Geskiedenis: GM

Die Generaal, en die President van die VSA, gee om vir ons planeet!

Dis nie elke dag wag ‘n president van ‘n land self ‘n motor mag bestuur nie, die veiligheidsdienste van die staat hou nie van die gedagte nie. Maar president Obama het nou-die-dag darem die kans gekry om self weer agter ‘n stuurwiel in te klim en waarskynlik die kortste toetsrit in die geskiedenis af te lê – omtrent 12 meter!

Die geleentheid was ‘n besoek aan die Detroit-Hamtramck monteerfasiliteit van General Motors toe hy, baie gepas ‘n swart Chevrolet Volt, van nader kon beskou. Die Volt is General Motors se elektriese motor wat hulle antwoord is op die poging om die wêreld vir die nageslag te bewaar. Maar intussen moet hy maar met sy swaar gepantserde Cadillac oor die weg kom!

En Barack Obama se kommentaar na sy toetsrig? Pretty smooth!

Die Volt het ‘n reikwydte van 540 kilometer wat dit ‘n praktiese voertuig maak en nie net ‘n aarddigheid nie. Die eerste 60 km word die Volt slegs deur elektrisiteit wat in die  16-kWh lithium-ion battery gestoor is, aangedryf. Daarna eers skop ‘n brandstofenjin-generator in wat die battery herlaai. In die praktyk beteken dit dat die meeste pendelaars met slegs batterykrag oor die weg sal kan kom. Weens die veelsydigheid van die Volt is hy so populêr dat produksiesyfers vir die Volt opgeskuif word om 45 000 eenhede teen 2012 te kan voorsien.

Plaaslik help General Motors van Suid-Afrika ook om die koolstof-voetspoor in die land kleiner te maak. Daarvan getuig die onlangse bekendstelling van die klein Chevrolet Spark wat met sy hoë spesifikasie toerusting die mededingers laat regop sit. En dan natuurlik ook die middelslag Cruze wat nou ook met ‘n turbodiesel op die plaaslike mark beskikbaar is. Volgens GM is die gemiddele verbruik in die gekombineerde siklus van stad en ooppad vir die Cruze 2.0D LT so laag as 5,7 liter per 100 km. En wat nou al hoe belangriker word vir Namibiers en Suid-Afrikaners is die uitlaatgasse wat vrygestel word omdat daar belasting is wat nou bykom. Die diesel Cruze se vrystellilng is 150 gm CO2 per kilometer. Hiermee maak ‘n mens ‘n positiewe verskil aan die omgewing. Wat ‘n mens laat dink dat die weglating van die Hummer H3 net in GM se guns kan tel as dit kom by die bewaring van die omgewing.

Nou hoop ons maar net dat die Volt ook by ons van die grond af sal kom. Ons wag nog steeds op goeie nuus dat die plaaslik ontwikkelde Joule ook binnekort hier bemark sal word as ‘n trots-Suid-Afrikaanse produk. Volgens gerugte sal hy wel in die buiteland verkoop kan word.

‘n Ander gerug wat die rondte doen is dat die Frans ontwikkelde motortjie wat met lugdruk werk, deur Tata in Indië gebou sou word. Hierdie gerugte het reeds in 2008 in omloop gekom maar ons het nog nie weer daarvan gehoor nie. Hiervolgens het hy reeds ‘n naam gehad, die MiniCAT 2008. Maar miskien werk die manne nog aan hom?

Leave a Comment