Padtoets: 2024 GWM / Haval Jolion Pro

Die jaar is 2022 en die woorde “Haval Jolion” is op bykans almal se lippe. Elke sosiale interaksie of kantoor gesprek het iewers na hierdie voertuig gedraai. Twee jaar later, en die Jolion HEV (hibried) land by ons aan. Nou, ’n enkele paar maande later, het Haval se Jolion nog ’n model; naamlik die ‘Pro’.

Ons meet dit op teenoor die einste voorstaanders, wat sedert 2022 ’n waglys veroorsaak het.

Aanvanklik was die Jolion vir ons wonderlik. Dit kon nie ’n voet vekeerd sit nie, en was boonop veel goedkoper as die mededingers, terwyl dit die luuksheid van ’n Jaguar of Land Rover ingehad het. Die HEV model het ons selfs nog meer verras. Teen R549 950 is dit ietwat duurder as Toyota se Corolla Cross Hibried (XS) teen R486 100, dog het ons gevind dat die Jolion HEV veel verder kon ry op ’n tenk teen ongeveer 5.8L/100km, terwyl die Corolla Cross ietwat swaarder was en net ‘n 36L tenk het.

Nou is die Pro model beskikbaar, en onmiddelik is die aanname dat hierdie ’n sportiewe model opsie moet wees. Vier van hierdie Pro modelle is bekend gemaak met pryse tussen R391 150 en R495 950. Dog het die Jolion ook drie ander meer normale modelle, genaamd die City (R345 950), die City Plus (R370 950), sowel as die Luxury 7DCT (R420 950).

Hoewel elk van die Jolion modelle gedryf word deur ‘n 1.5L (4-silinder) turbopetrol enjin (gepaard met ‘n 6-spoed handrat of 7-spoed outomatiese ratkas), verskaf die City model sowat 105kW en 210Nm. Die intreevlak Pro Premium model (R391 150) verskaf dieselfde hoeveelheid krag, terwyl die ietwat duurder Pro S Ultra Luxury model (R495 950) ’n kragtige 130kW en 270Nm verrig. Laastens word die duurste Pro HEV Ultra Luxury model (R516 950) met ’n HEV hibriede sisteem verkoop. Hierdie laasgenoemde model is nie turbo aangejaagd nie, dog verrig dit 140kW en 375Nm, en lewer dit ’n merkwaardige 5.1L/100km.

Die hele Pro reeks lyk ietwat meer sporttief, met dunner LED hoof- en agterligte, nuwe allooi wiele en buffer afwerkings om dit ietwat meer vaartbelyd te laat voorkom.

Die intree Pro Premium model moet doen met 17-duim wiele, terwyl die ander twee ietwat grootter gaan met 18-duim wiele. Net so is die Pro Premium se raakskerm ook net 10.25 duim, terwyl die ander ‘n 12.3-duim sisteem kry. Verder kry die Pro Premium ook net materiaal-bekleedte sitplekke, vier lugsakke, ’n multifunksionele stuurwiel, spoed beheer, sleutellose toegang, ISOFIX punte en ’n trurat kamera.

Let op die sarkasme wat ons hier gebruik. Teen R391 950 is hierdie glad nie sleg geprys nie, dog sal ons selfs nog goedkoper gaan en die City Plus 7DCT koop teen R370 950. Met dieselfde enjin en krag verrigtinge in beide modelle, is die Pro Premium se prys net kosmeties aangevul.

Die ware verskil kom egter in met die S Ultra Luxury en die Ultra Luxury HEV, wat sowat R104 800 meer is as die intreevlak Pro Premium. Hier is ons siening egter anders, waar ons eerder sal verkies om die duurder HEV aan te skaf, bloot omdat dit veel meer ekonomies en kragtiger is as die Ultra Luxury model. Boonop kry die HEV model ook nog ‘n 8-jaar / 150 000km waarborg vir die battery, gepaard met die Pro modelle se normale 7-jaar / 200 000km waarborg en die 5-jaar / 75 000km diensplan.

Beide van hierdie duurder Pro modelle kry egter dieselfde leer sitplekke, ses lugsakke, klimaat beheer, outomatiese spoed beheer, ’n digitale instrument kluster, outomatiese reën sensors, ’n panoramiese sondak, verhitbare en verkoelde sitplekke, sowel as ’n draadlose laaipunt.

Dog moet ons bieg dat ons sentiment teenoor die Jolion ietwat verander het. Die S Ultra Luxury se 7-spoed outomatiese ratkas stry ietwat met die 1.5T enjin. Natuurlik tree die voertuig anders op, afhangende van die ekonomiese, sportiewe, of geriefsinstelling, dog het ons met elk van hierdie gesukkel. Die ratkas neem ’n redelike tyd om aan die gang te kom, wat maak dat die Pro veral ’n sterk spring-aksie het in sy eerste rat.

Die Pro se enjin self is kragtig, maar dit laat ons wonder of die City modelle, of selfs die Pro Premium, nie dalk beter gepas sal wees met die ratkas nie. Die HEV model self behoort ook goed gepaard te gaan met die 7-spoed outomatiese ratkas, nes voorheen.

Dit los egter die S Ultra Luxury as die lelike eendjie.

Bygesê is hierdie voertuig uiter gemaklik en behoort dit uitstekend goed te vaar teen ’n konstante hoë spoed. In die stad en dorp sou ons egter die minder kragtige City of Pro HEV verkies, bloot net om beter by die ratkas te pas.

Leave a Comment