Vir ‘n Baldadige rit
Daar kon beswaarlik onlangs op ‘n beter roete vir ‘n toetsrit met die nuwe Honda Ballade besluit word as die R62 wat mens deur die Klein Karoo vat. Die hoofpad is soos gewoonlik in ‘n goeie toestand en so ook van die grondpaaie waar die Ballade werklik uitstekend op ‘n onlangse toetsrit presteer en hanteer het.
Hoekom beswaarlik ‘n beter roete en ‘n baldadige rit? Die Klein Karoo het gedurende September vanjaar homself getooi in ‘n onoortreflike prag en praal van honderde verskillende spesies blomme wat sekerlik nog nooit in menseheugenis gesien is nie. En die sagte en rustige gewilligheid van die Ballade het op geen onduidelike manier bygedra tot ‘n baldadigheid wat in jou bruis waar voortreflike tegnologie en rygenot gekombineer is met ‘n kwistige simfonie van kleure wat mens verstom laat staan en klein laat voel.
Die Honda Ballade Elegance i-VTEC met sy 1,5 liter enjin is nie ‘n motor om te kyk of jy teen ‘n rekord spoed deur die draaie in ‘n pas kan kom nie. Dit was ook nie Honda se idee nie maar eerder een van ‘n betroubare familiemotor wat veiligheid en gerief bied. Met vyf volwassenes plus bagasie op die toetsrit het die Ballade weliswaar nie die brandstofverbruik gehaal wat deur die vervaardigers op aanspraak gemaak word nie, maar dit moet toegeskryf word aan die feit dat die Ballade in algemene terme ‘n motor van gemiddelde grootte bakwerk en baie bagasieruimte is en wat miskien net te veel verg van die 1,5 liter enjin as sy volle laaikapasiteit benut word.
Die i-VTEC tegnologie waarvoor Honda bekend is, is oorspronklik ontwerp om meer kraglewering te bewerkstellig maar ook vir meer effektiewe brandstofverbruik. Met ‘n baie vereenvoudigde verduideliking kom hierdie tegnologie daarop neer om die tydspan tussen die oop- en toemaak van die inlaat- en uitlaatkleppe te optimaliseer om sodoende aan te pas by die behoeftes van die enjin gedurende lae sowel as hoë revolusies per minuut. Die ideale enjin behoort dus ‘n ten volle veranderlike kleptyd te hê waartydens kleppe op presies dieselfde punt oopmaak , hoog genoeg oopmaak en ook vir presies die regte tyd oopmaak om aan te pas by die revolusies van die enjin.
Die Honda Ballade het sy eerste verskyning in 1982 in Suid-Afrika gemaak en is onder die toesig van Mercedes-Benz gebou en bemark. Die Ballade het onmiddellik byval gevind by Mercedes eienaars wat ‘n middelslag en kompakte tweede motor wou aanskaf maar ook by die algemene motorpubliek.
Daar is geen twyfel dat die nuwe Ballade met groot sukses in die voetspore van sy voorgangers gaan loop en nuwe standaarde gaan stel in terme van kwaliteit, diens en betroubaarheid aan motors in hierdie segment. Hierdie samewerking tussen Honda en Mercedes het egter tot ‘n einde gekom toe Honda teen 2000 self betrokke geraak het in Suid-Afrika met die bekendstelling van die Civic-model. Die modelreeks is uitgebrei met die toevoeging van die Ballade en Honda is oortuig dat die kompeterende prys, gesofistikeerde tegnologie, moderne stilering en indrukwekkende ruimte wat die Ballade bied, die motor ‘n wenner gaan maak. En daar kan geen twyfel daaroor wees nie.
Die nuwe Ballade is toegerus met dieselfde enjin en onderstel as die Civic en die Jazz en is in twee modelle te kry, die Comfort en die Elegance – elk met ‘n 1,5 liter i-VTEC enjin met ‘n kraglewering van 88 kW teen 6 600 rpm en 145 Nm beskikbaar teen 4800 rpm.
Daar is geen uitspattige luukse in die Ballade te kry nie maar daar is ook bykans geen tekort aan die nodige en nuttige bykomstighede nie. Dit geld ook vir die eksterne voorkoms wat eerder aantreklik as oordadig is. Soos reeds vermeld is die Ballade nie ‘n hoë werkverrigting motor nie maar is die topspoed tog in die omgewing van 180 km/h. Die petroltenk se kapasiteit is relatief klein (42 liter) maar, afhangende van spoed en terrein, behoor verbruik onder 8 liter/100km te wees.
Verdere bykomstighede by die nuwe Ballade sluit in: elektronies verstelbare buitespieëls, multi-funksionele stuurwiel met knoppies vir die radio en spoedkontrole, lugreëling, USB en MP3 konneksies, agtersitplekke wat platslaan, IsoFix ankers vir kindersitplekke, ABS-remme, stabiliteitsbeheer en elektroniese voor-en agterremdruk.
Die Ballade se bagasieruimte bied 506 liter pakplek en ten spyte van ‘n volgrootte spaarwiel onder die bagasieruim kan ‘n groterige tas maklik regop staangemaak word. Die petroltenk is onder die voorste sitplekke gemonteer om te help met die balans van die motor.
Comfort modelle se pryse is N$184 000 vir die handratmodel en N$196 900 vir die outomatiese model. Die Elegance modelle is effens duurder naamlik N$193 900 vir die handratmodel en N$205 900 vir die outomatiese model waarby CO2-belasting ingesluit is. Die hoër pryse van laasgenoemde modelle is toe te skryf aan ekstra lugkussings, 16” allooiwiele en ‘n BlueBerry konneksie.
‘n Vier jaar of 60 000km diensplan en driejaar of 100 000km waarborg is standaard by alle modelle en die diensinterval is elke 15 000km, wat goed vergelyk met modelle in dieselfde segment van Toyota, Ford en Mazda.