Padtoets: GWM Tank 300 HEV

GWM se Tank 300: Uitstekend, maar ’n moeilike mark

Chinese vervaardigers is tans besig om die plaaslike voertuig mark oor te neem, met Europese vervaardigers, wat te midde van invoerskostes, net eenvoudig nie kan byhou nie. Met die nuutste tegnologie en algehele merkwaardige pryse, is meeste van hierdie voertuie ’n sakpas alternatief, veral tydens ’n tydperk van geweldige finansiële kommer.

Soos met enige nuweling in die mark, en veral in die voertuig mark self, is betroubaarheid die grootste vraagteken. Ongelukkig kan ons as motorjoernaliste nie ’n werklike opinie hieroor lig nie, siende dat ons selde ’n voertuig toets na 20 000km. Ons kan dus net spekuleer en dit met die huidige staatmakers in die mark vergelyk.

GWM se nuwe Tank 300-reeks bied aan ons een van hierdie kopsere. Met die SUV mark, wat tans neig na ’n “retro” boks ontwerp, staan voertuie soos hierdie Tank redelik uit. Dit lyk anders, trek aandag, en bied ’n alternatief tot die huidige (om eerlik te wees) vervelige SUV mark.

In ’n land waar vêr afstande tussen dorpe egter betroubaarheid verg, kraai die ou bekende vervaardigers egter nogsteeds koning.

Die Tank 300 reeks in eie reg is ’n uitstekende voertuig. ’n Veld voertuig propvol tegnologie, met genoeg spasie, en ’n gemaklike en luukse binneruim. Ons vlagskip toetsmodel het ook nog ’n hibriede stelsel en ‘n 9-spoed outomatiese ratkas (8-spoed outomaties in die ander twee modelle) by gekry. Die hibriede stelsel self bring dus ’n totaal van 255kW en 648Nm uit die 2.0L turbopetrol enjin (162kW en 380Nm in die gewone Tank 300 modelle).

Die slegte nuus is egter dat die turbopetrol egter swaar op brandstof sal wees met ’n algehele verbruik van 11L/100km in die stad en ’n totale afstand van ongeveer 490km uit elke tenk. Selfs met die hibriede sisteem is die Tank HEV dus net so swaar op brandstof soos dié van ’n Toyota Fortuner terwyl die brandstof tenk effens kleiner is.

’n Moeilike mark om te betree

 Elk van die 3 Tank 300 voertuie in die reeks bied volledige 4×4  en 4 kruiprat. Terwyl die “Super Luxury” sowel as die “Ultra Luxury” ‘n 8-spoed outomatiese ratkas in het, huisves die “Super Luxury HEV (hibried)” ‘n 9-spoed outomatiese ratkas. Elkeen kan 2.5 ton sleep en het 224mm se grondvlakhoogte.

Ons is jammer oor die vuil kattebak, dit was beslis ‘n klein Kersfeesboompie wat so gemors het. Geseende Kersfees van almal by NamWheels!

Die nadeel kom egter in sodra die prys en stoor spasie teen mekaar opgemeet word. Elkeen het twee sitplek rye en kan 400L se bagasie stoor (1635L as die tweede ry platgeslaan word). Die reeks se pryse strek ook vanaf R725 950 tot R851 950 (7-jaar waarborg en 5-jaar diensplan; met ‘n 8-jaar waarborg vir die HEV sisteem).

In eie reg is hierdie ’n uitstekende lewering, maar in ’n mededingende mark kan GWM dalk dit moeilik vind. Kom ons vergelyk dit met die drie huidige leiers in die mark:

 Toyota FortunerFord EverestIsuzu MU-X
Sitplek rye333
Prys (intreevlak 4×4)R907 700R974 800R902 700
Brandstof tenk80L (1013km)76L80L
Kapasiteit en ratkas2.8LGD- 6-spoed outomaties2.0L Bi-Turbo 10-spoed outomaties3.0L Turbo 6-spoed outomaties
Pakplek718L met die derde ry platgeslaan898L met die derde ry platgeslaan1119L met die derde ry platgeslaan
Trek krag3.5 ton3.5 ton3.5ton
Grondvlak hoogte279mm226mm235mm

Die Tank 300-reeks is dus goed geprys, maar bied egter net twee sitplek rye. Dit is ook permanent in 4-wiel trek, wat dalk groot en deels verantwoordelik is vir die hoë brandstof verbruik. Verder sal die kattebak spasie ook net 400L wees met altwee rye opgeslaan, terwyl die ander drie selfs twee keer soveel sal kan vat.

Genoeg van die vergelyking; kom ons kyk na die Tank 300 self

Luuksheid is aan die orde van die dag met hierdie voertuig. Binne voel dit kompleet soos ’n luukse Duitse 4×4, met gemaklike leer afwerkings, ‘n 12.3 duim raakskerm en ’n elektroniese inligting skerm agter die stuur.

Verder is daar ’n sondak, verhitte stuurwiel, en selfs ’n massering funksie. Verder huisves dit ’n puik 9-luidspreker Harman Kardon klanksisteem, sowel as draadlose selfoon konneksies en ’n laaistasie. Die voertuig het selfs ‘n 360-grade trurat kamera, sowel as 12V en 220V punte in die kattebak.

Daar is ook nie ’n tekort aan veiligheid nie, met die Tank 300, wat 5 sterre losgeslaan het, te danke aan die 7 lugsakke, baan wisseling bystand, aanpasbare spoedbeheer, en agt parkering sensors.

Hoewel die Tank opleef teen die reusagtige voorkoms, hanteer die voertuig uiters gemaklik, met die stuur, wat lig en gemaklik is.

Hierdie is ’n voertuig gebou vir gemak!

Die Tank 300 is ’n uitstekende voertuig in eie reg, maar in ons eerlike opinie sal ons die basiese “super Luxury” model aanbeveel teen R725 950. Terwyl die hibriede sisteem genoeg wringkrag (648Nm) verskaf om enige ander groot SUV te laat les opsê, is dit net te duur (R851 950) in vergelyking met die 7-sitplek mededingers in die huidige mark.

Die brandstof verbruik is ook verbasend hoog vir ’n HEV model, terwyl die sleep vermoëns die ekwivalent is van ’n Isuzu 1.9L dubbelkajuit bakkie, wat tans onder die R800 000 merk verkoop word.

GWM is al vir 16-jaar in Suider Afrika, ’n bewys van betroubaarheid; en in terme van ’n groot, 5-sitplek 4×4 SUV sal ons die GWM Tank 300 as ’n gunsteling sien, mits die prys effe meer gepas is.

Leave a Comment