Bekendstelling: Renault Duster

Renault se nuwe Duster 4×2 en 4×4 gaan Namibiërs verras

Met die onlangse bekendstelling van sy veeldoelige Duster in die C-SUV segment is Renault  SA oortuig dat hierdie nuweling in die Renault stal ook in Namibië en Suid-Afrika die ongekende sukses gaan behaal as wat die geval in Rusland, Indië en Brasilië was.

Hiermee het Renault sy eerste model wat aan die streng Europese standaarde voldoen, maar wat ook die strawwer rytoestande in Suid-Afrika sal kan baasraak, bekend gestel.  Renault glo inderdaad dat die Duster die Suider-Afrikaanse dubbeldoel motormark soos ‘n stofstorm hierdie somer gaan tref en gaan bydra tot die verwagte verkoopsyfer van 400 000 wêreldwyd.

Met sy wye wielboë, chroomversierde rooster en gepierde lyne maak die Duster dit baie gou duidelik dat jy hier te doen het met ‘n volwaardige, veeldoelige nutsvoertuig wat ook gereed is vir die taaiste buitelug toestande.

Met ‘n lengte van 4.32 meter en 1.82 wydte en ‘n wielbasis van 2.67 bied die Duster meer binneruimte as enige ander C-segment nutsvoertuig.  Die voertuig bied meer as genoeg ruimte vir vyf insittendes en met ‘n laaikapasiteit van 475 liter gaan die Duster ook groot aanspraak maak op die stedelike familiemark.  Op ‘n toetsrit oor ‘n veeleisende 4×4 roete het die Duster met sy grondhoogte van 2.5 mm by die 4×2 en 210 mm by die 4×4 modelle onderskeidelik die toets met vlieënde vaandels geslaag.

Renault het ook gesorg dat die vier modelle waarin die Duster beskikbaar gaan wees waarskynlik die breedste spektrum van voorkeure, wat aandrywing betref, sal bevredig.  Die modelle is beskikbaar in ‘n keuse van twee enjin tipes, naamlik ‘n 1.6 petrol- en ‘n 1,5 dCi turbo dieselenjins.  Eersgenoemde enjin, wat ook in die Mégane en Scénic gebruik word, lewer ‘n kraguitset van 75 kW by 5 850 o/pm en 145 Nm wringkrag by 3 750 o/pm met nog steeds ‘n bruikbare brandstofverbruik van 7,5 liter/100 in die gemengde siklus.

Wat die dieselenjin betref het Renault sy ondervinding in die Formule 1 arena gebruik om, ten spyte van afskaling van enjinkapasiteit, nog steeds maksimum werkverrigting uit sy enjins te verkry.  Hierdie 1,5 dCi enjins lewer ‘n uitstekende 80 kW kraguitset en 240 Nm wringkrag by 1 750 o/pm vir die 4×4 en by 2 250 vir die 4×2.  Met sy ses spoed handratkas lewer die Duster uitstekende werkverrigting en dit was veral die responsiewe wringkrag uitset in vierde rat wat in die bergpasse opgeval het.  Die Duster se dieselenjins spog verder met ‘n amper ongelooflike brandstofverbruik van 5.5 liter/100km by die 4×2 en, let op, ‘n nog beter verbruik van 5.3 liter/100km by die 4×4 wat byna teenstrydig klink as die twee vergelyk word.

Renault se Duster bied ‘n intreevlak model, die Expression, met ‘n 1.6 liter petrolenjin wat weinig verskil wat voorkoms en binne funksies betref van die meer luukse drie Dynamic modelle.  Standaard is die misligte voor, dakreëlings en 16” wiele terwyl die binneruim voorsien is van lugreëling, elektriese vensters voor en agter, afstand sluitbeheer, elektronies verstelbare kantspieëls, hoogte verstelling van die stuurwiel en bestuursitplek, CD/MP3/ radio met satellietkontrole, USB en Bluetooth konneksies, ‘n aan boord rekenaar en agter sensors.  Standaard veiligheids eienskappe sluit in ABS-remme, elektroniese remverspreiding en nood rembystand en voor sowel as kant lugsakke vir die passasier en bestuurder.

Die Dynamic modelle spog met die aanraak navigasieskerm bekend as die MEDIA NAV en leerafwerking van die stuurwiel en ratkierie.  Hierdie gevorderde navigasiestelsel bied beheer oor navigasie, radio en media funksies (draagbare musiekstelsels en selfone) deur middel van ‘n 18 cm skerm.

Die Dynamic is beskikbaar met ‘n 1.6 liter petrol- of met ‘n 1,5 dCi turbo dieselenjin met ‘n keuse van 4×2 of 4×4 aandrywing in laasgenoemde geval.

Die ratverhouding van die ses spoed ratkas speel veral by die 4×4 ‘n groot rol as gevolg van die kort eerste rat waar die 5.79 km/h teen 1 000 o/pm die bestuurder in staat stel om met die grootste gemak uiters ongunstige bestuur toestande te hanteer sonder die gevaar om die koppelaar te laat brand.  Die 4×4 model is ook verder toegerus met ‘n elektroniese stabiliteit program en die bestuurder kan kies tussen óf tweewiel voor aandrywing (2WD), óf AUTO met outomaties kragverspreiding na alle vier wiele in gladde toestande óf dan ‘n LOCK modus wat trekkrag permanent na al vier wiele herlei.

Die Duster reeks kom, soos alle Renault modelle, met ‘n 5-jaar/150 000km waarborg en ‘n 3-jaar/45 000km diensplan met diens intervalle van 15 000 km.  Voornemende kopers sal bly wees oor die nuus dat onderdele ten alle tye beskikbaar is en dat diens- en onderhoudskoste niks meer as dié van ‘n gewone C-klas sedan motor is nie.  Pryse van die Duster is uiters kompeterend en selfs ‘n nog groter verrassing as na die volgende gekyk word:

1.6 Expression 4×2     N$194 900
1.6 Dynamique 4×2     N$204 900
1.5 dCi Dynamique 4×2     N$219 900
1.5 dCi Dynamique 4×4     N$239 900

Leave a Comment