Geskiedenis: Oos-Duitse voertuie

Vyftig jaar van Zwickau, Sputnik en Trabant!

Op 4 Oktober was dit presies vyftig jaar gelede wat die Russe daarin geslaag het om ‘n satelliet in ‘n wentelbaan om die aarde te plaas. Hiermee het hulle die Amerikaners die skrik van hulle lewe gegee en het hulle die ruimtewedloop tussen die twee state aan die gang gesit.
Hierdie epogmakende gebeurtenis het op die Oos-Duitsers so ‘n indruk gemaak dat hulle daar en dan besluit het om hulle nuwe model P70 tweesilinder, tweeslag motortjie, wat toe pas vir massaproduksie gereed was, tot Trabant te herdoop!Die woord Trabant synde dieselfde te wees as satelliet, of te wel, iets wat tussen vaste punte pendel.

Die voorloper van die Trabant, die P70, was meganies niks anders as die vooroorlogse model DKW nie; dit was slegs die bakwerk wat meer modern geword het. Tot en met 1956 het die Oos-Duitsers steeds die vooroorlogse model DKW met slegs geringe wysigings aan die bakwerk bly bou en was dit bekend as die IFA F8 (IFA = Industrieverwaltung Fahrzeugbau). Ter wille van die uitvoermark, veral Skandinawië en België, het die kamerade besluit om die P70 onder die handelsnaam Zwickau te bemark omdat die vrye broers in die Weste gewoond was aan ‘n naam soos Austin, Borgward of Citroën, eerder as ‘n reeks verwarrende letters en syfers wat slegs in sosialistiese taalgebruik sin gemaak het.

In die laat vyftigerjare, en selfs vroeë sestigs, was daar ‘n paar Suid-Afrikaners wat iewers ‘n gaping gesien het om motors en ander produkte soos presisie-gewere soos dié uit Suhl, hierheen in te voer – ondanks sanksies van die kant van die Oos-Europese state.* Een van die ondernemende firma’s was  Kimberley Export Company wat vanaf 1957 naby die Groot Gat ‘n agentskap bedryf het onder die naam Open Mine Motors. Hulle het die P70 Zwickau, die EMW (Eisenacher Motoren Werke) Wartburg en Barkas stasiewaens, met hulle Tweede Wêreldoorlog voorkoms, direk ingevoer en by hulle toonvenster uitgestal. As jong knaap van dertien kon ek destyds nie verstaan hoe iemand hoegenaamd kon droom om sulke lelike of verouderde voertuie te koop nie; juis te meer omdat pa se Borgward toentertyd waarskynlik een van die mees moderne motors op die pad was. Die mees aansienlike van die reeks Oos-Duitsers, die Zwickau P70, het hulle reeds vroeër in 1957 in Pretoria tydens ‘n motorskou uitgestal.

Die Zwickau was in drie weergawes op die Suid-Afrikaanse mark beskikbaar; ‘n sedan teen £627, ‘n stasiewa teen £641 en ‘n elegante koepee teen £738. Gedurende 1957 en 1958 is 136 van hierdie motors verkoop. In 1959 het die Kimberley Export Company egter opgehou met die invoer van Zwickau’s en eerder die Russiese Volga aan Suid-Afrikaners gelewer! Dit sê nie veel vir die moraliteit van die Oos-Blok nie!

Die volgende persoon om weer die Zwickau in te voer, wat intussen na die lansering van Sputnik nou die naam Trabant gekry het, was ‘n meneer de Vries van Alberton wat onder die naam FRISO Motors handel gedryf het. Dit was in 1961, die tyd wat klein Wes-Duitse motortjies soos die NSU Prinz en Gogomobil plaaslik gewildheid verwerf het en daar gereeld padtoetse oor hierdie Duitse miniatuurmotors in CAR en Motorgids verskyn het. Dit was dan ook Motorgids wat in 1961, na ‘n padtoets, ‘n baie positiewe verslag oor een van mnr de Vries se Trabants geskryf het! In 1962 het die Trabant egter nie meer in die pryslyste van motors wat op die plaaslike mark beskikbaar was, verskyn nie.

My eerste – en laaste – rit in ‘n Zwickau/Trabant, was ‘n trippie as student vanaf Stellenbosch Strand toe en terug saam met Hendrik Verwoerd, seun van die destydse Premier. Hendrik het na ‘n tweedehandse Borgward gaan kyk en ek het die eienaar in die Strand geken.

Daardie tyd het die rookwolke van die tweeslagenjin, wat in die kajuit ingewarrel het, ‘n effens onaangename nasmaak gelaat oor Oos-Duitse tegnologie. Maar nou na al die jare, ná al die politieke veranderinge ná die val van die Berlynse Muur en die ingrypende politieke veranderinge op die tuisfront, is dit vir my baie ironies dat dit juis die Suid-Arikaanse Premier se seun was wat ‘n Zwickau het. Vir die kamerade in die hoofbestuur van die Kommunistiese Party in Oos-Berlyn moes dit ‘n bitter pil gewees het as hulle hierdie prentjie sou kon sien!

In 1987 het ek Oos-Duitsland en Oos-Berlyn besoek en daar vir die eerste keer met die opgegradeerde Trabant 601 sedans en stasiewaens gesien. In die Unter den Linden, die hoofstraat van Oos-Berlyn, het hulle in toue gestaan en was ek onder die indruk van wat die term “volksmotor” nou eintlik regtig beteken; daar was soms vir letterlik kilometers geen ander soort motor in sig nie. Kort na my besoek was daar aangekondig dat daar in Oos-Duitsland met die bou van Volkswagen Polo enjins ‘n aanvang geneem sou word en dat die Wartburg en Trabant aangepas was om met Volkswagen-enjins toegerus te word. Was dit die eerste tekens wat op die val van die Muur kort daarna gedui het?

Trabants raak skrapser by die dag; Zwickaus nog meer so. Maar gelukkig het Hendrik Verwoerd die insig gehad om sy sedan te behou en te begin restoureer. En dan het hy later ook ‘n baie skaars Coupé in die hande gekry. Hierdie coupé is waarskynlik die enigste eksemplaar wat in die Suidelike Halfrond bestaan – indien nie die enigste buite die ou Oosblok nie! Dankie vir mense wat nie goed op ashope gooi nie; dankie Hendrik!

* Vir meer inligting oor die verbreking van sanksies deur die Oos-Duitsers kan die artikel “Trotz Sanktionen – DDR-Fahrzeuge rollen in Südafrika” in die boek  Engagiert für Afrika. Die DDR und Afrika,Deel 2, gelees word. Die redakteurs van die boek is Ulrich van der Heyden en Helmut Schleicher. (Hamburg, 1994).

Leave a Comment