Padtoets: 2024 Isuzu D-Max Dubbelkajuit 1.9 Ddi X-Rider 4×4 Outomaties

Inflasie, stygende brandstof- en kos pryse, sowel as die drastiese verhoging in voertuig pryse, maak dinge deesdae ietwat moeilik vir die groeiende middelklas. Voor Covid-19 was dit amper ongehoord van om ’n bakkie vir R1 miljoen aan te koop. Vandag is hierdie premie prys amper die norm vir vlagskip “stedelike” bakkies.

Gelukkig het Isuzu ’n antwoord hierop. Terwyl die AT35 model dalk die R1 miljoen merk mag oorskrei, bied Isuzu wel meer sakpas alternatiewe; te danke aan die feit dat die bakkies plaaslik vervaardig word.

Soos jare al bekend, staan die Japanese vervaardiger se naam sinoniem tot betroubaarheid, met die 3.0L turbodiesel, wat kranige werksesels is. Nou bied Isuzu egter ook die kleiner 1.9L turbodiesel aan die mark, wat meer ekonomies is op die langpad. Met ’n vol 76L tenk, kan hierdie bakkie die afstand van Johannesburg tot in die Kaap (1400km) aflê.

Hoewel die 1.9L meer gewig kan dra (1105L) as die 3.0L modelle, kan dit nou wel net 2100kg sleep, in vergelyking met die 3.0L se 3500kg. Soortgelyk kan die 1.9L sowat 110kW en 350Nm lewer, in vergelyking met die 3.0L se 140kW en 450Nm.

Ons het wel egter gevind dat terwyl die 1.9L met tye lui kan wees, dit wel die werk verrig. Die 3.0L sou ons aanbeveel aan kopers wat dit hoofsaaklik as werksesels sal gebruik. Die normale sleep van ’n kamp sleepwa of karavaan sal egter heel gepas wees vir die 1.9L, met die 6-spoed outomatiese ratkas, wat goed by mekaar pas.

Ons toetsmodel was die duurste 1.9L variant van die lot, naamlik die 1.9 X-Rider 4×4 outomaties. Tog prys hierdie model teen ’n bekostigbare R750 200; insluitende ‘n 5-jaar / 120 000km waarborg en 5-jaar / 90 000km diensplan. Dit is die enigste 4×4 X-Rider variant, met die 4×2 modelle wat teen ongeveer R90 000 tot R100 000 goedkoper is (beide in ’n handrat en outomatiese weergawe).

Die toetsmodel het ook op ’n gepaste tyd opgedaag, nes ons die stormagtige Sederberge aangedurf het vir ’n bergfiets ren; perfek om die X-Rider deur ’n leefstyl toets te plaas. Met beide 29-duim fietse se voorwiele afgehaal is beide knus onder die laaibak seil geplaas (hoewel ons later tot die besef gekom het dat hierdie nie stofdig was nie, soos met meeste nuwe rol blaaie).

Die agterste sitplekke is gelaai met ons bagasie en ons fone is ingeprop om vermaak (en die padkaart) te verskaf vir die 3-ure tog na Mount Ceder.

Die rit-gehalte is egter vinnig gekritiseer deur my passasier, wat nie geskroom het om die harde rit gehalte van die leer-raamstel en bladvere uit te lig nie. Met die tog terug is meer hout in die laaibak gelaai, wat die stamperigheid ietwat verbeter het. Tog was die uiteinde hiervan dat ’n leefstyl bakkie ietwat ligter geveer sal moet wees, veral as dit net 2100kg kan dra.

Laastens was die skerpligte ook ietwat van ’n tekortkoming, met bykans geen verskil tussen die hoof- en skerpligte op die grondpad nie.

Die kombinasie van die 18-duim wiele, sowel as die General Grabber alle terrein bande, en 4×4, het egter die bakkie met gemak deur die modder bad van die sopnat Sederberge geneem.

Inaggenome dat die bakkie meestal in 4×4 was tydens ons 550km naweek toer, en ons ook taamlik ’n swaar voet moes gebruik om mementum deur die modder te kon hou, het die 1.9L ’n algehele brandstof verbruik van 9.2L gelewer. Hoewel dit veel swaarder as die beweerde 7.6L/100km mag wees, dink ons die figuur sal nader aan 8.4L/100km wees as mens ligvoets op die oop pad ry.

Met die 6-spoed ratkas bly die revolusies allermins laag en selfs teen 120km/h loop die revolusies teen 1800 opm.

Terwyl die prysverskil tussen die X-Rider en ’n luukse R1 miljoen bakkie onmiddelik opgetel kan word sodra mens na die binneruim kyk, bied die X-Rider steeds goeie waarde vir geld.

’n Informasie sisteem / raakskerm met Apple en Android konnektiwiteit, ‘n USB punt, leer-bekleedte stuurwiel en sitplekke, ’n multifunksionele stuurwiel, spoed-beheer, trurat sensors en ’n kamera, stabiliteits-beheer, elektroniese bult-bystand en sewe lugsakke word als ingesluit. Die enigste nadeel is die lugversorging, wat nie klimaat-beheer is nie.

Daar is wel nog ’n meer sakpas alternatief, waarvan ons baie hou. Hierdie is die 1.9 Ddi LS 4×4 outomaties, teen R691 700. Identies aan die X-Rider met ’n paar kosmetiese veranderinge, het hierdie model maar net kleiner wiele (17-duim), halogeen hoofligte (inplaas van die LED ligte in die X-Rider), materiaal sitplekke, sowel as ’n opsionele trekstang (ingesluit by die X-Rider).

Soos reeds genoem, kom die X-Rider leefstyl reeks net met die 1.9 enjin (beide in 4×2, 4×4 sowel as ’n handrat en outomatiese weergawe). Hoewel die 1.9L met tuie luier mag wees en beslis minder werksverrigting as die 3L het, bly dit steeds ’n goeie sakpas opsie vir ’n leefstyl bakkie.

Leave a Comment