Ford veroorsaak vibrasies in die bakkie segment
Vroeg in 2024 het Ford hul fokus sterk begin plaas op hul Ranger reeks en met goeie rede. Hoewel Ford se kleiner SUV en luikrug modelle konstant verander, bly die Ranger (sowel as die Everest) ’n top verkoper vir die vervaardiger.

Dog sien die bakkie segment ook ’n redelike verandering, met meer verbruikers, wat die luuksheid van ’n SUV in hierdie voertuie soek, sowel as die vernuf van ’n egte werksvoertuig, wat nog die rowwe terrein kan aandurf.

Ford het dus hul Ranger modelle onder twee strome geklasifiseer.
Die eerste hiervan, fokus meer op die stedelike verbruiker, wat luuksheid aan die kern het. Hierdie stroom eindig met die vlagskip Platinum model (lees meer oor hierdie model), wat teen R 1 120 000 verkoop word.

Kompleet met 21-duim lae profiel wiele, sowel as ‘n 12.4 duim portret-georiënteerde raakskerm, is hierdie voertuig gebou vir die stad. Ford het selfs die laaibak uitstekend ontwerp met ‘n 220V punt. Verder kan die laaibak ook elektronies toegemaak word om enige waardevolle besittings in weg te steek. Diefstal statistieke is immers aan die styg in die stede.

In die ander stroom fokus Ford meer op die “rowwe” aspek. Anders as die Platinum, word die vlagskip model in hierdie stroom, die Wildtrak, vermom met 17-duim hoë profiel wiele en dukker bande. ’n Kombinasie van ander vering en minimale bakwerk aanpassings, maak die Wildtrak meer gereed vir rowwer terreine.
So wat is die Tremor en waar pas dit in?
Die Tremor is ’n ietwat meer bekostigbare opsie in die “rowwe” stroom, wat net onder die Wildtrak reeks inkom. Om die waarheid te sê, is die Tremor eintlik maar net ’n XLT, wat ietwat stewiger voorkom en meer gemik is vir die stofpad.

Teen R978 600 (insluitend met ‘n 4-jaar/120 000km waarborg, 4-jaar padbystand en ‘n 5-jaar anti-roes waarborg) is dit ook ietwat goedkoper as die Wildtrak weergawes, wat oor die R1 miljoen merk grens.
Hiervoor kry kopers die Wildtrak se 17-duim swart allooi wiele, met 265/40 R17 Grabber AT3 bande, sowel as ’n sports buffer, en aliminium trappe teen die deure, sowel as weier wielnisse. Laastens word die die Tremor ook toegerus met plastiek matjies, inplaas van die materiaal matjies, wat vinnig sal vuil raak.

Die Tremor staan ook 30mm wyer en 24mm hoër as ’n normal Ranger.
Verder word die binneruim toegerus met die enorme 12.6 duim portret-georiënteerde raakskerm, foon konneksie, en leer afwerkings rondom die stuurwiel en sitplekke.

Anders as die suurste Wildtrak opsie, word die Tremor toegerus met Ford se 2.0L bi-turbo diesel enjin. Hierdie 4-silinder enjin verskaf oorgenoeg krag (154kW en 500Nm), wat genoeg sal kan lewer om 3.5 ton te sleep en net oor die ton se gewig te kan dra. Gepaard met die ikoniese 10-spoed outomatiese ratkas, is die Tremor uitstekend op beide die lang- en dorps paaie.

En wat sal ’n rowwe Ranger bakkie natuurlik wees sonder 4-wiel trek (met 2-wiel trek, 4-wiel, sowel as kruiprat).
Die Tremor kry ook ’n staal plaat om die onderkant van die voertuig te beskerm, twee voorste herstel hoeke, spoed beheer gerig op 4×4, sowel as ’n rots-sluip funksie (gepaar met die normale verstellings soos “normaal, ekonomies, sleep, glibberige oppervlaktes, modder en sand).

Laastens kry die Tremor ook Bilstein dempers, spesifiek daarop gerig om die Tremor sowat 261mm van die grond af te laat staan.
Die Tremor is ’n uitstekende alternatief vir diegene, wat iets anders as die soortgelyk-geprysde Toyota Hilux GR-Sport III soek. Die 2.0L bi-turbo is oorgenoeg vir die grondpad. Sou kopers egter ’n meer sportiewe opsie soek, is die 3.0L turbodiesel van die Wildtrak, of die 3.0L petrol in die Raptor perfek; waarvoor die beursies maar swaarder gelaai moet wees (vir brandstof verbruik ook).

Die enigste nadeel, soos met die Hilux GR-Sport III, is dat die laaibak nie ’n effektiewe bedekking kry nie (soos met die Platinum model). Hiervoor sal kopers die SMARTcap, of ’n elektroniese laaibak sluiter moet aanskaf, wat die algehele prys nader aan ’n R1 miljoen sal bring.
Vir diegene, wat ’n rowwer Ranger soek, maar nie bereid is om die totale R1,2 miljoen prys te betaal nie, is die Tremor ’n uitstekende opsie.
