Vitz nou Toyota se intree model
Toyota het onlangs ‘n paar veranderinge aan hul model-reeks gemaak, waarvan die mees onlangse die vervanging van die Agya was. Die nuwe Vitz tree dus die mark in as Toyota se mees bekostigbare voertuig, selfs goedkoper as die Agya (maar na ons mening, veel beter).
Dit is sekerlik nou nie meer ’n geheim dat die twee Japanese vervaardigers, naamlik Toyota en Suzuki, rondom dieselfde kampvuur sit nie, en waarom nie. Toyota, nog altyd bekend vir betroubaarheid, kort klein voertuie vir die groeiende stedelike mark. Gelukkig is Suzuki daar om betroubare klein voertuie te bied. Dus word daar talle modelle saam in die Maruti (Indiese) fabriek vervaardig. Hierdie vennootskap doen beide vervaardigers se verkope uiters goed.
‘Kenteken ingenieurswese’ oftewel “badge engineering” is nie iets nuuts nie. Dit word al dekades gedoen.
Soos reeds genoem, betree die Vitz die mark as die mees bekostigbare voertuig, terwyl die ekwivalente Celerio, Suzuki se tweede mees bekostigbare voertuig is. Bygesê word beide die Vitz en Celerio teen min of meer dieselfde prys verkoop, met die Celerio wat effe goedkoper is.
Met meeste Maruti produkte is brandstof verbruik een van die hoogtepunte. Dit is geensins anders met die Vitz nie. Die huidige globale finansiële toestand lyk effe swak, met die koste-van-lewe wat elke dag meer word. Gelukkig het die Vitz ’n skrale brandstof-verbruik van 5.1 liter / 100km (soos getoets).
Ons het ook geensins rustig met die voertuig gery om die syfer so laag as moontlik te hou nie, en die meerderheid van ons toets is afgelê in die dorp. Dit gebeur selde dat ons ’n voertuig kan terugbesorg na ‘n week met ’n halwe tenk brandstof! Ons moet ook byvoeg dat ’n halwe tenk (totale tenk grootte: 32 liter) ’n afstand van 300km sal kan aflê.
Hierdie lae brandstof-verbruik is te danke aan die klein, maar baie effektiewe 1-liter 3-silinder petrol enjin. Met ’n algehele ligte verpakking, voel dit of die enjin veel meer uitskop as 49kW en 89Nm. Ons XR toetsmodel het ook gekom met ’n uiters gerieflike 5-spoed handrat-ratkas.
Die Vitz is natuurlik gemik op die intree-mark, waaronder studente val. Dus is veiligheid van kern belang. Die Vitz kom standaard met dubbele lugsakke voor, ABS met EBD, stabiliteits-beheer, ISOFix punte vir kinder-stoele, trurat-sensors, afstandbeheerde sluit-aksie, en ’n alarm.
Iets wat vir ons uitgestaan het was ‘n deurknip op die luikrug deur. Baie voertuie in hierdie prysklas moet met die sleutel oopgesluit word (van buite). Hierdie prosedure kan ’n handvol raak sodra, wel, jou hande vol is.
Teen minder as R200 000 is dit moeilik om tans ’n voertuig te vind met goeie kwaliteit aan die binneruim. Die Vitz bied egter as standaard ‘n 7-duim informasie raakskerm, wat kan koppel aan Android Auto en Apple CarPlay. Die Vitz het ook ’n multi-funksionele stuurwiel, en vier elektries-beheerde vensters.
Die Vitz XR bied ’n goeie waarde-vir geld pakket vir enige koper, met die normale Vitz wat die mark betree teen ’n prys van R189 900. Ons XR handrat toetsmodel word verkoop teen R219 900, terwyl die outomatiese XR AMT weergawe teen R239 900 verkoop word.