Padtoets: GWM C20R

Vir Autobahn en Plaaspad

Ons het onlangs die kans gehad om die nuwe GWM  C20R ordentlik op die langpad te beproef, teerpad, grondpad en slegte grondpad. Nog nie gehoor van GWM nie; of van die C20R nie?

GWM is die voorste vervaardiger onder die Chinese wat met hierdie nuwe model beslis vinnig veld gaan wen in ‘n baie kompeterende marksegment waar die meer bekende vervaardigers tot onlangs amper ‘n monopolie gehad het. Dit was dan ook so vroeg as 2006 wat ek die eerste klomp GWM bakkies in afgeleë dele van Angola raakgeloop het en gedink het dat hulle nogal heel goed gelyk het en (letterlik) klaargemaakte bakkies vir Afrika was.

Sedertdien het baie water in die see geloop en is GWM teen hierdie tyd al ‘n gevestigde handelsnaam in Suid-Afrika en is daar al meer as 70 handelaars landswyd; ook op afgeleë dorpe in die Noord-Kaap waar al hoe meer boere die bakkies daagliks op slegte paaie beproef.

Die nuwe C20R is ‘n kompakte luikrug en kan maklik uitgeken word aan sy “sterk”sierrooster voor en drukvin met ingeboude misligte. Laasgenoemde item is blykbaar by die Oosterse vervaardigers ‘n groot ding! Verder is daar swart afwerking rondom die wielnisse en dakrelings en skermstroke met konstrasterende silwer wat die indruk skep van ‘n sport-nutsvoertuig. Die 16-duim allooiwiele maak die wielgapings mooi vol en het die voordeel dat die grondvryhoogte ‘n baie ordentlike 172 mm. Dit maak die C20R veral geskik vir grondpaaie waar daar middelmannetjies is wat kan pla. Hoe sê die plaasmense; Sondag kerk toe; Maandag mark toe – met genoeg ruimte as die agterste sitplekke afgeslaan is om die maand se inkopies terug te bring.

Van buite gesien is die bakontwerp modern, en soos my studentedogter sal sê; “oppit”! Verder was sy natuurlik beïndruk met die radio/CD/MP3-klankstelsel met aanvullende en USB-toevoer. Vir ons oueres was die verstelbare stuur en gemaklike sitplekke die belangrikste, so ook die lugreëling en verwarmerstelsel en die elektries-beheerde ruite en spieëls en die klankkontroles wat van die stuurwiel af beheer kan word. En vir diegene wat nie meer lekker kan skat nie; die parkeersensors wat waarsku as daar té naby aan ‘n ander voertuig of obstruksie beweeg word. Al wat nog kort om hierdie GWM dié ideale aftreevoertuig te maak, vir mense wat aan die ouer kant is en die dae van hulle jeug in die diep platteland te gaan verken, is ‘n outomatiese ratkas om die ryery nog makliker te maak!

Maar die C20R is beslis nie ‘n oumensmotor nie! Daar is dinge soos die moderne uitleg van die kurweagtige paneelbord, die pedale met sportiewe aluminium-tipe afwerking en silindriese-voorkoms instrumente. Vir gesinne is daar die agterstesitplekke wat na willekeur op- of afgeslaan kan word en Isofix-babastoel ankerpunte agter. So ook kinderbestande sluitmeganismes vir die agterdeure sodat hulle nie per ongeluk van binne oopgemaak kan word nie. Ook so-iets soos die hoofligte wat verstel kan word as die motor swaar gelaai is.

Die kattebak het ’n gerieflike dubbelvloer ontwerp en die agtersitplekke kan nie net vorentoe vou nie, maar het ook ‘n terugleun funksie; iets wat gewoonlik net in die heel-duurste en groot voertuie gevind word.

Die hart van die C20R is sy 1,5-liter petrolenjin met veranderlike kleptydreëling wat homself reeds deeglik bewys het. Die enjin ontwikkel 77 kW teen 6 000 r/min en stel 138 Nm wringkrag vry teen 4 200 r/min. Dit beteken dan in praktiese terme dat die ratte vryelik gebruik moet word om sy sportiewe gedrag maksimaal te benut. Die krag word deur middel van ’n gladde vyfspoed handratkas na die voorwiele oorgedra. Volgens die vervaardigers kan 7,7 l/100 km as ‘n goeie gemiddelde brandstofverbruik verwag word en is die CO2 vrystellingsyfer 179 g/km.

Die C20R hanteer goed om draaie en die vering is ferm genoeg om ‘n vrag te dra sonder om padgedrag nadelig te beïnvloed. Boonop is daar ‘n hele rits veiligheidseienskappe soos dubbele lugsakke voor, skyfremme op al die wiele en ‘n sluitweerremstelstel (ABS) wat verder ondersteun word deur elektroniese remkragverdeling (EBD) en noodrembystand (EBA). Alles is daar, ook afstandbeheerde sentrale sluiting en immobiliseerder om ekstra  sekuriteit en gerief te bied.

Kritiek? Die binnekant ruik nie soos die duur motors uit Beiere nie. Maar miskien werk die manne daaraan!

En wat kos hierdie elegante grondpad/teerpad plesiertiertjie? Vir N$154 900 is hy joune en kry jy saam met hom ‘n omvattende  3-jaar/100 000 km waarborg, 2-jaar/24-uur padbystand en, ’n eerste vir ‘n GWM Suid-Afrika produk, ’n diensplan van 3-jaar/45 000 km.

O ja; hy kom in oranje, blou, rooi, swart, silwer en wit. Ons rooi toetsmotor is die kleur wat ons sal kies.

Leave a Comment