Padtoets: Ford Ranger XLT SiT

Ranger bied meer met die XLT SiT

Die Ford Ranger XLT 2.0 SiT turbodiesel mag dalk nie soveel krag soos die 2.0 liter BiTurbo modelle van die Wildtrak, Raptor en Thunder hê nie, maar speel steeds ‘n bitter belangrike rol, wanneer die sukses van die Ford emblem in Suider Afrika oorweeg word.



Die Hilux en Ranger slaan maand-tot-maand vuis in terme van verkope. ‘n Geveg, wat die Ranger in Oktober 2020 oorwin het. Hierdie is nie net te danke aan die uitstekende 10-spoed outomatiese 2.0 liter Biturbo enjins in die hoër vlak modelle nie, maar ook aan die goeie produk lewering met modelle soos die XLT.

Waar die 2.0 BiTurbo 157kW en 500Nm bied, verskaf hierdie enkel turbo enjin van die XLT ‘n goeie 132kW (teen 3500 opm) en 420Nm (tussen 1750 en 2500opm). Hierdie mag dalk aanvanklik na min lyk, maar wanneer in ag geneem word dat hierdie krag teen so laag as 1750 opm ontwikkel kan word, is hierdie XLT eintlik ‘n baie goeie staatmaker.

Dalk nie die vinnigste bakkie op die mark nie, bereik die SiT ‘m 1-100km/h spoed in 10.38 sekondes; sowat 72 split sekondes stadiger as die Thunder en 13 split sekondes vinniger as die Ranger Raptor. Dit neem ook selfs 4 meter minder as die Raptor om to ‘n stillstand vanaf 100km/h te kom.

Dus wys ons data dat die nuwe Thunder die beste van al die Ranger modelle doen, met die XLT SiT, wat tweede kom, net voor die Raptor. Ironies genoeg is die Thunder en SiT gebou vir werkverigting en nie vir spoed nie.

Hoewel die SiT ook teen R657 900 verkoop word (R153 900) minder as die Thunder, is dit geensins slegter af op die langpad nie. Die 10-spoed ratkas verseker steeds ‘n baie gemaklike en seepgladde rit op die oop pad. Binne is die voertuig ook toegerus met genoeg beenspasie in beide rye, sowel as funksies soos Apple CarPlay en AndroidAuto.

Die SiT kom ook met die reeds bekende Sync3 sisteem met navigasie , ‘n Thatcham sekuriteits sisteem, sowel as gelamineerde glas in die kajuit om wind en padgeraas uit te hou.

Waar die verskil tussen die 2.0 SiT en BiTurbo wel inkom, is teen lae revolusies en stedelike stop-staan ritte. Hier lewer die BiTurbo net ‘n klein bietjie meer onmiddelike kraglewering en meer gemak.

In terme van sleep en dra geriewe, word die BiTurbo se kraglewering ook egter meer verkies. Die SiT voel of dit effe meer sukkel met die ekstra gewig.

Sou daaglikse werksverrigtinge en die sleep of dra van swaar goedere, nie die bepalende faktor wees nie, is die SiT ideaal. Met ‘n sagte enjin toon en goeie brandstof verbruik net onder die 10 liter / 100km merk, is die SiT beslis ‘n voorlooper in die huidige mid-mark vir bakkies.

Soos reeds genoem word die SiT teen R657 900 en ‘n 6-jaar / 90 000km waarborg verkoop.  

Leave a Comment