Padtoets: BMW X5 xDrive48i

Sinloos maar briljant

Ek hou nie baie van sport-nuutsvoertuie (SUV) nie, hoofsaaklik omdat hulle voorgee om ‘n vier-by-vier te wees maar in meeste gevalle vir sulke doeleindes onbruikbaar is. Dit irriteer my op die selfde vlak soos deftige skinkgoed wat nie benut mag word nie, of funksies van my nuwe selfoon wat ek nooit ooit sal gebruik nie. Absoluut sinloos!

So is dat 20-duim wiele en metaalverf net twee redes is hoekom dit nie ‘n baie slim plan sal wees nie om met ‘n X5 xDrive48i in die veld jou eie pad te maak nie. Nee, hierde massiewe BMW is perfek vir mense wat graag belangrik… ‘skuus, veilig en vinnig wil werk of skool toe ry’. En terwyl ek baie hard probeer het om nie my mening te verander nie, het dit nie lank gevat voor ek my hart op groot, swart BMW te veloor nie!

Ek dink nog steeds dat ‘n stasiewa of sedan ‘n beter keuse sou wees om die kinders by die skool te gaan haal of inkopies te doen, maar die hoogte en grootte van ‘n X5 bring elemente van veiligheid en vertroue tot jou bestuursgenot. Hy is maar ‘n sagte vier-by-vier wat meer vir teerpad-gebruik geskik is. En omdat dit ‘n BMW met M-pakket is, sal hy nes ‘n sportmotor om die draaie vlieg. Miskien ook beter.

In my vriendekring was dit veral die dames wat vir die xDrive4.8i ogies gemaak het, terwyl die kêrels net onder die enjinkap wou inloer. Die meisies het almal met groot glimlagte bevestig dat hulle aan veiligheid en luuksheid dink toe hulle die binnekant van die toetsvoertuig navors.

Intussen was die ouens op hande en knieë om die vet bande en onderstel te bekyk. “Hoeveel kos so ‘n band?” vra die een, “Wat’s sy nul tot honderd tyd?” doen die ander navraag. Die agterste 315mm rubbers kos omtrent N$7 000 elk, en die X5 xDrive4.8i sal in 6.5 sekondes by 100km/h verbyjaag. En as jy dink dié syfers, of die buitekant, is indrukwekkend, raak dit net beter as jy in die X5 inklim.

Die sitplekke en deure is met sagte leer bedek, die matte is ewe sag, en vóór in die motor is daar meer speelgoed as in ‘n Toys ‘R Us. Kragstuur, klimaatbeheer, lugsakke, elektriese vensters, rit—rekenaar, outomatiese Xenon hoofligte, ‘n panorama glas sondak, sentrale sluiting en al daai “normale” goeters is standard, en die motor spog met nog baie meer interessante toerusting.

Die X5 xDrive48i M Model toetsmotor was toegerus met ekstras soos ‘n 6-DVD wisselaar, aktiewe stuur, sagte sluiting van sy deure, stem-herkenning, navigasiestelsel en ‘n “heads-up display” wat spoed en navigasie vir die bestuurder wys. Veral snags voel mens meer soos ‘n vlieënier as ‘n bestuurder.

Spasie en gemak is in oorvloed te vind, en die voorste sitplekke het baie goeie ondersteuning vir die meer sportiewe bestuurders. Die “M” stuurwiel (met verskeie knoppies wat ook individueel geprogrameer kan word) het ‘n baie dik rand en saam met die aktiewe meganisme verander dit die X5 in ‘n handige en flink motor op stedelike paaie en ook om skerp draaie.

Die instrumente is eenvoudig en maklik om te lees, en terwyl ek altyd van die BMW brandstofverbruik-naaldjie gehou het, was dit ‘n slegte idée om dié item in hierdie motor te sit! Meeste van die tyd haak hy maar by sy maksimum van 20 vas en beweeg nie graag terug nie. Die ritrekenaar op die sentrale i-Drive-skerm bevestig ‘n gemiddelde verbruik van 17 l/100km.

Die i-Driveestelsel word beheer met ‘n ronde silwer knop aan jou linkerkant en hierdie weergawe was redelik ongekompliseerd met sy opsies van informasie en voortuig-stellings, navigasie, musiek, telefoon (Bluetooth), en klimaatbeheer. Sien julle nou hoekom ek die bul van ‘n motor nie kon weerstaan nie?

Ja, dis ‘n spog-motor en ja, ek het somtyds vergeet om my flikkerligte te gebruik. Voort, sê ek; uit my pad uit! Ek is meer belangrik as jy, en altyd haastig om iewers te gaan. Nie seker waarheen nie, maar ek’s haastig. Hierdie gedrag is ook te danke aan die 4.8 liter V8 enjin wat 360pk en 475Nm seepglad en opwindend vinnig deur sy 6-spoed outomatiese ratkas jaag.

Die ratkas het ook ‘n “Sport” modus, en pas by jou styl van ry aan. So dit was my eie skuld dat die X5 gevolglik effens skerp en haastig met sy ratte was, omdat ek miskien ‘n bietjie te veel voet neer gesit het. Met 6 ratte is mens nooit ver van ‘n harde V8 gebrul nie, en in ‘n motor van dié grootte en gewig is dit nogal ‘n asemrowende ervaring.

Maar die X5 xDrive48i kan ook saggies-saggies speel, en met verbasende gemak op 60km/h deur die dorp of 120km/h op die N2 fluister – dikwels in die rigting van ‘n vulstasie. Die X5 was een van die min motors wat ek nie vir ‘n volle week op een tenk kon toets nie.

Ek hou nog steeds nie van die 4×4-op-steroïde konsep nie, maar as die X5 slegs as ‘n groot BMW bekyk word, is dit ‘n baie goeie motor. Nee, maak dit ‘n BRILJANTE motor! Die meeste van die xDrive48i M Model se potensiële kopers sal min gepla wees oor sy buitensporige verbruik, of die N$789 800 se kleingeld wat hulle sal nodig hê om hom te kan besit. Hulle sal ook ‘n 5 jaar 100 000km diensplan ontvang, wat ongelukkig nie bande of brandstof insluit nie.


Image Gallery

Leave a Comment