Padtoets: 2024 Toyota Hilux GR-S III

Toyota tref die balans net mooi

“Bakkies het vervelig geword”, ’n mening, wat ek nou die dag met een oor tydens ’n gesprek gehoor het; ’n sentiment, wat sekerlik onder vele stedelinge rommel. Vir die plattelandse bevolking, waar die werksverrigting meer belangrik is as ‘n “veilige” laaibak vir fietse, of om ’n kampsleepwa te trek, is estetika minder belangrik.

Nes die SUV en luikrug markte, is die bakkie mark in Suider-Afrika geweldig mededingend. Kyk maar net na Isuzu se reeks 1.9L en 3.0L modelle, sowel as Ford se Wildtrak en Platinum reekse. Bakkies is deesdae veel meer as ’n werksvoertuig.

Pleks moet dit vinniger en gemakliker wees, terwyl dit ook ietwat soos ’n SUV moet voel; om nie eers te praat van die R1.7 miloen grens, wat pas oortree is deur INEOS nie.

Die realiteit is dat bakkies nie net meer stedelik- en familie vriendelik word nie, maar ook vinniger en duurder word.

Die ikoniese mark segment leier, Toyota, word al lank gedruk om mee te gee tot hierdie mark druk, veral nadat Ford hul Raptor na Suider Afrika gebring het, en Toyota self al drie keer die Dakar gewen het sedert 2019.

Toyota met die antwoord

 Met die bekendstelling van die nuwe Hilux GR-S III, was ek self skuldig aan die Engelse slagspreuk “Don’t judge a book by its cover”. Ek moet bieg dat ek die nuweling gesien het as ’n normale 8ste generasie Hilux, wat ietwat ge-botoks is. Net om dit ietwat meer rof en ombeskof te laat lyk.

Nietemin het die eerste rit met hierdie voertuig vinnig my woorde laat sluk.

Nie net lyk die Hilux GR-S III meer sportief nie (te danke aan die 30mm weier bakwerk), maar staan dit ook 20mm hoër te danke aan die nuwe skokbrekers en BFGoodrich bande (265/65 R17). Geheel is die naderingshoek vermeerder na 30-grade

Die wielsporing is selfs verbreed met 140mm voor en 155mm agter. Hierdie maak die GR-S III se hantering uitmuntend, veral op die grondpad. Die skyfremme is selfs meer kragtig met 17-duim remme voor en 15-duim remme agter.

Vele mag dalk menings hê oor die verkose enjin, maar ons hou nogals van die idee van die 2.8L (4 Silinder) turbodiesel. Dit is reeds bewys om uiters betroubaar te wees, terwyl Toyota se toordokters ietwat meer krag uitgepluk het vir die GR-S III, met ’n totaal van 165kW en 550Nm (150kW en 500Nm in die standaard Hilux).

Dit is belangrik om hier die vergelyking te trek tussen die GR-S Hilux en die wilder V6 petrol kompetisie. Die GR-S III mag dalk amper helfde van die kompetisie se kW hê, maar staan sterk as dit by algehele wringkrag kom.

Terselfdetyd is die GR-S III ook baie goedkoper en sal beslis ’n beter brandstof verbruik (teen 10L/100km) bied.

Eerder moet die GR-S III met ander diesel mededingers vergelyk word. Ander 2.0L bi-turbo mededingers bied byvoorbeeld 154kW en 500Nm, terwyl die V6 (3.0L turbodiesel) variante 184kW en 600Nm bied. Die laasgenoemde modelle is egter duurder as R1 miljoen geprys, terwyl die Hilus GR-S III ideaal geprys is teen R999 000 (3-jaar/100 000km waarborg en 3-jaar or 9-diens / 90 000km diensplan).

Die GR-S III is geensins bombasties nie. Dit lyk miskien ietwat meer gereed vir aksie, siende dat dit weier staan, hoë profiel BF Goodrich bande het (met 17-duim swart allooi wiele), rooi skokbrekers, en ’n paar GR-Sport plakkers op die bakwerk het; dog is hierdie ’n bakkie waarmee daar in die “ekonomie” verstelling, rustig gery kan word onder 2 000opm.

Skakel egter oor na “Race” en die bakkie is gereed om verkeer vinnig verby te steek.

’n Kombinasie van stedelike- en plattelandse paaie, beide in “eko” en “race” het vir ons ’n brandstok ekonomie van 10.9L/100km gegee. Hierdie vergelyk amper identies aan die 2.0L Bi-turbo mededingers, en veel ligter as die V6 turbodiesel variante; om nie eers te praat van die V6 turbopetrol weergawe nie.

Padhouvermoë is veel beter as meeste bakkies, wat ons onlangs bestuur het. Die weier as en vering kombinasie hou die agterste wiele meer op die grond, waar ander bakkies geneig is om rond te hop. Soortgelyk kan die GR-S III natuurlik die normale 3.5 ton sleep en 1ton se gewig dra.

Toyota is geneig om te bly by ’n wenresep. Waarom sal daar aan iets wat werk, verander word? Binneruimtes in alle Toyota SUVs en bakkies bly dus redelik ongeraak aan en dit is min of meer dieselfde met hierdie voertuig.

Dog het die GR-S III uiters gemaklike alkantara skottel sitplekke, wat geweldig sporttief, dog gemaklik voel. Dit word afgerond met sportiewe rooi strepe en veiligheids gordels. Natuurlik word draadlose selfoon konnektiwiteit ook ingesluit by die 8-duim raakskerm, gepaard met ’n geweldige goeie JBL klank sisteem.

Die multi-funksionele stuurwiel is selfs met leer oorgetrek, gepaard met agterstuur rat wisselaars vir die 6-spoed outomatiese ratkas.

Die kompiterende bakkie segment raak al duurder, dog bly Toyota vas met hul wenresep, en met goeie rede. Die 2.8L enjin in hierdie GR-S III is sterk en kragtig genoeg om as “sporttief” dog ook ekonomies beskou te word. Soortgelyk is die vering nie oortollig nie, maar funksioneel.

Die bekende Afrikaanse gesegde lui dat as daar ‘n ‘te’ aan iets geheg word, is dit oortollig en onprakties. Toyota het hierdie balans net reg getref met die Hilux GR-S III. Dit is net genoeg.

Leave a Comment