‘n Chinees om na te kyk?
Chinese voertuie is besig om vinnig hulle merk in Suid-Afrika te maak. Dit is veral op die bakkie mark wat hulle produkte al meer respek begin afdwing. Nou het GWM (Great Wall Motors) die Steed 6 op die SA mark bekend gestel en word saam met die Steed 5 in Namibië en Suid-Afrika bemark.
Die voorkoms van die Steed 6 val dadelik op. Die voorkant met sy chroom sierrooster is prominent en wanneer jy binne sit val die goeie afwerking op. Daar is harde plastiek maar dit pla nie en die pakplek in die middelkonsole en die armlenings by die deure asook die deel bo die instrumente is met sagte materiaal afgewerk. Spasie vir die insittendes is oor die algemeen goed en selfs meer as sommige Japanese mededingers . Die materiaal van die sitplekke lyk en voel duursaam. Oor die algemeen is die Steed 6 se afwerking op standaard met die van sy mededingers.
Die Steed 6 is beskikbaar in twee afwerkingsvlakke, nl die SX en die Xscape. Albei word aangedryf dieselfde 2 liter diesel enjin en albei het ‘n ses spoed handratkas. Die vlak van luukshede en toerusting is redelik hoog en selfs die goedkoper model (SX) het klimaatbeheer, elektriese vensters, kantspieëls wat elektries verstelbaar is en is standard toegerus met ‘n radio en CD-speler wat van die stuurwiel beheer kan word. Dit het ook Bluetooth en ‘n USB-poort.
Die meer luukse Xscape is verder toegerus met ‘n rolstaaf en dakrak en het outomatiese hoofligte en ruitveërs. Vir veiligheid het die Xscape ESP (elektroniese stabiliteitsbeheer) en voor- kant- en gorduin lugsakke tewyl die SX twee lugsakke voor het. Sitplekke met leer is ook standaard in die luukse Xscape.
Die 2 liter diesel enjin ontwikkel 105kW@4000rpm en 305Nm@1800-2800rpm en aandrywing is met die agterwiele. Die wringkrag is minder as die meeste ander dubbelkajuit bakkies, maar is voldoende en ry gemaklik die normale snelhede. In sesde rat verloor die Steed 6 soms stoom teen bulte maar kan vinnig na 5de rat terug gesit word wanneer benodig. Die hoë 6de rat help baie met die redelike goeie verbruik op die lang pad. Volgens GWM kan jy die 8,8 l/100km op die oop pad verwag, terwyl die verbruik ongeveer 10,5l/100km in gekombineerde toestande kan wees.
Die Steed 6 se rit is maar redelik stamperig op ongelyke paaie en dit is veral die agterkant wat nogal hard voel. Die bakkie wat getoets is was heeltemal leeg en mens kan aanvaar dat bv met ‘n paar sakke kunsmis agterop sal dit beter gaan. Dit spreek dus vanself dat ‘n Steed 6 nie baie sal sak onder ‘n vrag nie en is dit nie waarvoor bakkies bedoel is nie? Terselfdertyd voel hy stewig en veilig teen normale hoër snelhede.
Om hom te vergelyk met Japanese bakkies is dalk (nog) nie regverdig nie, maar die Steed 6 is beslis nader daaraan. Al werklike kritiek is dus die rit en die krag teen opdraandes. As hierdie twee aspekte nie vir jou belangrik is nie, dan kan hy sterk oorweeg word. Daar moet onthou word dat die prys bilik is (veral die goedkoper SX model) en so ook die brandstofverbruik. Sy grootste mededinger is waarskynlik die Foton Tunland met sy sterker 2,8 liter Cummins diesel enjin.
Die twee weergawes van die Steed 6 kos N$294 900 en N$319 900 vir die SX en die Xscape onderskeidelik. Hy word verkoop met ‘n waarborg van 5 jaar of 100 000km en padbystand van 2 jaar ongeag die kilometerafstand. Verder is daar ‘n anti-roes waarborg van 10 jaar. Die Steed 6 moet elke 10 000km gediens word (of een keer per jaar). ‘n Diensplan van 5 jaar of 60 000km is opsioneel.