Die plesierige ervaring
Dit het al weer gebeur. Vir ‘n tweede keer kon ek nie ‘n toetsvoertuig van BMW vir sewe dae met een tenk brandstof toets nie. Hierdie keer was dit nie die skuld van die motor se brandstofverbruik nie (gemiddeld 9 l/100km), maar egter my onweerstaanbare lus om effens doelloos net met dié spog-sportmotor rond te ry.
Die Kaapse winterweer was nie gunstig nie, en die laaste paar dae was gekenmerk deur reën, koue, reën, wind, en meer reën. Maar dit het my tog ‘n kans gegee om die nuwe Z4 se grootste verandering te toets: hy het nou ‘n harde vou-dak.
Ek was nooit oortuig van die sukses van die vorige Z4 se stilering nie; kollegas het dikwels opgemerk dat mense die motor se voorkoms absoluut gehaat of bewonder het. Ek het gou aan sy unieke lyne gewoond geraak, maar was nie mal daaroor nie.
Die manne van München het die nuwe Z4 baie vars en opwindend geteken, en daar is definitief elemente van ‘n 6-reeks in die motor se neus. Sy enjinkap het langer geword en die klasieke “roadster” beeld word deur dramatiese lyne langs sy kante en ‘n kort kattebak verbeter.
Soos alreeds genoem, die vorige Z4 was ‘n gewaagde en unieke ontwerp, maar die nuwe model lyk baie meer agressief en ongelooflik sexy (aantreklik?). Sy agterkant wys groter en meer delikaate ligte (met LED tegnologie), en in goeie BMW tradisie steek daar twee groot blink uitlaatpype by die buffer uit.
Aan die binnekant het dinge ook verbeter met meer toerusting en ‘n nuwe voorkoms. Omdat ‘n Z4 se bak so naby die teer sit is dit ‘n bietjie moeilik om in die motor in te kom. Sy twee sitplekke sweef slegs ‘n paar sentimeter bo die pad, en dikwels VAL ‘n mens meer in die motor in terwyl jy huiwerig probeer om in te klim!
Albei sitplekke is gemaak vir sportiewe eienaars en het harde kante wat baie ondersteuning vir enige vinnige rigtingsveranderings bied. Hulle is elektries verstelbaar, en die stuurwiel van ‘n Z4 kan ook vir hoogte of lengte verander word.
Dit bly maar ‘n BMW kenmerk nog voordat jy die enjin aanskakel, die sportiewe houding wat elke bestuurder agter die wiel geniet. Hier sal jy ook ongekompliseerde instrumente sien wat ‘n water temperatuurmeter vir ‘n olie-weergawe veruil het. Dié naaldjie gee jou ‘n beter indruk wanneer die tyd reg is om die Z4 sDrive30i se drie-liter in-lyn ses silinder te laat sing. Maar dit vat ‘n rukkie voordat die uitstekende enjin warm word, en dit begin met ‘n knoppie wat snaaks genoeg “Engine Start” genoem is.
‘n Z4 word wakker met die klank van ‘n goed-gebalanseerde ses-silinder en ‘n groot informasie skerm vou in die middel van die kajuit oop. Radio, CD, USB, navigasie, parkeer-hulp, telefoon (Bluetooth) en ‘n paar ander verstellings word almal hier vertoon. Die invoer/vloei van informasie word deur die sentrale iDrive knoppie beheer.
Die dik BMW stuurwiel het ook knoppies vir die meeste funksies, en in die nuutste Z4 spog hy ook met rat-wisselaars aan albeikante. Die twee silwer pedale verrig dieselfde werk; so kan mens met jou linker of regter hand die ratte in albei rigtings skakel. Druk enige pedaal vorentoe vir ‘n laer rat, of agtertoe vir ‘n hoër een.
Z4 se 6-spoed outomatiese ratkas sal vinnig by jou styl aanpas, maar na ‘n paar sekondes weer sy eie dinge doen. Druk die “Sport” knoppie langs die ratskakelaar en jy kan kies van drie moduse: Normaal, Sport of Sport Plus.
Eersgenoemde is vir alledaagse (vol outomaties) gebruik, die tweede laat die ratkeuses aan jou via sy stuurwiel spane, en die laaste doen die selfde maar skakel die wieltolbeheer af! Met die sDrive30i se prys ‘n raps bo N$600 000 het ek hierdie instelling vermy, maar dikwels in “Sport” deur die dorp beweeg.
As die harde dak elegant in die kattebak gestoor is, verander die Z4 in ‘n wonderlike klein sportmotor. Daar woon ses trompette in die uitlaatpype wat op verskillende toere óf dreun óf brul, en die motor se verrigting is hoogs plesierig met 190kW (258pk) en 310Nm wat jou in 6 sekondes tot 100km/h laat versnel.
Die effens harde veringstelsel verander in ‘n baie presiese manier om met vertroue vinnig deur draaie te kom; die Z4 sal beslis ‘n sportiewe motoris se hart hart bly maak! Omdat mens so laag en ver agter sit (net vóór die agterste as), en net-net bo die massiewe enjinkap uitkyk, gee die BMW Z4 jou ook ‘n nuwe bestuurservaring; ‘n baie plesierige een.
BMW se Z4 het nou die hardekap wat hy altyd verdien het, hy lyk ongelooflik mooi en sy padvermoë is nog steeds op BMW se hoogs-sportiewe standaarde. Die van julle wat hom kan bekostig sal nie teleurgesteld wees nie, en dan ook nog die 5 jaar of 100 000km motorplan geniet.