GWM se P500 bakkie ’n absolute wenner
Elektriese-verstelbare agter sitplekke, ‘n sondak, verhitte en verkoelde sitplekke vir beide sitplek rye, en uiterse gemak. Hierdie is die tipe funksies wat gekoppel word aan meeste nuwe luukse SNVs, tog het GWM elk van hierdie in hul nuutste P500 HEV bakkie geplaas.

Vir jare lank probeer vervaardigers om die oorbrugging tussen ’n praktiese bakkie en die gemak en luukshede van ’n familie-vriendelike SNV reg te kry. Hoewel vele al naby hieraan gekom het, het niemand nog dit 100% reg gekry nie.
Daardie ligte agterbak met bladvering (vir werksverigting), plaas deesdae bakkie ontwerpers se hande in hul hare. Dit is moeilik om beide wêrelde van kliënte ten volle tevrede te stel.

Great Wall Motors, oftewel GWM, het nou hierdie uitdagende mark aangepak met hul P300 en vlagskip P500 bakkies, en hoewel die laasgenoemde nog nie heeltemal daardie 100% perfeksie merk tref nie, is dit beslis die naaste van al die bakkies wat ons getoets het.
Boonop is GMW se duurste P500, die HEV (hibried) Ultra Luxury, net R100 kort van ’n R1 miljoen. Dit klink dalk na baie, maar oorweeg die ander mededingers in die mark. Ford se Ranger Platinum, Volkswagen se Amarok DC Aventura, sowel as talle ander vlagskip (luukse) bakkies is sterk noord van die R1 miljoen merk.

Net Isuzu se 3.0 DDI V-Cross, Toyota se Hilux 2.8GD-6 dubbel kajuit 4×4 GR Sport en ander Sjinese bakkies kan hierby kersvas hou wanneer dit by hul vlagskip pryse kom.
Daarby gesê het ons nog nie ’n luukse bakkie soos hierdie vir onder ’n R1 miljoen getoets nie.

Waaroor die ‘bohaai’?
Dink aan GWM se Tank 500, ’n ultra-luukse SNV wat meeding met diegene soos Ford se Everest Platinum of selfs Toyota se Prado. Die P500 is die bakkie weergawe hiervan, en beslis nie in dieselfde klas as hul Steed werkesels nie.
Pryse strek van R799 900 vir die intreevlak, Luxury model, terwyl ons HEV Ultra Luxury model die duurste van die drie modelle is.

Elk van die drie modelle het dalk kleiner 18” wiele as die Ranger Platinum of Amarok DC Adventura se lae-profiel monster wiele, maar in retrospek verkies ons die ietwat dukker bande vir meer praktiese doeleindes.
Terwyl elk van die modelle (anders as by meeste mededingers) ook ’n elektroniese agterklap het, kan dié van die Super Luxury- en HEV Ultra Luxury modelle op twee maniere oopmaak. Soortgelyk kry die twee modelle ook ’n sondak en klankdig glaspanele; ietwat ongehoord van in die bakkie segment.

Fokus op die binneruim en die P500 kom standaard uit met ’n reuse 12.3” raakskerm, met die Super Luxury en HEV Ultra Luxury s’n wat vergroot word na 14.6”. Elke model kry ook ’n reeks ander funksies soos draadlose selfoon konneksie, ’n multi-funksionele stuurwiel (verhitbaar met die HEV Ultra Luxury model), 360-grade panoramiese kamera, en outomatiese lugversorging.
Elk van die P500 modelle word ook toegerus met ses lugsakke, voor- en agterste parkeer sensors, elektroniese stabiliteits beheer, traksie beheer, ’n anti-rol sisteem, outomatiese rem sisteem, baan wisselings hulp, bult stilstand- en afdraend elektroniese bystand, aanpasbare spoed beheer, en padteken lesers.

Genoeg oemf?
Terwyl die twee intreevlak modelle met ‘n 2.4L turbodiesel enjin kom, wat ’n aanvaarbare 135kW en 480Nm verrig, skop die Ultra Luxury model effe meer uit, te danke aan die HEV sisteem. Hoewel die enjin in die model net ‘n 2L turbodiesel is, skop dit altesaam 255kW en ’n reuse 648Nm uit (die bakkie met die meeste wringkrag, huidiglik). Bygesê, sonder die 1.76kWh battery pak sou die bakkie sowat 78kW en 268Nm minder krag gehad het.
Die 9-spoed outomatiese ratkas is ook redelik glad, met net die eerste rat wat effe springerig is. Tog dink ons dat die hibriede energie meer van hierdie skielike sprong veroorsaak. Verder kan die enjin en ratkas verstel word tussen die normale funksies van ekonomies, normaal, en sporttief. Selfs in die eersgenoemde funksie is die bakkie redelik haastig om enige verkeer verby te steek (en dit met ongeveer 500kg se gewig in die laaibak).

Hoewel die P500 Ultra Luxury HEV ietwat stadiger as Ford se Raptor is, haal dit steeds die 100km/h merk in 8.4 sekondes.
Terwyl die P500 reeks elk 3.5ton kan sleep, dra dit ook met gemak ’n normale ‘bakkie’ gewig in die laaibak. Ons het twee 90km roetes afgelê, elk met ongeveer ’n half ton se meubels in die laaibak. Met die laaibak, wat ook langer en breër is as meeste bakkies in die segment, kon ons met gemak als laai.
Selfs hiermee het die 2.0T HEV geensins gesukkel.
Rygemak?
Die P500 het nie net die tegnologiese aansig van ’n luukse SNV nie, maar voel ook soos een. Met die laaibak vol (meer gewig op die agterste blad vering), voel die P500 heeltemal soos ’n luukse SUV.
Maak die laaibak egter leeg en die P500 voel ietwat meer soos ’n bakkie, maar baie meer gemaklik as vele groot SNVs op die huidige mark.

Die P500 voel gevestig op die pad, met die stuur wat relatief lig is; terwyl die vering voldoende is om meeste krinkels in die pad te absorbeer.
Die kajuit is ook klankdig en laat amper geen padgeraas of skril enjin klanke deur nie. Daar is ongeveer 860mm se kopruimte vir beide sitplek rye, terwyl die beenruimte 580mm is vir voorste insittendes en 630mm vir agterste insittendes.

In terme van algehele werksverrigtinge, verkies ons steeds die groot name, wat vir lank al die mark oorheers. In terme van luuksheid in ’n bakkie, sal ons egter met die P500 gaan. Ons sal graag vir die ietwat goedkoper (R110 000) 2.4Turbo diesel bakkie (Super Luxury) kyk, siende dat dit bykans dieselfde luukshede dra, en ligter is op brandstof.
Dus, vir R889 900 (prys van die Super Luxury) is GWM se P500 bakkie ’n uitstekende aanbod. Koppel dit aan die standaard 7-jaar / 200 000km waarborg, 7-jaar padbystand, en 7-jaar / 75 000km diensplan, en dit raak moeiliker om hierdie aanbod mis te kyk.
