Klopdisselboom!
Klopdisselboom? Ken die jong geslag nog die uitdrukking wat kom uit die tyd toe perdekarre nog hoogmode was? As ‘n perdekar regtig lekker geloop het, was daar ‘n balans tussen die trek van die perde en die spoed van die kar en het die disselboom so ‘n reëlmatige klopgeluid gemaak. Dan was die wêreld reg!
Nog so ‘n stukkie geskiedenis; André Citroën se Hollandese oupagrootje was Jacob Limoenman, maar met die Franse wat op ‘n stadium hulle land oorgeneem het, moes almal “ordentlike” vanne kry en het die gepaste, maar meer fancy familienaam Citroen ontstaan.
Dit is waar die “boom” inkom in disselboom en ook die simbool van die twee skuinserige strepe wat die logo van die maatskappy is; dit simboliseer ‘n boom met twee takke. Die “e” gedeelte van Citroen het mettertyd ook ‘n deelteken bygekry om Citroën te word – en daarmee meer Frans te klink!
Dit bring ons by die huidige Citroën C4 Aircross nutsvoertuig met sy uitstekende grondvryheid waarmee slegte grondpaaie en middelmannetjies met ‘n geruste hart gery kan word; soos in die ou dae met die Citroën ID en DS reekse waar die beweeg van ‘n hefboompie die motor ‘n hele paar duim laat lig het as die pad ellendig begin raak het.
Die C4 Aircross deel sy onderstel met dié van Peugeot en Mitsubishi maar die byderwetse bakwerk is uit-en-uit Frans. Binne is daar natuurlik die volle reeks van by – en toebehore waarop die jonger generasie aandring; veral die wat gesinne het en die ekstra spasie van ‘n nutsvoertuig maksimaal wil benut.
Onder hulle tel ‘n verkoelde paneelkassie wat deel vorm van die lugreëling van die motor, ‘n ekstra 12 volt punt vir die kinders se I-Pads en speletjies vir die langpad en dan natuurlik die klankstelsel waar daar voorsiening gemaak word vir ‘n USB-poort en ‘n veelsydige klank koppeling om die jongspan se jongste treffers te kan luister.
Van groter belang vir die volwassenes is die Bluetooth versoenbaarheid om wettiglik telefoongesprekke te voer in ons provinsie waar selfone teen die oor summier gekonfiskeer word!
Soos te verwagte van Franse motors word daar ‘n hoë premie op veiligheid geplaas en beskik hy oor ‘n veiligheidsel om die insittendes in die geval van ‘n erge botsing te beskerm. En as die ongeluk gebeur, is die sewe lugsakke daar om die insittendes almal te beskerm.
Om ongelukke egter te help voorkom is die ABS-remme ‘n gegewe en ook die elektroniese remverspreiding en remhulp in geval van noodstoppe om die remme hulle deel te laat doen op die mees effektiewe manier.
Verder is daar ISOFIX ankerpunte vir goedgekeurde kindersitplekke. Boonop is die bagasieruim groot en is daar plek vir 384 liter bagasie, sonder dat die volgrootte spaarwiel ekstra spasie opslurp.
Maar hoe lyk dit onder die enjinkap? Die Aircross is met ‘n suinige maar wakker 1,6 turbodiesel enjin toegerus wat ook besonder “skoon” loop met ‘n uitlaatgassyfer van 119 gram per kilometer. Die koper het nou dus ‘n keuse tussen ‘n 2-liter petrol en die dieselmodel wat 84 kW teen 3 600 rpm ontwikkel en ‘n wringkragsyfer van 270 Nm wat teen so laag as 1 750 rpm vrygestel word.
Hierdie wringkragsyfer is natuurlik ideaal vir mense wat sleepwaens en bote trek. Die krag word in die toetsmodel na die voorwiele oorgedra deur ‘n outomatiese sesgangratkas wat sy werk stilweg maar doeltreffend verrig. Ouer persone wat al die jare met ratte moes sukkel gaan van hierdie eienskap hou!
Citroën maak daarop aanspraak dat met die kombinasie van die suinige enjin en die nuwe ratkas dit moontlik is om ‘n verbruik van so laag as 4,6 l/100 km te behaal. Onder gunstige toetstande is dit bereikbaar maar ‘n verbruik van tussen 5-6 l/100 km is waarskynlik meer realisties.
Daar is ook ander oulike dinge aan boord; onder andere is die tweede ry se verdeelde sitplekke ook verstelbaar vir die helling van die sitplek en kan ‘n meer gemaklike posisie gevind word vir individuele passasiers. Die gevoel van ruimte word ook vergroot deur die (opsionele) panorama sondak met UV strale beskerming. ‘n Skuifraam om die son uit te hou, word elektries beheer.
Die Citroën Aircross reeks word almal gedek deur ‘n 3-jaar/100 000 km waarborg en ‘n 5-jaar 100 000 km diensplan. Daar is ook die moontlikheid om die waarborg to verleng tot 5 jaar.
En wat gaan hierdie Fransman met sy Japannese gene jou uit die sak jaag? Vir N$398 900 kan hy in jou oprit staan.