Padtoets: Chery Tiggo 4 Pro Elite DCT outomaties

Chery neem die mark oor

As een van die nuwe Sjinese vervaardigers in Suider-Afrka, neem Chery beslis die voortou met ’n veelfout van modelle. Dink maar net aan Chery se mees bekende naam, die Tiggo, asook ander sub-name soos die Omoda, Jaecoo, en die komende Jetour.

Aanvanklik het die Sjinese vervaardiger gesukkel om ’n naam te skep in Suider-Afrika, maar in 2021 het dit die Afrika mark met ’n storm gevat, te danke aan sakpas produkte.

Die kleinste Tiggo is geensins anders nie, siende dat dit geprys is teen R415 900 (met ‘n 5-jaar / 150 000km waarborg en 10-jaar / 1 miljoen km enjin waarborg, sowel as ‘n 5-jaar / 60 000km diensplan), en al die nuutste luukshede bevat waarvoor gevra kan word.

Die 1.5L (4-silinder) turbo-petrol enjin is haastig, dog gemaklik op die oop pad. In die stad/dorp skop die 108kW en 210Nm vinnig in, veral in die eerste rat. Die DCT (dubbele-koppelaar) outomatiese ratkas is uiters goed gepas vir die oop pad en sal selfs ’n algehele brandstof verbruik van 8.5/100km lewer (beter as die vorige CVT variante).

In die dorp is hierdie egter omgekeerd, siende dat die bestuurder redelik ligvoets aan die pedaal sal moet raak om nie die voorste bande skeeuend te laat wegspring nie. Uiteraard stoot hierdie die brandstof verbruik redelik hoog.

Die bogenoemde is egter die enigste negatiewe wat ons met hierdie voertuig kon vind. Hierdie SUV mag dalk klein lyk maar is uiters prakties, siende dat dit 340L se kattebak spasie het. Met die agterste stoele platgeslaan kan hierdie vermeerder word na 1100L.

Soortgelyk kom die 1.5T Elite DCT outomatiese model ook met ’n draadlose selfoon laai platform, ’n tweede klimaat beheer raakskerm, sowel as selfoon konneksie. Die voertuig se funksies (soos die sondak) kan selfs met ‘n stemgreep beheer word.

Die Tiggo 4 Pro Elite is gemaklik om te bestuur, met die stuur wat lig hanteer kan word, terwyl die leer-bekleedte sitplekke gemaklik is met genoeg been- en kopspasie vir die voorste en agterste insittendes.

Verder kom die Elite DCT outomatiese weergawe ook met 6 lugsakke (inplaas van die normale 4), ABS, elektroniese stabiliteits beheer, elektroniese bult bystand, banddruk sensors en elektroniese afdraend bystand.

Die DCT ratkas is beslis ’n opgradering teennoor die rasende CVT. Die laasgenoemde ratkas is natuurlik bekend vir goeie brandstof ekonomie, dog verkies ons veel eerder die DCT, wat stiller, meer egalig, en meer ekonomies is.

In die stad sal dit tyd neem om gewoond te raak aan die “springende” eerste rat, terwyl die hoofweg ’n fees is met hierdie voertuig.

Chery is besig om die plaaslike mark hand-omkeer te verander, en met goeie rede. Die Tiggo 4 Pro Elite DCT is ’n goeie bewys hiervan. Dit is selde deesdae moontlik om ’n kompakte, praktiese en luukse SUV te kry onder die half-miljoen merk.  

Leave a Comment