soos in die nuwe S350) sou kry.

Soortgelyk is daar ’n tekort aan USB punte vir die agterste insittendes. Hierdie word selfs in busse gekry wat helfde van die V300D se prys is.

Die V300d spesiale weergawe kry wel verhitbare / verkoelde sitplekke vir die voorste insittendes, Apple CarPlay en Android Auto, ’n panoramiese sondak, ‘n 12V punt vir agterste insittendes, verskillende klimaat-beheer stasies, en elektriese skuifdeure.

Verder word die voertuig toegerus met heuwel stilstands bystand, blindekol waarneming en baan verwisselings bystand, sowel as ‘n 360-grade kamera. Alarms in die kajuit sal ook die bestuurder waarsku as daar ’n voorwerp te naby aan die voertuig is.

Die V300d is ’n luukse en gemaklike voertuig, en hoewel dit goed toegerus is vir die voorste twee insittendes, sal Mercedes egter die bussie meer moet modernariseer om gepas te wees vir die agterste twee rye. Dit is immers die doel van die voertuig.

Sou die prys van hierdie spesiale weergawe egter te veel wees, is daar ook ander opsies. Die V220d is veel goedkoper (R 1 285 562) en verskaf ietwat minder krag teen 120kW en 380Nm). Die V250d verrrig 10kW meer, sowel as 440Nm (R1 373 385), met die normale V300d wat ook 174kW en 550Nm uitskop.

Ons sal egter die laasgenoemde verkies, siende dat dit amper ’n half-miljoen goedkoper is as die spesiale weergawe (R1 754 412). Dit is nou egter totdat Mercedes hopelik binnekort ’n meer moderne V300d spesiale weergawe uitbring, wat die R2.2 miljoen merk kan regverdig.

Elk van die V-Klas modelle word verkoop met ‘n 7-jaar / 140 000km diensplan.

2 thoughts on “Padtoets: 2023 Mercedes-Benz V300d Spesiale Weergawe”

Leave a Comment