Moenie die GAC Emkoo mis kyk nie!
GAC word eintlik uitgespreek as “Gee Ay Cee”, ’n verligting vir vele, wat dalk mag dink dat hierdie sinoniem is tot vloektaal in Afrikaans. Terselftedyd is GAC se twee huidige modelle, naamlik die Emzoom en die Emkoo ook nie veel sagter op die tong nie. Moet egter nie dat hierdie jou wegstoot van die GAC fabrikaat nie. Die Sjinese vervaardiger het veel om te bied.

Ons het onlangs die vlagskip Emkoo beet gekry vir ’n maand-lange toets en aangenaam verras was ons beslis.
Wie is GAC?
Terwyl die Sjinese GAC embleem redelik nuut is in Suider-Afrika, het die vervaardiger sy herkoms gevind in die mid 1900’s. Nog beter is die feit dat GAC en die betroubare Toyota embleem ook noue verhoudings het.

Dus kan die Emkoo en Emzoom nie net gesien word as een van die mooiste en tegnologies, toegeruste voertuie op die mark nie, maar ook dal kuiter betroubaar. Hierdie is dalk juis die rede, waarom eerste eienaars ’n leeftyd waarborg op hul modelle kry.
Wat is die Emkoo?
Die Emkoo self word na Suider-Afrika gestuur as die grootter sportsnuts voertuig, met die Emzoom, wat ietwat kleiner en meer bekostigbaar is. In werklikheid is die Emkoo redelik groot, met ‘n 1.9m breedte en 4.7m lengte. Hierdie laat toe vir ’n reusagtige 1m se beenspasie in die voorste ry, en 990mm in die tweede ry.

Terwyl die Emzoom in drie verskillende spesifikasies verkoop word, word die Emkoo net in twee verkoop, naamlik die “Executive” en die “Executive Plus”.
Beide modelle word aangedryf deur ‘n 1.5L turbopetrol enjin, wat 130kW (teen 5500 opm) en 270Nm (tussen 1400 en 4500 opm) verrig. Beide kry ook ‘n 7-spoed outomatiese ratkas.

Meeste DCT outomatiese ratkaste is redelik haastig van stilstand af, dog is dit veel beter met die Emkoo; veral in die normale verstelling. Met die “sport” verstelling, bokspring die Emkoo behoorlik, terwyl die “Eco” verstelling die Emkoo laat wonder oor die voertuig se doel in die lewe. Met die normale verstelling aan, en ’n ligte voet op die regter pedaal, is die Emkoo eintlik ’n plesier om te bestuur, veral op die langpad.

Dit is juis om hierdie rede dat ons die GAC Emkoo as een van ons gunsteling Sjinese voertuie gesien word.
Die Emkoo trek ook redelik baie aandag, te danke aan die skerp lyne, wat regoor die kar, deur die voor, en agterligte vloei (beide LED). Selfs die elektoniese handvatsels word weggesteek binne die deurpanele. Ons Emkoo Plus model het ook 19 duim allooi wiele, verhitte kant spieëltjies en ’n elektriese kattebak deur by. Om meer uit te vind oor die verskille tussen die twee Emkoo modelle, lees gerus ons “GAC Emkoo in Suider-Afrika met twee modelle” artikel.

Binne is die voertuig net so indrukwekkend, met twee reuse informasie (10.35 duim) en raakskerms (10.1 duim), draadlose selfoon laai funksionaliteit, verhitbare en verkoelde sitplekke, lugverkoeling in die tweede ry en leer sitplekke.
Hoe bestuur dit?
Soos voorheen genoem, sien ons hierdie as een van die beste Sjinese voertuie, wat plaaslik aangeland het.

Hierdie is bloot asgevolg van die reusagtige beenspasie, pakplek, sowel as die algehele praktiese aspek en ligte stuur.
Terselfdetyd is die DCT ratkas vir ons ’n probleem in meeste ander voertuie, met die “eerste” rat, wat gewoontlik bokspringerig is en nekspasmas veroorsaak. Terwyl die “Sport” funksie in die Emkoo ook mik vir soortgelyke beserings, is die normale funksie eintlik heel gepas vir die ratkas en enjin kombinasie.

Die “eco” funksie is weer te lui en laat die Emkoo in ’n ietwat van ’n aftree status.
Die normale funksie is dan ook die beste, wanneer dit kom by die algehele brandstof verbruik van 8.1L / 100km, sowel as algehele versnelling, en suspensie gemak (’n voorste McPherson en agterste multi-koppelings vering).

Met ‘n 55L petrol tenk, het ons ook gevind dat ’n afstand van ongeveer 500km aangepak kan word, voordat die brandstofstasie besoek moet word.
Is dit veilig?
Beslis. Met 6 SRS lugsakke (2 voor- en sy, agter sy lugsakke), ‘n 360-grade kamera (trurat kamera), sowel as ’n versterkende staal konstruksie, is hierdie Emkoo so veilig soos kan kom.

Gaan dit my ’n arm en ’n been kos?
Inflasie en ’n eksponensiële verhoging van algehele voertuig pryse, het verbruikers absoluut op hul knieë gebring.
Dog, is die Emkoo ’n relatiewe goedkoop voertuig (in vergelyking tot die Lexus NX, Nissan Qashqai, Honda HR-V, sowel as Kia se Sportage en die Volkswagen Tiguan.

Iets ongehoord van, het plaasgevind tydens ons toets met die Emkoo. Weens ’n draai in die mark, het GAC die rede ingesien om hul voertuie se pryse te laat val.
Tydens die bekenstelling van die Emkoo in September, was die “Executive” geprys teen R599 900, terwyl die “Executive Plus” geprys was teen R659 900. Teen einde Desember, het GAC egter die pryse laat verminder tot R519 900 vir die “Executive” en R559 900 vir die “Executive Plus”.

Teen hierdie verbeterde pryse, sien ons die GAC Emkoo as ’n absolute sakpas aankoop, veral as die 5-jaar / 150 000km waarborg en 5-jaar/ 100 000km diensplan ingewerk word.