Padtoets: Ford se Ranger 3.2 TDCI Wildtrak 4×4

Ford se Wildtrak beїndruk en rig ‘n sterk uitdaging aan sy mededingers

Suid-Afrika is nou maar eenmaal ‘n land van bakkies wat lankal nie meer net gemik is op ‘n kopersmark van boere nie, maar ook op die stedelike en plattelandse koper wat ‘n multi-funksionele en ‘n veeldoelige voertuig teen ‘n bekostigbare prys soek.

Die begeerte om ‘n bakkie te besit het hedendaags byna dieselfde afmetings begin aannneem as die begeerte om ‘n stukkie grond in die platteland of ‘n huisie by die see te besit. En opvallend is die feit dat dit veral by jonger stedelike werkende mans opmerklik geword het. Die redes daarvoor is waarskynlik so uiteenlopend soos die getal modelle van bakkies wat in die mark beskikbaar is.

Geen wonder dus dat hierdie markkragte aanleiding daartoe gegee het dat haas elkeen van die bekendste voertuigvervaardigers en verspreiders in die land ‘n speler in die bakkiesegment van voertuie op die oomblik is. Dit is ook geen geheim dat van die mees bekende vervaardigers wat die laaste paar jaar tot die mark toegetree het dit gedoen het deels as gevolg van druk en aanvraag vanuit die Suid-Afrikaanse mark. Volkswagen se Amarok se teenwoordigheid hier te lande is byvoorbeeld as gevolg van druk op die vervaardiger in Duitsland.

Hierby kan ook Hyundai en Chinese vervaardigers gevoeg word.

Dit is egter een ding om ‘n speler in die mark te wees maar om saam met die groot honde te blaf is ‘n perd van ‘n heeltemal ander kleur. Oor die laaste klompie dekades het die uitdaging aan ander vervaardigers hoofsaaklik van die oorheerser van die bakkiemark in Suid-Afrika, naamlik Toyota se Hilux, gekom. As ‘n jarelange kenner en deelnemer aan die Suid-Afrikaanse mark het Ford dit egter oor die laaste paar jaar al hoe meer begin besef en daarom het die manne van die Blou Ovaal met die Ranger reeks oor die laaste vyf jaar vorendag gekom. In ‘n klinies presiese operasie van verfyning, werkverrigting, kosmetiese aansig en ‘n briljante bemarkingstrategie het Ford se Ranger reeks die byna onmoontlike vermag deur Toyota se Hilux gedurende enkele maande van verlede jaar as die topverkoper van bakkies te vervang.

Die Hilux het intussen weer in die eerste plek ingeskuif met die Ranger op sy hake en Isuzu in die derde plek. Maar die stryd duur voort en Ford se volgende skuif was om die verbeterde Ranger 3.2 TDCI Wildtrak 4×4 Double Cab op die Suid-Afrikaanse paaie los te laat wat gedugte teenstand aan die Hilux en ander fabrikate gaan bied. Ná ‘n toetsrit met die Wildtrak het Ford alle rede om met vertroue na die tweestryd uit te sien.

Met die nuwe Ranger het Ford as’t ware op ‘n nuwe en skoon tekenbord begin met die fokus op ‘n optimum kombinasie van werkverrigting, veiligheid, bestuursgemak asook ‘n uiters luukse bestuurskajuit. Laasgenoemde kan beslis te eniger tyd met dié van die beste passasiersmotors vergelyk word. Dit bewys ook Ford se voorneme om nie met sy nuwe Wildtrak net op robuuste plaaswerk en ernstige 4×4 te fokus nie, maar ook op ‘n baie breёre funksionaliteit wat op die stedelike familie gemik is.

Die dualiteit van die vlagskip Ranger kom duidelik na vore as daar na die volgende statistieke gekyk word. Die voertuig kan 3 350 kg sleep en deur 800 mm water beweeg as gevolg van sy grondhoogte van 237 mm. Daarby is daar elektroniese beheer oor die sleepwavrag wat gesleep word, remkragbystand wanneer met ‘n swaar vrag heuwelaf gery word en teen ‘n heuwel weggetrek moet word terwyl sewe lugsakke vir ekstra veiligheid sorg. Elke moontlike en moderne tegnologiese veiligheidsmaatreёl is deel van die Ranger se veiligheidsopset en het dan ook aan hierdie besondere bakkie die hoogste Europese veiligheidsgradering besorg.

Wanneer dit by algemene padgedrag, (lae profile 18” bande) op teer- of grondpad, bestuursgerief en luukse kenmerke kom, is die nuwe Wildtrak Ranger beslis in ‘n klas van sy eie. Sy afmetings van 5 270 mm in lengte en 2 163 in breedte is deur Ford se ingenieurs gebruik om optimale ruimte aan tot vyf insittendes te verskaf. Leerafwerking aan die binneruim en elektronies verstelbare voorsitplekke verskaf ‘n luukse en warm atmosfeer.

Ook die uitgebreide en mees modern luukse kenmerke van die Ranger Wildtrak plaas hom beslis in die boonste klas. Om enkeles te noem: die elektroniese stuurmeganisme verskaf laankontrole wat voel asof ‘n onsigbare hand die bestuurder in sy gekose baan indwing sou jy begin afdwaal, waarskuwingsligte en ‘n alarm begin verwoed reageer as die bestuurder teen ‘n té hoё spoed op die voertuig voor hom sou afpeil, hoofligte reageer outomaties op aankomende voertuigligte in die nag, reёnsensors sorg vir gekontroleerde skoonvee van die voorruit, ‘n moeё bestuurder sal gewaarsku word om af te trek vir rus, temperatuur in die binneruim word outomaties beheer, afstandsensors voor en ‘n trukameraskerm verleen bystand met parkering, met ‘n 8 duim-aanraakskerm kan die 6-luidspreker klank- en aanboordrekenaarfunksies beheer word en verskeie kragpoorte word voorsien, en les bes, ‘n 230/150W kragoorskakelaar asook een 12V kragpunt voor sowel as een agter.

Die 3.2 liter vyfsilinder enjin van die Wildtrak Ranger het ‘n maksimum kragverskaffing van 147kW en 470Nm wringkrag wat deur ‘n sesspoed outomaties ratkas na die aandryfpunte versprei word. Brandsofverbruik word as 8,9l/100km aangegee wat miskien effens aan die optimistiese kant is.

Die prys van die Ranger Wildtrak 3.2TDCI 4×4 Double Cab A./T is N$509 000 wat BTW insluit.  Daarby kom ‘n omvattende waarborg van 4 jaar/120 000km,’n 5 jaar/100 000km diensplan, 3 jaar padbystand en 5 jaar/onbeperkte km waarborg teen roes.

Leave a Comment