Padtoets: Fiat Bravo Sport

Op die plaaslike mark is Fiat nou nie een van die groot spelers nie. Maar wat seker is, is die feit dat hy ‘n klompie vurige ondersteuners het en dat Fiat ‘n reeks motors het wat getuig van oorspronklikheid en dat hulle pioniers was op sommige gebiede.

Hier dink ‘n mens aan die moderne diesel drukbuis (common rail) en hulle vermoë om klein enjins wondere te laat verrig. Onthou u die klein Uno met sy turbo wat die manne met die vername stambome van die pad af gery het!

Fiat het onlangs weer ‘n sportiewe nuwe Bravo Sport op die mark geplaas.

Die Bravo het ‘n nuwe voorkoms danksy kosmetiese veranderings wat insluit ‘n nuwe sierroster met metaalafwerking, ligte wat ‘n gerookte voorkoms het en helder-glas rigtingwysers; die soort voorkoms wat indruk maak op die jonger, byderwetse geslag.

Verder is daar praktiese dinge soos die ekstra mis/bestuurligte wat saam met die stuur draai om daardie ekstra lig in die nag te verskaf wanneer draaierige paaie gery word. Hierdie eienskap is in werklikheid ‘n veiligheidsaspek waarin min vervaardigers aandag gee. So ook die 17 duim vellings wat hantering van die motor verbeter. En dan natuurlik die lang lys van veiligheidseienskappe soos ABS, EBD en ESP stabiliteitsbeheer wat die bestuurder se foute vanaf herstel as ‘n draai te vinnig geneem word. Maar die weereens praktiese eienskap is die insluiting van wegtrekbeheer teen bulte, die sogenaamde Hill Holder. Laasgenoemde is belangrik vir regtig oues van dae en jongmense wat so pas hulle bestuurslisensie gekry het en nog sukkel met wegtrek teen die bulte.

Binne is al die luukses en geriewe daar; van sport sitplekke wat vir hoogte verstelbaar is, ‘n stuurwiel met leerafwerking wat ook afstandskontroles bevat, radio/CD/MP3 versoenbaarheid en vir daardie ekstra tikkie sportiwiteit ook metaalafwerking pedale om hom soos ‘n reisiesperd te laat voel. Verder werk alles wat oop en toe maak en verstelbaar is elektries.

Dit is egter onder die enjinkap waar die ware deugde van die Bravo Sport lê. Die 1,4 liter T-Jet enjin, wat van turbo-aanjaging gebruik maak, ontwikkel ‘n wakker 110 kW. Gekoppel aan ‘n sesgang-ratkas is hierdie Italianer ‘n vurige renperd. En dan maak Fiat ook nog daarop aanspraak dat die nuwe knaap lig op brandstof is as daar in ag geneem word dat hy die verrigting van ‘n normale 1,8 of 2 liter motor het; ‘n gemiddelde verbruik van ‘n raps oor 7 liter /100 km.

Synde turbo-aangedrewe te wees, spog die Bravo met genoeg wringkrag teen lae enjintoere; 206 Nm is teen 2 000 rpm beskikbaar. Om hom te laat spring, hoef daar nie deur die ratte gejaag te word nie; die krag is daar. En in ‘n noodgeval, soos wanneer ‘n motor vinnig verbygegaan moet word, is daar ‘n knoppie gemerk “Sport” wat gedruk kan word; daar is dan vir kort periode 230 Nm teen 3 000 rpm byderhand. Baie handig.

Wat verrigting betref maak Fiat daarop aanspraak dat die Bravo Sport van 0-100 km binne 8,2 sekondes sal versnel en die naald eers by 212 km/h sal ophou beweeg. Wat kos hierdie Italiaanse plesierigheid?

‘n Tjek vir N$239 900 sal die ryperd joune maak. Maar daarby in ingesluit Fiat Auto van Suid-Afrika se drie jaar / 100 000 km waarborg wat ook insluit ‘n 3 jaar waarborg op die verfwerk en 5 jaar teen roes. Belangriker nog is die 5-jaar of 90 000 km diensplan. En dan nog ‘n laaste lekkerte van die Fiat Bravo Sport is dat sy diensintervalle 30 000 km is!

Leave a Comment