Padtoets: Chevrolet Sonic Sedan

Chevrolet Sonic Sedan

Wanneer daar oor ‘n Chevrolet of Ford voertuig gepraat, geskryf of bespiegel word sal dit altyd by die huidige laaste linie generasie Suid-Afrikaers  nostalgiese herinneringe van toentertydse kinderjare oproep. 

Chev was beter as Ford, of dan andersom, want die Chev-mense was, by wyse van spreke,  aan die regte kant van die politieke draad en Ford dus aan die anderkant.!  Die oorsprong van hierdie “volksdispuut”” hiervan behoort opgeskryf te word in die annale van die Afrikaner se kultuurgeskiedenis!

Die wortels van hierdie mededinging  het sy ontstaan in die nimlike hartland van Chev sowel as Ford, naamlik in Detroit in die VSA, die motorhoofstad van die wêreld, waar die Chevrolet Motor Company in 1911 hulle eerste motor, die Classic Six, bekend gestel het, gelê.  Die maatskappy het van krag tot krag gegaan en spoedig die Model T Ford as topverkoper vervang en daarna die motormark vir 40 jaar tussen 1936 en 1976 oorheers.

Vandag is een van elke sestien motorvoertuie in die wêreld se paaie ‘n General Motors-produk en het die handelsnaam sinoniem geword met kwaliteit, betroubaarheid en waarde vir geld.  Dit is dan ook hierdie kwaliteite van sy voertuie wat meegehelp het om General Motors weer op die been te bring nadat die maatskappy gesukkel het om gedurende die stram en moeilike ekonomiese tye drie of vier jaar gelede kop bo water te hou.

Volgehoue produksie van kwaliteit modelle oor die afgelope vyfjaar het egter hierdie spook besweer en GM weer op die wenpad geplaas.  Hier kan maar net gedink word aan die reeks van Corsa modelle, die Spark, Aveo, Cruze, Sonic, Captiva en veral die nuwe Chevrolet bakkie wat as verbeterde model van die Corsa bakkie die halftonmark al vir etlike jare oorheers.

Die internasionale motorwêreld is ‘n slagveld waarop daar menige wrakke begrawe lȇ en wat vir baie jare deur Amerika, Duitsland, Frankryk en ander kleiner Europese lande en later Japan en Korea oorheers is.  Ander Oosterse lande soos China tree nou ook in al hoe groter mate tot die slagveld toe.  Teen die agtergrond van hierdie hierdie uiters kompeterende mark het Chevrolet sy nuwe impakspeler, die Chevrolet Sonic, op die veld losgelaat.

Die Sonic-modelreeks is beskikbaar in ‘n luikrug- en sedanmodel met petrolenjins van 1.4cc, 1.6cc en in die geval van die luikrugmodel ook ‘n 1.3 turbo-aangedrewe dieselweergawe met ‘n sesgangratkas wat sonder twyfel  ‘n treffer gaan wees.  In die geval van die vierdeur sedanweergawe is die 1.6 ook met ‘n outomatiese ratwisseling beskikbaar.

Kraguitset van die verskillende grootte enjins beloop 74kW en 85kW/6000 en 130Nm en 155Nm/4000 by die 1.4- en 1.6- petrolenjins onderskeidelik en 70kW/4000 met ‘n verdienstelike 210Nm/1750-2500 rpm van die 1.3-dieselmodel.

Brandstofverbruik is uiters ekonomies by beide modelle en wissel vanaf 5.8 liter/100km by die 1400-model tot 6.5 liter/100km by die 1600-model.  Die 1300cc dieselmodel met ‘n sesganghandratkas lewer volgens amptelike toetse ‘n merkwaardige 4.6 liter/100km en selfs die uiters ekonomiese verbruik van 4.0 liter/100 km op buitestedelike paaie.

Die toetsmotor in dié geval was ‘n 1.6-sedan en die eerste estetiese indrukke was uiters gunstig.  Die kenmerkende Chev-embleem op die dubbel sierrooster word omsoom met aggressiewe en uitdagende lyne.  Die voor- en agterliggroepering tesame met die inham in die bakwerk wat vanaf die voorwiele in ‘n stygende kurwe na agter strek  gee ‘n indrukwekkende struktuur aan die Sonic se uiterlike voorkoms.  Die 15-duim allooiwiele vul nie heeltemal die wielruimtes nie maar dra juis by tot ‘n aggressiewe voorkoms.

Die binneruim is eweneens goed beplan en afwerking is van die beste gehalte.  Die instrumentepaneel is goed geplaas en alle relevante data met die eerste oogopslag duidelik waarneembaar.  Standaardtoerusting sluit in lugreëling, elektriesbeheerde vensters, ‘n vierluidspreker radio/CD/MP3-speler, getinte vensters, ‘n hoogte- en reikverstelbare stuurkolom, hoogteverstelbare bestuursitplek en ‘n aanboordrekenaar is standaardtoerusting by alle modelle.

Veiligheidsaspekte van die Sonic sluit in ‘n 5-ster Euro NCAP-gradering wat te danke is aan ‘n versterkte staalkonstruksie van die bak wat ‘n gewig van meer as viermaal sy eie gewig kan dra, ‘n voetganger sensitiewe voorkant in geval van ‘n botsing sowel as elektronies beheerde ABS en EBD remondersteuning.  Die bestuurder en passasier word beide van voor en van die kante deur lugsakke beskerm in geval van ‘n botsing.

Die Sonic skep die algemene indruk van stylvolle ontwerp, kwaliteit afwerking die betroubaarheid wat sinoniem met Chevrolet is en dan uiters bekostigbaarheid soos blyk uit onderstaande pryse.

Die prys van die 1600cc handratmodel is N$171 600, dié van die outomatiese weergawe N$181 600 (wat ook die prys van die 1.3 dieselmodel is) en dié van die 1400cc model N$159 900.  Hierdie pryse sluit belasting in.  Die waarborg, tesame met ‘n padbystandplan, is geldig vir 5 jaar/120 000km terwyl die modelle vir 5 jaar/onbepaalde afstand teen roes gewaarborg is. ‘n Diensplan is vir 3jaar/60 000km  beskikbaar.

Leave a Comment