Audi se A7 praat sy eie taal
Toe die Audi A7 sy neus weswaarts in die pad indruk het verskeie beelde, metafore en vergelykings hulle in my verbeeldingswêreld kom tuismaak en terselfdertyd beelde uit die onlangse en langer verlede opgeroep.
‘n Passie vir perdry uit toentertyd laat mens onwillekeuring dink aan ‘n perd wat gedurig nukkerig, halstarrig en ongeduldig loop en ruk aan die teuels om laat skiet te word om sodoende spoed en krag in ‘n gespierde lyf te ontketen en los te laat – en die Audi A7 laat mens onwillekeuring soortgelyke beeld oproep.
Uit die meer onlangse verlede kom die beeld op van die Jamaikaanse naelloper, Usaiah Bolt, op die onlangse Olimpiese Spele wat vir een van die hoogtepunte gesorg het. Die kragtige fisieke voorkoms wat vir niemand menslik op aarde in terme van ‘n kombinasie van krag en spoed hoef terug te staan nie.
Sterk en gespierde skouers en lyne in die bolyf (voorkant) wat in perfekte kombinasie afspits na ‘n stroombelynde res van die liggaam (bakwerk). Bekyk en bestuur jy die A7 is dit hierdie byna foutlose fisiek van die Audi A7 Sportback wat ongeduldig, uitlokkend en verleidelik loop en ruk en pluk aan sy teuels van ongeduld om daardie ongelooflike latente krag los te laat. En hoe broos tog is die menslike teenstand teen uitlokking en verleiding!
Statistieke is voldoende om bogenoemde swymelary te regverdig: 220 kW tussen 5500 – 6500 rpm, 440 Nm tussen 2900 – 4500 rpm, tussen 6.6 en 10.8 liter/100 km brandstofverbruik wisselend tussen stedelik en nie-stedelike paaie, slegs 190 gm/km CO2 uitlaatgasse en dan natuurlik die kersie op die koek: 5.6 sekondes vanaf 0-100km/h met ‘n topspoed van 250 km/h !
Die rede agter hierdie verstommende syfers? ‘n “Gewone” 3liter V6-petrolenjin met ‘n superaanjaer. Om die A7 teen daardie spoed nog steeds aardgebonde te hou sal daar teen 120 km/h ‘n stertvin elektronies ontplooi wat dan weer net so ongemerk sal verdwyn as die teuels ingetrek moet word as gevolg van onheil wat met ‘n kamera in die bosse mag skuil.
Die term Quattro verwys natuurlik na die A7 se permanente vierwielaandrywing waar die basiese verspreiding van krag 60% na die agterwiele en 40% na die voorwiele behels en wat dus padhouvermoë en veiligheid oneindig verbeter. Hierdie tegnologiese ontwikkeling van die A7 is alreeds in 1985 deur die Duitse ingenieur, Walter Röhrl, in die Sport Quattro S1 getoets en is met die loop van tyd nog verder verfyn. (Hier plaaslik het Super Sarel met so ‘n sportmotor die opposisie destyds weggevee).
Om aan die uiters gevorderde tegnologie, veiligheids- en luukseaspekte asook die indrukwekkende bakontwerp van die A7 reg te laat geskied sal te veel tyd en ruimte vir een artikel verg. Tog bring ‘n toetsrit met die A7 onmiddellik ‘n byna asemrowende aspek na vore, naamlik die ongelooflike gladde en dinamiese funksionering van die transmissiestelsel. En dit verg ‘n bietjie nadere tegniese ondersoek.
Die sewespoed dubbelkoppelaarstelsel van die A7 sorg vir ‘n ratverwisseling wat slegs enkele honderdste van ‘n sekonde neem en waartydens daar prakties gesproke haas geen onderbreking in aandrywing voorkom nie. Die geheim lê in die twee multiplaat-koppelaars wat die verskillende ratte bedien.
Een groot koppelaar versprei die wringkrag na die onewe nommers ratte toe terwyl ‘n tweede koppelaar krag na die ewenommer ratte toe verplaas. Indien versnelling in derde rat plaasvind is die alternatiewe koppelaar alreeds besig om die spoed na die vierde rat toe te verplaas! “Voorsprong deur Tegniek” in sy allerfynste en besondere werklikheid.
Die idee van ‘n vierdeur luikrugmodel in die super luukse marksegment is alreeds vroeër deur ander Duitse konkurrente, en veral Mercedes se CLS, aan die mark bekendgestel. Audi se A7-reeks bied egter heelwat meer been- en kopruimte agter asook in die bagasiegedeelte, ten spyte van die daklyn wat skerp na agter afspits.
Miskien kan daar volstaan word met die onomstootlike feit dat aantreklike uiterlike voorkoms so intuïtief en instinktief aan die mens is soos asemhaal en eet. Of om dan die bekende esteet, Oscar Wilde, aan te haal: “Skoonheid is die wonder van wonders en dat slegs “vlak” mense nie oordeel volgens voorkoms nie.” Weereens slaag die Audi 7 ook hierdie toets met vlieënde vaandels.
Dit is aan te beveel dat ‘n man in die mark vir ‘n supermotor self ‘n toetsrit onderneem om die vaandels te toets; dit is moontlik deur net met Audi Centre in Somerset-Wes wat ook die toetsmotor verskaf het, te skakel. En vir die aanhangers van turbodiesel modelle is daar ook goeie nuus, die Audi A7 is ook in ‘n dieselweergawe beskibaar.
Die Audi A7 petrolmodel se allesinsluitende prys is N$734 900 en word gerugsteun deur ‘n diensplan van 100 000km/5jaar, ‘n noodbystandplan en ‘n jaar/onbeperkte afstand waarborg.
Stertjie: Die vierring-handelsmerk van Audi spruit uit die samesmelting van vier maatskappye in 1932 om Auto Union AG te vorm met hul hoofkwartier in Chemnitz, Duitsland. DKW was een van die groep en sou konsentreer op motorfietse en ligte voertuie met ‘n tweeslagenjin wat ook in Suid-Afrika bekendheid sou verwerf.
Audi, een van die ander drie bene, sou konsentreer op gerieflike middelslag en groter motors. Met die beïndiging van die Tweede Wêreldoorlog in 1945 is die eiendomsreg van die moedermaatskappy van Audi, Auto Union AG, deur die Russiese besettingsleër vervreemd.
In die daaropvolgende skuif na Beiere is ‘n nuwe maatskappy, Auto Union GmbH, in 1949 in Ingolstadt gestig om hierdie gedugte vierring-kombinasie se reputasie gestand te doen. ‘n Nuwe Auto Union model met ‘n vierslag enjin het in 1965 die lig gesien en die naam “Audi” is hergebore. Die res is geskiedenis en hiervan is die A7 en ander modelle ‘n lewende bewys van ongekende voorsprong deur tegniek.
Sedertdien het baie water die see ingevloei en het Audi in menige opsigte in die motorvervaardigings bedryf die toon aangegee, soos gesien kan word in ondere andere die A7 TFSI Quattro, maar ook in ander modelle van super gehalte.