Padtoets: Ford Ikon 1.4 TDCi Ambiente

‘n Nuwe Ikon

Een van die eerste motors wat ek vir ‘n koerant of webwerf getoets het was ‘n Ford Ikon, ook ‘n donker-rooi ene, soos die nuwe model wat onlangs ‘n paar dae by my kom kuier het. Destyds was die klein Ford ‘n splinternuwe model op Stellenbos se paaie, en ek onthou ook hoe ek ‘n paar weke later ‘n eenmalige “Sport” model met meer woema getoets het.

Die nuutste Ikon is nog steeds getrou aan sy voorganger se lyne en ongekompliseerde stilering, maar het ‘n paar nuwighede om hom ‘n bietjie meer modern te laat lyk. Sy voor- en agter-ligte is opgekikker, en die Ikon wys nou trots sy eie vorm wat minder lyk soos ‘n 4-deur Fiesta met ‘n kattebak.

Druk ‘n knoppie op die sleutel, gryp ‘n handvatsel en spring in ‘n nuwerige binneruim in wat hope plek vir ‘n jong familie of ‘n paar vriende bied. Die sitplekke is gemaklik en daar is ook genoeg beenruimte vir die agterste passasiers.

Vyf rugbyspelers sal beslis in die Ikon benoud raak, maar twee volwassenes voor en twee kinders agter sal heel tevrede wees. Die kattebak sluk 430 liter van hul vakansie bagasie, maar die agterste sitbank slaan nie plat nie. Of ek was te dom om dit reg te kry.

Die Ikon is maar ‘n intree-model, en mens sal lank soek om leer, hout of ‘n DVD speler te vind. Maar loer gerus na sy prysetiket en gee hom dan ‘n tweede kans;  die nuwe Ford gaan dan baie beter lyk!

Kragstuur, lugversorging, 4 elektriese vensters, voorste lugsakke, twee-kleur bekleedsel, verstelbare stuurwiel, sluitweer-remme met EBD, sentraalsluitstelsel, RDS radio met mp3 CD speler en ekstra sok, en ‘n klein rit-rekenaar is almal deel van die span. Dit beteken dat die Ikon ‘n sterk versoeking in sy mark-segment is.

Onder sy donkerrooi enjinkap het my toetsvoertuig ‘n 1.4 liter turbo-diesel weggesteek wat 50kW (68pk) teen 4000 toere behaal en 160Nm teen 2000 toere vrystell. Sy krag word deur ‘n 5-spoed ratkas na die voorwiele oorgedra, en ek het vinnig opgemerk dat die kleintjie nie ‘n sportmotor is nie!

Verrigting in spitsverkeer is aanvaarbaar, maar ‘n Diesel Ikon sal ‘n slegte keuse wees om met jou verwagtende vroulief hospitaal toe te jaag.  Soos meeste moderne Diesel enjins sal die Ford kragbron vinnig sy turbo-aanjaer gebruik om sy volle wringkrag by lae toere vry te stel, maar is nie baie geïntereseerd in enigiets bó 3000 toere nie.

Die kragontwikkeling is seepglad met amper g’n turbo-gaping, en as ‘n mens net vóór 3000 toere ratte wissel sal jy genoeg versnelling en baie goeie brandstofverbruik opmerk. Hoe klink ‘n gemiddeld van 4.5 liter per 100km?

Die indrukwekkende syfer is ‘n sterk kontras teen sy 0 to 100km/h tyd van 15 sekondes en topsnelheid van 165km/h. Soos genoem, hy’s nie ‘n sportmotor nie. Hierdie motor het ook geen wieltolbeheer nie omdat hy dit nie nodig het nie!

En terwyl ek somtyds na ‘n bietjie meer vuur onder my voete verlang het, was die motor se brandstofverbruik ‘n absolute vreugde. Vir ‘n dag of twee het ek gedink dat die brandstof-naald stukkend was omdat hy nie beweeg het nie!

Dit het ‘n rukkie gevat voordat ek aan die Ikon TDCi se luierige verrigting gewoond geraak het, maar die uitstekende verbruik en goeie padvermoë het my dikwels laat glimlag. ‘n Partytjie anderkant die berg was die perfekte geleentheid vir die Ikon TDCi om nog ‘n keer te spog, omdat hy skielik op die langpad wakker geword het.

Ek was aangenaam verbaas hoe die rooi motortjie skielik haastig was en speel-speel in vierde of vyfde rat by ander motors (en die spoedgrens) verbygetrek het. Die dieseltjie is ‘n heeltemal ander enjin bo 100km/h en nie skaam vir ‘n opdraand of verbysteek nie. Ek is oortuig dat hy sy genoemde limiet van 165km/h maklik sal behaal.

Hoef ek nog te herhaal dat die brandstofnaaldjie nie baie beweeg het nie toe ons weer by die huis aankom? Dit wys vir my dat ‘n TDCi Ikon ‘n spaarsame klein stadsmotor is wat ook graag langpad myle met groot entoesiasme opvreet.

Die Ford Ikon wys sy familie-gene met die goeie padvermoë en gemak van sy veringstelsel wat ek al in grootboet Focus ervaar het. Nes ouboet kan die Ikon maklik meer perdjies onder die enjinkap verdra, miskien ‘n ST uitgawe soos sussie Fiesta? Die enigste ander enjin in die Ikon reeks is ‘n 1.6 liter petrol wat 74kW ontwikkel en 143Nm beskikbaar maak.

Sou jy ‘n Ikon 1.4 TDCi in jou motorhuis parkeer, sal jou bank-balans met N$162 200 krimp. Die Ford het elke 15 000km ‘n diens nodig maar word deur ‘n 4 jaar of 60 000km diensplan gedek. Dit het ook ‘n 4 jaar of 120 000km waarborg.  Enige eienaar sal ook 3 jaar (onbeperkde km) padbystand geniet, en die klein Ford het ook ‘n 5 jaar onbeperkde km roeswaarborg.

Leave a Comment