Terug na die toekoms
By wyse van spreke het ek die lewenslig in ‘n ou, groen 1937 Ford V8 die lig gesien. Op daardie stadium het die skoolkinders op Kamieskroon hom al die bynaam “Genade” gegee. Maar loop het hy geloop – al het dit soms ‘n tyd geneem om aan die gang te kom! En toe trou ek ook met ‘n vrou wat uit die Ford tradisie kom.
Fords, en Chevs, was daardie jare die motors om te koop want beter waarde vir geld kon jy nie kry nie. Maar tussen toe en nou het baie gebeur; eers die Duitsers, toe die Japannese en meer onlangs die Koreane en nou ook die Chinese wat toenemend hulle merk op ons paaie maak.
Ons jongste toetsmotor was die Fiesta turbodiesel sedan en ek moes onwillekeurig weer dink aan die oorspronklike assosiasies wat daar met Fords gemaak was, waarde vir geld.
Toegegee, motors en brandstof is nie meer goedkoop nie. En die wat hunker na die ou dae moet ook aanvaar dat motors oor die jare slegs beter geword het en ook “groener”. Oupa Heese se groen V8 was alles behalwe omgewingsvriendelik. Maar op daardie stadium was hierdie moderne idees oor die omgewing nog ligjare weg; al wat getel het was brute krag!
Die nuwe Ford Fiesta turbodiesel is een van die voertuie waarop daar geen omgewingsbelasting betaal hoef te word nie; die sogenaamde CO2 heffing wat die staat help om sy begrotingstekorte aan te vul. Ekologies is hy dus een van die “skoonste” voertuie op die pad.
Die Fiesta, wat baie laat in Suid-Afrika sy opwagting gemaak het, het in Europa op die toneel verskyn as ‘n piepklein motor wat geleidelik gegroei het en volwasse geraak het. Die sedan ding nou mee met die onderste middelklasmotors en is op die oog af seker een van die motors wat modern maar sober vertoon.
Met ‘n vinnige kyk, gaan jy hom verwar met een van die duur Duitsers. Net op sy voorkoms alleen, is hy ‘n wenner. En die bekende blou ovaalteken met oorlede Henry Ford se handskrif daarop, gee tog ook aan hom ten minste ‘n Boere-prestige.
Uiterlik is die Fiesta ‘n wenner, maar hoe lyk dit in die kajuit en onder die enjinkap? Die instrumente is almal daar waar hulle hoort, die sitplekke gemaklik en die stuur verstelbaar. Op die diesel is daar ook ‘n goeie klankstelsel om die langpad met die Ford vol kinders kort te maak.
En dan natuurlik ook die veiligheidsdinge soos lugsakke voor vir beide die bestuurder en voorste passasier en ligte wat die bestuurder en passasiers – en ek dink hier veral aan vrouens – in die donker groet en totsiens sê (Al ooit daaraan gedink dat dit in ons land ‘n belangrike veiligheidseienskap is?).
Die geriefies is ook daar; spieëls wat elektries beheer word, lugversorging, en sulke dinge. Al wat kortkom is dat die agterste ruite nog met die hand gedraai moet word!
Die hart van hierdie besondere Fiesta sedan is natuurlik die omgewingsvriendelike turbodieselenjin wat 1 560 cc verplaas en 66 kW teen 4 000 rpm ontwikkel. Wringkrag is voldoende teen 212 Nm wat beskikbaar is by 1 750 rpm. Hierdie krag, gelewer na die voorwiele deur ‘n vyfgang-handratkas stel hom in staat om van 0-100 km in 12,5 sekondes te versnel en die naald te laat draai by 175 km/h.
En die mooi ding van hom is dat hy, volgens Ford, onder normale omstandighede, so min as 4,5 liter diesel elke 100 km sal nodig hê. Dit is nou waar die bekostigbaarheid van die ouer Fords ter sprake kom.
En met brandstofpryse wat deurentyd styg, en boonop al hoe skaarser word, is hierdie ‘n groot pluspunt. Nog ‘n groot pluspunt is dat Ford se verspreidingsnetwerk oor die land en sy buurstate, dit makliker maak vir Ford-eienaars om hulle motors te laat diens.
Van versieningsdienste gepraat; vir die dieselmodel is diensintervalle 15 000 km (petrolmodelle 20 00 km) en is daar by die koopprys van N$197 570 ‘n diensplan van 4 jaar of 60 000 km ingesluit en geld daar ook ‘n algehele waarborg van 4 jaar of 120 000 km op komponente.
Daar is ook ‘n waarborg teen bakroes vir 5 jaar en ook padbystanddiens van 3 jaar. Hierdie dinge tel baie vir diegene wat ‘n aftreemotor koop en ten minste vir vier jaar wil weet dat hulle slegs vir bande hoef te begroot – hoewel die meeste bande deesdae ten minste 60 000 km gaan hou.