Vang die Oomblik!
General Motors is seker een van die vervaardigers wat die vinnigste herstel het en nou groei toon na ‘n moeilike tyd tydens die Amerikaanse ekonomiese krisis ‘n jaar of twee gelede. En die een wat die wa deur die drif getrek het was waarskynlik Chevrolet. En by uitstek die Oosterse aanlegte van die wêreldvervaardiger.
Tydens ‘n onlangse besoek aan Duitsland was dit opvallend dat, behalwe vir GM se Opel, al die Chevrolets daar nie uit die tradisionele VSA kom nie maar wel uit Korea. En soos ons almal weet, is die Koreane seker van dié wat die hardste werk en presteer en is Korea die nuwe Japan. En, Duitse kopers is baie kieskeuring.
Die Captiva is een van die verskeie veeldoelvoertuie wat die laaste paar jaar op die toneel verskyn het en groot gewildheid geniet omdat hulle soveel méér veelsydig is as die tradisionele stasiewa wat by ons deesdae min aftrek kry. En dan het hulle ook nog die praktiese voordeel dat hulle tot sewe persone in gemak kan vervoer.
Die Captiva het ‘n nuwerwetse voorkoms wat hom laat tuis voel tussen die jongste toetreders tot hierdie nismark; ook die heelwat duurder masjinerie uit Duitsland. ‘n Voordeel bó die Duitse masjiene is die groter eenvoud van ontwerp en uitleg van kontroles wat myns insiens ‘n voordeel is; ‘n mens hoef nie eers vooraf ‘n dik handboek deur te werk om uit te vind watter knop doen wat nie.
Wat my betref is eenvoudiger altyd beter! Maar dit beteken nie dat daar afskeepwerk gedoen is met die Captiva nie; die standaardmodel met sesgang-handratkas wat ons getoets het, beskik al die toerusting wat die meeste van ons deesdae as “vereiste” stel: Kragstuur, ‘n stuurwiel wat beide horisontaal en vertikaal kan verstel en ‘n sitplek wat vir hoogte verstelbaar is, lugreëling, elektries-verstelbare spieëls en ‘n gawe bonus – ‘n waarskuwing as jy agteruit ry en naby ‘n hindernis kom. Vir ons ouer persone is hierdie gerief belangrik!
Aan die binnekant is daar gemaklike sitplekke en genoeg ruimte asook ‘n uitstekende klankstelsel met versoenbaarheid met MP3 en die Blou Tand en sulke dinge is. Die uitleg van die instrumente is deur meer as een motorjoernalis gekritiseer as sou dit uit die oude doos wees. Maar dit is subjektief; die meeste ouer mense soek net die knoppies wat koud en warm maak, en harder of sagter. Dus het ‘n “ouer” paneelborduitleg ook voordele!
Die belangrikste eienskappe van alle voertuie is natuurlik die komponente wat die oog nie altyd vang nie. Onder die enjinkap is die 2,4 liter petrolenjin wat 123 kW teen 5 600 rpm ontwikkel en 230 Nm beskikbaar stel teen 4 600 rpm.
Vir ‘n veeldoelvoertuig is hierdie rewolusies aan die hoë kant maar die sesgang-handratkas is ‘n plesier om te gebruik en word optimale verrigting onder alle omstandighede verseker as die ratkas reg gebruik word..
Hierdie enjin-ratkas kombinasie stel volgens GM die voorwielaangedrewe Captiva in staat om van 0-100 binne 10,5 sekondes te versnel en die naald by 190 km/h te laat draai as die nood hoog is. Boonop maak hulle daarop aanspraak dat stadsgebruik ‘n verbruiksyfer van 11,8 l/100 km kan gee met ‘n oop pad verrigting van 7,2 l/100 km. Die algemene siklus is 8,8 l/ 100 km. Nie sleg vir ‘n sewesitplekker nie.
Baie belangrik is rygemak op slegte paaie. Met wederhelfte wat ‘n rugprobleem het, het ‘n lang Sondagrit na Tulbagh, oor grond, slegte en goeie teerpaaie, slegs gunstige kommentaar gelewer. Die suspensie is ferm genoeg om sportief gery te word sonder om ‘n stamperig te wees. Kombineer hierdie eienskap met die outomatiese (duurder) weergawe en pensionarisse mag ook in die Captiva belangstel!
Die standaard veiligheidstoerusting is eweneens indrukwekkend met ABS-remme met elektroniese remkragverspeiding, elektroniese stabiliteitsprogram wat bestuursfoute vanself korrigeer, ‘n elektroniese handremwerking en dan ook elektroniese hulp as kwaai afdraandes aangepak word of daar teen ‘n heuwel weggetrek moet word.
En as daar regtig fout kom is daar lugsakke en sysakke wat die insittendes in ‘n botsing sal beskerm en die impak verminder. Nog ‘n veiligheidsfaktor is die gebruik van ‘n net wat die bagasie van die kajuit skei as die heel agterste sitplekke nie gebruik word nie. En met die heel agterste sitplekke in posisie, is daar 103 liter pakplek beskikbaar wat vergroot tot 1 577 liter as die sitplekke platgeslaan is. Spasie vir Afrika.
Wat kos hierdie nuttige veeldoelvoertuig? Die LT intreemodel sal die koper N$299 900 laat opdok maar daarmee kry hy ook ‘n belangrike 3-jaar of 60 000 km diensplan wat beteken dat hy geen dienskoste vir hierdie tydperk sal hê nie. Verdere gerusstelling is dat die algemene waarborg vir 5-jaar of 120 ooo km geld en ook teen roes gewaarborg is vir ‘n volle 5 jaar, ongeag die afstand wat die Captiva afgelê het.
Met General Motors se landswye handelaarsnetwerk, ook in die buurlande, is dit miskien tyd om weer na die beproefde Chev te kyk wat lankal deel is van ons volkskultuur; al kom hulle nou, soos die Wyse Manne, uit die Ooste!