Padtoets: BMW 316i

Beiere se trotse intree-sedan

BMW is al jare lank gevestig in Suid-Afrika, reeds vóór die Tweede Wêreldoorlog het daar al van die legendariese 328 sportmotors op die gruispaaie van destyds stof opgeskop. Daarna is daar enkele BMW 501 in die vyftigerjare deur ‘n trekkermaatskappy ingevoer maar die verouderde bakwerk van die motors het nie juis byval gevind nie, al was hulle met V8 enjins toegerus!

Dit was eers die klein Isetta en die BMW 700-reeks wat die Beierse vervaardiger in die sestigerjare Suid-Afrika bekend gemaak het. Dit was ook eers in die post-1960 jare wat die legendariese BMW 1500 as volle ingevoerde model plaaslik beskikbaar geword het. Met die verdwyning van die gewilde Borgward Isabella van die toneel het BMW nou ingeskuif as die enigste vervaardiger wat die prestige-ryke Mercedes op ons turf kon aandurf. Dit was natuurlik nadat ‘n plaaslike maatskappy begin het om die BMW 1804 en 2004 hier te monteer. En vir dié  wat al van hierdie motors vergeet het; dit was die Glas 1700 van Hans Glas, van Goggomobil-faam en in Umtare in Zimbabwe as die Cheetah bekend gestaan het.

Terug na die BMW 3-reeks wat heelwat later by ons op die toneel verskyn het en onmiddelik ‘n blitsverkoper geword het. Vir ‘n kort tydjie is ‘n uniek Suid-Afrikaanse model, die BMW 333i vervaardig en was dit die blitsigste klein BMW in die wêreld op ‘n tydstip wat die klein Ford Capri, aanvanklik ‘n 1,6 liter enjin met ‘n reusagtige V8 op ons renbane deelgeneem het.

Om een of ander rede is ons Suid-Afrikaners behep met kilowatt en perdekrag en was ons 316 modelle toegerus met 1,8 liter enjins. Hierdie mode is gelukkig aan die verdwyn en het die 316i nou inderdaad ‘n 1,6 liter enjin. Om te vergoed vir die verlies in enjingrootte, is daar van turbo-aanjaging gebruik gemaak om verrigting vir die plaaslike mark te verbeter.

Oor die bakvorm en die niertjievormige neus voor, hoef daar nie uitgewei te word nie; BMW se stilering was nog altyd voor in die koor en die blou-en-wit vliegtuigskroef-embleem verteenwoordig steeds uitmuntende verrigting en padhouvermoë. Geen wonder dat ‘n Chinese bakkievervaardiger die niertjie sierrooster op hulle stompneus voertuie aangebring het in die hoop dat dit kopers sou lok nie! (Hulle moes op die ou end die aftog blaas nadat daar met die hof gedreig was).

Die jongste BMW 316 wat ons onder hande gehad het, en wat aan al die verwagtinge wat reeds genoem is voldoen, was die  “Modern” weegawe waarin daar verskeie “ekstras” by die prys ingesluit is om die motor nog meer aanloklik te maak. Die kajuit is stylvol, die kontroles op die regte plekke en die stuur en sitplek verstelbaar om die bestuurder volle beheer oor die motor te gee. Dit is dan ook op draaierige paaie waar die BMW 3-reeks sy sportiewe eienskappe op sy beste weerspieël. Hoewel die skrywer baie lanklaas ‘n BMW teen hoë spoed oor lang afstande bestuur het, bly die indruk nog dieselfde: Daar is min motors wat teen werklik hoë snelhede so stabiel soos ‘n BMW op die pad is.

Die hart van die 316 is ‘n 1 598 cc enjin wat 100 kW teen 4 350 opm ontwikkel en 220 Nm teen ‘n rustige 1 350 opm beskikbaar stel; overgeset synde, daar hoef nie met die ratkierie deur die ses gange gejaag te word om die Beierse perd te laat spring nie. Trap die pedaal en hy versnel met ‘n baie ordenlike tempo. Hy is nie ‘n renperd nie maar draf tog die 1-100 km/h versneltoets af in minder as 9 sekondes en laat die naald draai by 210 km/h op ‘n windstil dag.

Hoewel die brandstofverbruik nie onder praktiese toestand getoets is nie, gee die vervaardiger ‘n syfer van 4,7 liter per 100 km aan vir ooppad bestuur en 7,6 vir die langpad. Werklike verbruik sal waarskynlik met ‘n liter ekstra nader aan die werklikheid wees, afhangende van die bestuurstyl van die (gelukkige) eienaar van die 316i.

Wat ‘n groot indruk op die passasiers gehad het, was die waarskuwing wat die BMW gee as daar ‘n motor in die bestuurder se blindekol beland; daar is liggies in die buitespieëls ingebou wat flikker en as daar dan na die regterbaan gedraai word; is daar ‘n vibrasie in die stuur om die bestuurder te waarsku dat daar moeilikheid aan die kom is. Hierdie stelsel werk baie goed saam met al die elektronika wat die stuur- en gedragstelsels van die BMW beheer. Veiligheid en verrigting kom baie goed by mekaar uit in hierdie BMW.

Maar wat kos al hierdie genietinge? Die basisprys van die BMW 316i is N$349 500 maar met die “Modern” plaatjie langs die kant, gaan die prys op na N$372 200. Of die deursnee motorkoper vir hierdie, meestal kosmetiese ekstras, sy beursie gaan oopmaak, is onseker? Ons keuse is beslis die basismodel sonder enige tierlanteintjies.

In ruil vir die belegging; kry die koper ‘n vinnige, stylvolle en beproefde luukse sportsedan wat gedek word deur ‘n 5-jaar of 100 000 km diensplan en waarborg. Die vervaardiger se bystandsplan; BMW On Call; is ook in Nambië en Botswana van toepassing; BMW eienaars is in elk geval mense wat vinnig en ver wil ry en is hierdie klein ekstra belangrik tussen Gaberonne en Windhoek!

Leave a Comment