Padtoets: Ford Tourneo 2.2TDCi LWB

Sederberg Beproef!

Normaalweg durf ons altyd die Sederberge met ‘n 4X4 voertuig aan om ons geliefde ent pad tussen Matjiesrivier en Wupperthal te kan ry. Hierdie keer was dit anders want die geskeduleerde toetsvoertuig was ‘n nuwe Ford Tourneo bussie met sitplek vir agt, en belangriker nog, pakplek vir bagasie vir agt mense. Ondanks die vier vrouens se bagasie was daar nog steeds ekstra pakplek!

Dié van ons wat heelwat ouer is as die gewone groep lesers, sal nog Ford se Transit Wonderbakkie (en bussie) van die middel-sestigs onthou. As jong onderwyser op Upington het ek Sondae altyd ‘n groepie leerlinge met die skool se Transit bussie langs die Oranjerivier vervoer waar hulle opheffengswerk in die gemeenskap gaan verrig het. My herinneringe aan die Ford van daardie jare was dat die ruimte amper dubbeld dié van my eie Kombi was maar dat die vering en rygerief glad nie waffers was nie. So het die Transit by ons gekom en mettertyd weer verdwyn – tot nou onlangs. Intussen het ek darem oor die jare opgemerk dat die Transit nog lank ná sy verdwyning by ons ter lande in Duitsland nog altyd gewild was, en om een of ander rede, veral by groot Turkse families.

My kennismaking met die nuwe Ford bussie met sy lang as-afstand was ‘n groot en aangename verrassing; veral toe ons almal, en hulle amper oordadige bagasie, ingelaai het en die langpad gevat het. Die 2.2 liter turbodieselenjin, gekoppel aan ‘n sesgang-ratkas, maak die teerpad kort en die brandstof- naald het só stadig gesak dat ek later wantrouig begin raak het en op Citrusdal volgemaak het om seker te wees dat die diesel sou hou vir die terugtog deur Ceres. Met die tenk vol was ek verbaas dat die gemiddelde verbruik met ‘n baie vol vrag 11 tot 12 kilometer per liter opgelewer het. (Ford reken dat die verbruik onder optimale toestande so laag as 6,5 liter/100 km kan wees). Die geheim vir die uitmuntende verbruik is natuurlik die hoë ratverhoudings waar sesde rat teen  2 000 rpm ‘n spoed van 120 km/h beteken! Vir die rekord: die 2.2 liter turbodiesel ontwikkel 92 kW teen 3 500 toere per minuut en 350 Nm is beskikbaar vanaf 1 450 rpm.

Op die teerpad was die gedrag van die Tourneo gelykstaande aan dié van ‘n groterige Duitse gesinsmotor; op die grondpad, en later swak grondpaaie, was die gedrag soos dié van ‘n goeie Japannese 4X4 stasiewa. Dit ondanks die feit dat die 16” bande volgens die voorgeskrewe 3,5 bar voor en 4 bar agter gepomp was. Die suspensie van die Ford is seker van die beste wat daar in hierdie groep nutsvoertuie gevind kan word. Verder was die grondvryhoogte ook so goed dat daar nêrens ‘n pensslepery oor middelmannetjies was nie; swaar vrag of nie.

Aan die binnekant is daar alles wat van ‘n luukse transito of toerbussie verlang word met ‘n oormaat van armleunings, ‘n goeie radio- en klankstelsel en ‘n oulike wegsteekkissie vir die laai van selfone en ander elektriese apparate. Al wat aan die luukse kant kort is ‘n smukspieëltjie vir die voorste passasier. Maar aan die ander kant is BlueTooth standaard en gaan dit byval vind vir persone wat professioneel mense vervoer of ‘n toerbussie vir ‘n professionele toergids. ‘n Opsionele ekstra, wat aan te beveel is; is die lugreëling vir die agterste ses passasiers. Daar is wel ‘n wegvou ruitjie vir die passasiers in die tweede ry se syvenster, maar die heel agterste passasiers mag miskien kla van bedompigheid. ‘n Bonuspunt is dat die sitplekke in die tweede se rugleunings ook kan terugvou om gemak op die langpad te verbeter. Hierdie nuwe Ford wonderbussie is inderdaad ligjare verwyder van die baie basiese Transit van die jare sestig.

Die Tourneo is ‘n veilige voertuig met lugsakke voor en en lugsakgordyne aan die kant, ABS-remme is natuurlik standaard plus elektroniese hulpbystand in ‘n noodgeval. Belangrik ook is die feit dat die deure vanself sluit as weggery word en dat die slotte in geval van ‘n ongeluk ontsluit. Hierdie veiligheidsfaktor kan van lewensbelang wees en word nie altyd vermeld in motorverslaggewing nie. Hierdie verskynsel kan werklik help om vinnig by insittendes uit te kom om hulp te verleen, veral as sekondes van belang is.

Die voorwielaandrywing het hom goed gekwyt van sy taak wanneer daar met so ‘n swaar vrag teen steil bulte op gruispad gery is. Slegs een keer het die klippe effens gespat toe daar teen ‘n skuinste moes weggetrek word. Om die wegtrek te vergemaklik is die bussie egter met wegtrek hulprem-aksie toegerus (Hill Assist) wat baie help om die toere effens te laat klim as daar teen kwaai skuinstes met volle vrag weggetrek word.

Die Tourneo bestuur soos ‘n passasiersmotor; hoe hy egter teen hoë spoed om draaie en los oppervlaktes gaan reageer, is nie tydens hierdie luilekker toets beproef nie! Maar teen ‘n wettige 120 km/h is hy so padvas as wat enige sedan kan wees. Hier kry die Ford 10 uit 10.

Maar hoe lekkerder ‘n voertuig ry, hoe hoër is die prys wat betaal moet word. Teen N$414 700 is die bussie met die groot bagasieruimte nie van die goedkoopstes nie, veral as die lugversorging agter ‘n paar rand ekstra gaan kos. Die korter weergawe, met minder bagasieruimte, verkoop teen N$407 800. En die kampeerentoesias kan ‘n Transit afleweringswa vir N$309 700 koop en dan ‘n ideale kampeerwa van hom maak.

Die Torneo-reeks word gedek deur ‘n fabriekswaarborg van 4 jaar of 120 000 km en ‘n 5-jaar / 90 000 km diensplan. Dit dek ook ‘n Padbystandplan vir 3 jaar en ‘n waarborg teen roes wat vir vyf jaar geldig is.

Leave a Comment