Padtoets: Chery J2 1.5 TX

‘n Chinese kersie op die koek

Om die Chinese motorindustrie te verstaan en te waardeer is dit noodsaaklik om ook die Chinese se besigheidskultuur en die benadering van die gewone Chinees op straat tot sy of haar daaglikse verbruikerslewe te verstaan.

Die ontploffing van die Chinese ekonomiese ontwikkeling oor die laaste 20 jaar het ‘n ingrypende verandering oor die breë sosio-ekonomiese spektrum tot gevolg gehad.  Oor so min as twee tot drie dekades het die Chinese ekonomie tot die tweede grootste, naas die van die VSA, gegroei met ‘n jaarlikse gemiddelde groeikoers van ongeveer 10% en met Sjanghai, aan die mond van die magtige Yangzte rivier, as die sentrale en hoofsentrum.  Chinese verstedeliking het byna chaotiese afmetings aangeneem (Sjanghai het ‘n groter inwonerstal as die totale Australiese bevolking) en so ook die getal motorvoertuie op Chinese paaie.  China se enorme bevolking van meer as 1,2 biljoen het ‘n ideale binnelandse mark vir motorvoertuie en gebruiksgoedere geskep en vervaardigers het soos paddastoele opgeskiet.

Die Chery Automobile Co. Ltd is in 1997 deur die staat opgerig met sy hoofkwartier in Wuhu, Anhui provinsie.  Dit was ‘n uitstekende keuse om die fabriek spesifiek daar op te rig aangesien die Yangzte deur die provinsie vloei en sodoende goedkoop vervoer vir grondstowwe en vervaardigde eindprodukte verskaf.

Die persepsie bestaan, en is miskien geregverdig, dat die aanvraag na motorvoertuie in die plaaslike Chinese mark so geweldig groot was (om ‘n voertuig te besit is vandag nog vir die gewone Chinees ‘n statussimbool aangesien eiendom aan die staat behoort) dat daar letterlik nie tyd was om voor ontwerpersborde te verwyl nie.  Vandaar die etiket om Chinese  motors se nekke van:  ‘n kopié, van ‘n kopié, van ‘n kopié… ter versagting kan mens dalk aanvoer dat hulle ten minste kopieë van uiters suksesvolle produkte maak!

Hierdie tendens van Chinese vervaardigers blyk iets van die verlede te wees en daar is al by herhaalde kere gemeld dat Chinese voertuie oor die laaste jaar of drie hulle eie individualiteit ontwikkel het en die kwaliteit met rasse skrede verbeter het.  So kan Chery se nuutste luikrugmodel, die J2 1.5 TX, met reg daarop aanspraak maak dat sy groot hoofligtegroep in ‘n vloeiende lyn met die agterste ligtegroep geharmoniseer is en die dat die agressiewe voorkoms van sy sierrooster getuig van ‘n onafhanklike stilistiese ontwerp – van watter hoek jy dit ookal bekyk.  Vir ‘n luikrugmodel is die binnekant uiters ruim.  Die 15 duim allooi wiele met hulle tien speke elk en die gekleurde kantspieels, gee aan die motor ‘n uiters sportiewe voorkoms.

Die binneruim van die Chery J2 bied meer as wat ‘n mens verwag van ‘n motor in hierdie prysklas.  Sitplekke is gemaklik en die lugreëling uiters effektief en maklik bereikbaar vir verstelling.  Die uitleg van die instrumentepaneel is uiters prakties en strategies geplaas sodat die bestuurder met die eerste oogopslag alle inligting kan waarneem.  Luistervermaak word verskaf deur ‘n radio/CD/MP3 kombinasie met nie minder nie as ses luidsprekers en ‘n USB kontakpunt is ook aanwesig.  Verder bied die Chery J2 elektriese beheer van die  vensters en buitespieëls, hoofligte se hoogte wat verstel kan word en afstandbeheer van die sluitmeganisme.  Die binneruim is voldoende vir vyf volwasse passasiers terwyl die 270 bagasieruimte verder vergroot kan word as die agterste sitplekke afgeslaan word.

Aandrywing van die Chery J2 geskied deur ‘n 1.5-liter enjin wat 72kW teen 6 000rpm ontwikkel en 140Nm by 4 500rpm beskikbaar stel.  Die vyfgang handratkas bied gerieflike en gladde oorskakeling.

Die Chery J2 verras met sy uitstekende veiligheidseienskappe.  Dit sluit in ABS-rembeheer wat verhoed dat remme sluit as daar skerp gerem word, elektroniese remkrag verspreiding (EBD), versterkte sykante in geval van ‘n kantbotsing, dubbele lugsakke voor terwyl ‘n alarmsistelsel en immobiliseerder behoort te sorg dat jou Chery nog op die plek sal wees waar jy hom laas gelos het.

Chery se vervaardigers en verspreiders het geen twyfel nie dat die J2 die beste mededingers in die B-segment luikrugmark die stryd kan aansê.  Met die bekendstelling is motorskrywers genooi om die J2 te vergelyk met die die Polo Vivo (SA se topverkoper), die Toyota Etios, Kia se Rio en die Hyundai i20 – almal formidabele mededingers wat spesiaal vir die bekendstelling van die Chery J2 aangekoop is.  Maar die Chery J2 is beslis ‘n waardige toevoeging tot hierdie voertuigklas veral as sy uiters mededingende prys van N$129 900 in ag geneem word.

As jou geduld ruimte bied vir ‘n ietwat luierige klompie perde in die Chery J2 se metaalstal en geld maar soos gewoonlik knap is, hoef jy nie verder te soek vir uiters bekostigbare, veilige en betroubare wiele nie.  Voeg daarby nog ‘n vyfjaar/120 000 waarborg (langer as enige ander Chinese model) en ‘n twee jaar/30 000 km diensplan, en alles sal reg lyk, altyd reg.

Leave a Comment